Nóg oproepe tot aksie ná staatsrede

Staatsrede 2022 by die stadsaal in Kaapstad (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Verskeie landbou-organisasies het na afloop van die onlangse staatsrede dit onomwonde gestel dat die tyd vir die regering aangebreek het om sy optrede te strook met pres. Cyril Ramaphosa se voornemens.

Maroela Media het berig dat TLU SA en die Landbousakekamer (Agbiz) aangedui het dat die tyd inderwaarheid reeds lankal aangebreek het vir die regering om die daad by sy woord te voeg.

Intussen het ʼn koor van ander landbou-organisasies se stemme opgegaan wat dieselfde sentiment steun en die president se voornemens verwelkom.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê dit is bemoedigend om te hoor dat daar erkenning gegee is aan die ondoeltreffendheid van noodsaaklike infrastruktuur, soos spoorwee en hawens.

Hy sê die vertragings wat in die Kaapstadse hawe ervaar word, het die uitvoer van landbouprodukte enorme skade berokken. “Dit is daarom verblydend om te hoor dat Transnet tans daarop fokus om operasionele effektiwiteit van die hawens te verbeter deur bykomende toerusting te bekom en deur nuwe stelsels te ontwikkel om vertragings te verminder.

“Die vervoer van landbougoedere op die spoornetwerk is ook vir Agri Wes-Kaap van kardinale belang vir die vooruitgang van die sektor. Transnet se vennootskap met die privaatsektor om kabeldiefstal en vandalisme op die vragspoornetwerk hok te slaan is daarom vir Agri Wes-Kaap uiters goeie nuus.”

Agri Wes-Kaap ag landelike veiligheid ook as ʼn uiters belangrike kwessie. “Dit is daarom verblydend om te hoor dat daar 12 000 polisielede opgelei en aangestel gaan word. Hoewel die staatsrede hoop vir die sektor bring, is aksie en implementering nou baie nodig,” sê Strydom.

Vrystaat Landbou was wel nie beïndruk met Ramaphosa se verwysing dat die onteieningswetsontwerp in sy huidige formaat steeds op die tafel is nie. Dié organisasie het dit duidelik gestel dat onteiening en ekonomiese groei nie saam loop nie.

“Indien die regering ernstig is om die ekonomie aan die gang te kry, behoort hulle sekere bepalings van die onteieningswetsontwerp te skrap,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).

Hy sê die onteieningswetsontwerp in sy huidige formaat bevat elemente wat beleggers onseker kan maak oor beleggings in Suid-Afrika, wat enige eiendom behels – self intellektuele eiendom.

“Vir té lank het die debat oor onteiening sonder vergoeding beleggers afgeskrik en is dit gebruik as ʼn rookskerm vir die plundering van ons nasionale infrastruktuur. Of die president die sondebokke wat ontbloot is voor stok gaan kry soos belowe, sal die tyd leer.”

Wilken is van voorneme om die regering verantwoordbaar in sy optrede te hou. “Die president het beklemtoon dat ʼn aktiewe en betrokke burgerlike samelewing deurslaggewend vir ʼn bekwame staat en vir ontwikkeling is. Dit is hier waar VL gaan fokus om ons grondvlakstrukture, die landbouverenigings, te bemagtig om aktief deel te neem. Die landbousektor kan die regte strukture vir grondvlakuitvoering van gemeenskaplike planne en aksie daarstel, en ook die ‘waghond’-funksie vervul om die staat verantwoordbaar te hou aan sy staatsrede-2022-beloftes.”

Die KwaZulu-Natalse landbou-unie (Kwanalu) het die fokus op landboukwessies in die staatsrede verwelkom, maar verwag nou dat die regering hom daartoe sal verbind en benadruk dat alle vlakke in die regering vervolgens doeltreffend moet funksioneer.

“Die verval en ineenstorting van staatsdepartemente en munisipaliteite wie se primêre funksie is om dienste en veilige infrastruktuur soos paaie, brûe, spoorwee, veilige water en elektrisiteit te verskaf, is van kardinale belang vir die voortbestaan ​​van die landbousektor,” sê Sandy La Marque, hoof van Kwanalu.

“Ek is bly dat die versekering gegee is dat deurtastende hervormings geprioritiseer gaan word vir toekomstige watersekerheid, beskerming van waterbronne en instandhouding van gepaardgaande, bestaande bates.”

Sy verwelkom die feit dat daar klem geplaas is op die sukkelende ekonomie, korrupsie en die erkenning dat die staat nie die Julie-onrus kon stop nie.

Op ʼn positiewe noot glo sy dat die kommoditeitsmeesterplanne in die suiker- en pluimveebedryf aansienlik sal bydra tot verhoogde beleggings, verbeterde produksie en hervorming.

“Kwanalu, met al sy lede, sal voortgaan om ʼn beduidende rol in sake wat met die landelike en landbousektor verband hou te speel, en eis dieselfde van die regering, belanghebbendes en alle ander betrokkenes om op te tree en ʼn verskil te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Die LAASTE ding wat ek wil he is dat hulle enigsins iets doen. Dinge is erg genoeg soos dit is, ek wil dit nie NOG erger he nie.

casper

Die ANC moet maar eers hulle eie huis in orde kry en dan kan ons weer praat !!

Ashlee

Ek kan nie glo enigiemand steur hulle nog aan die staatsrede nie. Daar word net gesê wat die mense wil hoor en dan is dit afgehandel tot volgende jaar. Geen aksie volg ooit daarop nie. Mors van tyd en geld

SomeOne

teen die tyd wanneer die 12000, waarvan 95% onbevoeg is, met hul opleiding klaar is, word 24000 meer benodig om geleer te word hoe ‘n vuurwapen werk en wat om daarmee te doen