Nuwe dieselprys gaan winteroestyd hard slaan

Foto ter illustrasie. (Foto Stan Peterson, Pixabay)

Die sentrale energiefonds het middel Oktober data bekendgemaak wat daarop dui dat die klein- en groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,05%, met onderskeidelik R1,41 per liter en R1,37 kan styg.

Die nuwe prys tree op 3 November in werking.

Die groothandelprys van diesel sal na verwagting tot R16,52 per liter styg, ʼn 9,2%-styging van die huidige R15,15 per liter. Op ʼn jaargrondslag kom dit neer op ʼn styging van R4,83 per liter, oftewel 41,3% meer as November verlede jaar se R11,69 per liter.

Volgens Agri Wes-Kaap bring dit mee dat ʼn graanboer in die Wes-Kaap ongeveer R96,60 per hektaar meer vir diesel sal betaal as dieselfde tyd verlede jaar.

“Volgens Graan SA word daar tussen 16 en 23 liter diesel per hektaar gebruik vir oes en wegry,” sê  Jannie Strydom, hoof van Agri Wes-Kaap.

“Veronderstel dat daar ʼn gemiddeld van 20 liter per ha tydens die proses gebruik word, en ʼn potensiële toename van R1,37 per liter diesel in November, kan dit ʼn ekstra R27,4 per hektaar kos net weens hierdie een styging.”

Daar word beraam dat die Wes-Kaap vanjaar 575 122 ha se wintergraan aangeplant het. Dit bestaan uit 360 ha koring, 100 000 ha kanola, 84 310 ha moutgars en 30 813 ha se hawer. Dit is 26 628 ha, oftewel 5% meer as verlede jaar se 548 494 ha.

“Wanneer die toename gekwantifiseer word oor die hoof-wintergraan-aanplantings in die Wes-Kaap, gaan daar vanjaar ongeveer R55,6 miljoen meer aan diesel bestee word tydens die oes- en wegryproses. Dié toename word egter toegeskryf aan die stygende prys van diesel én groter aanplantings.”

Strydom sê wanneer die uitwerking van die stygende dieselprys geïsoleer word deur dieselfde oppervlakte aanplantings as verlede jaar in ag te neem, beloop die bykomende dieselkoste steeds byna R53 miljoen.

“Sou die meeste boere reeds genoeg diesel vir die oes- en wegryproses aangekoop het, blyk daar steeds ʼn enorme styging in hul dieselrekening te wees. Die dieselprys was R3,35 per liter, oftewel 28,4%, duurder in Oktober teenoor dieselfde maand verlede jaar. Dit kom neer op ʼn styging van R67 per ha.

Die dieselprysverhogings regdeur die jaar is egter nie die enigste faktor wat boere kniehalter nie. Die landbousektor het ook enorme stygings in van sy ander belangrikste produksiekoste-kategorieë ondervind met elektrisiteit wat op 1 April met 15% en die minimum loon wat in Maart met 16% verhoog is.

Drie kunsmiskomponente, naamlik ureum, monoammoniumfosfaat (MAP) en diammoniumfosfaat (DAP), het onderskeidelik met 52%, 67% en 69% op ʼn jaargrondslag toegeneem. Dieselfde geld vir die koste van onkruiddoders, met glifosaat wat met 144% op ʼn jaargrondslag toegeneem het.

Strydom meen dat stygende brandstofpryse nie net bydra tot die koste-knyptang en gepaardgaande afname in die winsmarges van boere nie, maar ook kan aanleiding gee tot stygende voedselinflasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Piet parys

Ja sinkende skip se gate raak al hoe groter . Vat boere weg en kyk wat gebeur. Werkloosheid 40% ,diefstal korrupsie en die onaantasbares loop vry rond . Voedsel inflasie gaan dubbel syfers toe. Mense moenie die inflasie syfers wat die regering vir julle opdis glo nie . As jy jou aankoop strokies hou sal jy agterkom wat gaan aan . En dis maar die begin…………van die einde