Nuwe goud skiet nou wortel in Afrika

Deur Lukas Coetsee

Lukas Coetsee.

Landbou is die nuwe mynbou. Terwyl verskeie sektore wêreldwyd as gevolg van inperkingsmaatreëls onder druk geplaas is, het landbou sterk gegroei.

Ekonome reken dat landbou in Suid-Afrika met 14% gegroei het, en elders nog meer. In teenstelling met die mynbousektor wat met ongeveer 4% gegroei het, blyk landbou nou die grootste werkgewer vir Suid-Afrikaners asook ander lande se mense te wees, en dra dit verder ook 14% van Sub-Sahara Afrika se BBP by.

Afrika is die tuiste van 60% van die wêreld se bewerkbare grond en beskik oor die potensiaal om nie net in die kontinent se eie voedselbehoeftes te voorsien nie, maar ook om die broodmandjie van die groter wêreld te wees.

Die African Earth Group se agriprojekte in Oos-Afrika het ongekende groei getoon met Eerstewêreldlande wat groot hoeveelhede groente per lugvrag invoer. Aanduidings is dat mense gesonder eetgewoontes met die uitbreek van Covid-19 aangeneem het. African Earth Produce voer ertjies, boontjies, brokkoli en babamielies per lugvrag na Engeland en Europa uit wat ongekende volumes bereik het.

Na Brexit is die Verenigde Koninkryk ook besig om invoerbelasting op vars produkte uit Kenia af te skaf en word aanvaar dat invoere vanaf Kenia sal styg. Die BBC het juis berig dat die wiel gedraai het; die prentjie is verhang met voedselhulp wat nie meer van Engeland na Kenia vloei nie, maar juis andersom met soveel soos vier vlugte per dag na Engeland wat nét groente vervoer.

Omdat ons ʼn konstante lewering van groente vir ons markte benodig, het ons begin met ʼn program van kleinboerontwikkeling waar ons beginnerboere voorsien met ʼn klein lappie grond, opleiding, saad en kunsmis om hulle in staat te stel om ʼn oes te kweek. Die siklus vir boontjies en ertjies is tipies 12 weke, waarvan die eerste vier weke die ontkieming en groei van die plant behels. Ons sluit van meet af ʼn ooreenkoms dat, sou die produk van die regte gehalte wees, ons dit dan teen markprys sal aankoop.

Op hierdie manier het ons reeds 700 boere bemagtig wat gereeld groente aan ons lewer. Die sleutel is dus om hierdie boere te kry om groter oeste aan te plant en kundig te word in die verbouing van produkte wat ons benodig, asook om nuwe kleinboere te vestig en te bemagtig. Op hierdie wyse word nodige ekonomiese groei bewerkstellig en verbouing vergemaklik.

Aangesien Kenia na aan die ewenaar is, kan daar heeljaar geboer word; die hoeveelheid reënval hang van die geografiese ligging van die grond af. Ten spyte van ons verhoogde produksie kan ons steeds nie aan die aanvraag voldoen nie en is daar ruimskoots kans vir uitbreiding.

Net soos wat ons kleinboere bemagtig, maak ons dit ook vir klein beleggers moontlik om in ons beleggingsfonds in Mauritius te belê. Op ons beurt belê ons weer in gemeenskappe en families wat almal tot die gemeenskaplike doel van die ontwikkeling van landboupotensiaal bydra.

Soos mynbou histories die wêreld gevorm het, neem landbou nou die voortou en ontsluit volhoubaar die potensiaal van Afrika om voedselsekerheid vir baie mense te verseker. Dis nie nodig om duur plase te bekom om op groot skaal te boer nie. Met soveel deelnemers verander ons die lewens van baie mense.

  • Lukas Coetsee is die besturende direkteur van die African Earth Investment Group PPC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.