Nuwe Indiese trekkers gereed vir kleiner SA plase

Die VST-trekkers wat ETG Logistics invoer is gefokus op die kleinboermark. (Foto: vsttractors.com)

VST Tillers Tractors het sy buiging in Suider-Afrika gemaak met die sluit van ʼn handelaarskontrak met ETG Logistics. Hierdie Indiese maatskappy bou al sedert 1966 grondwerktuie en sedert 1983 vierwielaangedrewe trekkers.

Hulle trekkers, stropers en verskeidenheid werktuie fokus op die kleinboermark en buiten die gewone werktuie wat agter ʼn trekker gehak word, verskaf hulle ook enjinaangedrewe werktuie wat deur ʼn operateur gestoot en beheer word.

Antony Cherukara, uitvoerende hoof van VST Tillers Tractors, sê VST is een van die handelsmerke in die landbousektor wat die vinnigste groei en ʼn leiersposisie beklee in grondwerktuie en kompakte vierwielaangedrewe trekkers. “Ons fokus op internasionale handel met die uitvoer van trekkers, werktuie, stropers en dieselenjins na meer as 40 lande in Europa, Asië en Afrika.

“Die meeste plase in Suider-Afrika word deur klein- en bestaansboere bewerk, wat ons meganisasie-opsies vir kleiner boerderye ʼn baie toepaslike keuse maak.”

ETG Logistics, as deel van die groter ETG-groep, het aangedui dat hierdie transaksie hulle in staat gaan stel om hulle portefeulje in landbou aansienlik uit te brei. Buiten hulle betrokkenheid in ander bedrywe is hulle ʼn groot rolspeler in landboulogistiek en die verskaffing van landbou-insette in Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe, Swaziland, Botswana, Tanzanië en Kenia. Hulle beplan ook om hulle voetspoor in onder meer Oos- en Suider-Afrika te vergroot.

ETG Logistics glo dat VST se enjinaangedrewe werktuie wat deur ʼn operateur gestoot en beheer word groot aanklank by Suid-Afrikaanse kleinboere sal vind. (Foto: Verskaf)

ETG se 15 handelaars in Suid-Afrika gaan VST se volledige reeks trekkers en werktuie aanhou en die nodige ondersteuning bied. Hulle beoog om hul netwerk teen Maart 2022 tot 25 handelaars uit te brei.

VST se trekkers se enjingroottes wissel van 13,3 kW tot 37,28 kW en het veelvuldige gebruike, van grondvoorbereiding tot die gebruik binne tonnels. Hulle enjinwerktuie se enjingroottes wissel van 3,7 kW tot 11,8 kW.

“Met die bekendstelling van VST Tractors and Tillers het ons nou die geleentheid om dit dieper in die Suider-Afrikaanse plaastoerustingmark te waag en ʼn wye verskeidenheid landboukliënte te bedien. Hierdie inisiatief pas in by ons verbintenis tot boerderygemeenskappe,” sê Rajeev Saxena, uitvoerende hoof van ETGL.

“Die groep sal toegewyd bly om toegang tot gehalte boerderyoplossings vir opkomende en kommersiële boere te verbeter.”

Volgens Pavankumar Nair, sakehoof van ETGL, het hulle die toepaslikste produkte gekies wat die beste by hierdie mark pas. “Die trekkers hou ʼn waarborg van twee jaar, of 1 500 uur, wat die goeie gehalte van die reeks onderstreep.”

Die trekkerreeks begin by R145 000 (BTW uitgesluit) en die grondbewerkers by R75 000 (BTW uitgesluit). Hulle is beskikbaar by handelaars oor die hele streek en demonstrasies kan deur die handelaarsnetwerk bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oom ·

Met net 15 handelaars in die hele SA is die vraag wie gaan hulle diens en herstel. Breek gaan hulle beslis sommer gou breek net soos hulle TATA maatjies.

Oom ·

In die hele Frankryk waar ons woon is daar nie enkele TATA insig nie. Wonder hoekom!

Porseleintjie ·

Teen die tempo wat boere plaaslik aangeval, geroof en gemoor word is my vraag gereed vir watter plase?? Is daar werklik boere wat onder die huidige omstandighede enige iets nuuts sal wil aankoop?? Drie plaasaanvalle net in vandag se nuus. Boere, bere maar vir eers dit wat jul het.

Anel ·

En dan kan jy net 1500 ure met hom werk! Plaaswerkers hier, breek hom binne die eerste uur! Nee wat, soos oupa gesê het goedkoop koop is duur koop!!!!

Frederik C ·

” Verskaf hulle ook enjinaangedrewe werktuie wat deur ‘n operateur gestoot word “. Dit klink reeds verdag !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.