Nuwe MPO-hoof op landwye melktoer

Gerhard Kriel is die melkprodusente-organisasie se nuwe hoof (Foto: MPO)

Na ʼn week in sy nuwe pos as die hoof van die melkprodusente-organisasie (MPO) het Gerhard Kriel in die pad geval om melkboere, -aankopers en -verwerkers reg oor die land te besoek om uit te vind watter kwessies daar in elke gebied heers.

Die melkbedryf gaan al ʼn wyle deur ʼn moeilike tyd met melkpryse wat laag is en boere wat dramaties minder word. Melkerye skuif ook toenemend na die kusgebiede omdat winste so laag word dat die meer verteerbare, voedsamer, natuurlike weiding in dié streke ekonomies meer sin maak as volvoermengsels.

Kriel het eers verskeie dorpe in die noorde van die land besoek en is daarna Oos-Kaap en KwaZulu-Natal toe.

Maroela Media het hom in die hande gekry toe hy net in Underberg in KwaZulu-Natal aangekom het.

Hy sê die doel van die toer is om ʼn prentjie in te kleur van die kwessies wat op die tafel is, wat in elke streek verskil. “Melkboere word minder en is in ʼn oorlewingstryd gewikkel. Doeltreffende melkproduksie is ook ʼn uitdaging.

“ʼn Groot probleem wat ook aan die lig gekom het, is dat dit goedkoper vir boere is om melk seisoenaal te produseer, maar dat kleinhandelaars regdeur die jaar melk moet voorsien. Dit is belangrik dat die bedryf met ʼn vars oog na hierdie probleem kyk. Die tyd is dalk ryp om te kyk hoe die twee rolspelers mekaar wedersyds kan ondersteun.

“Daar sal ʼn balans gevind moet word tussen laekostemelkproduksie en ʼn billike prys vir melk.”

Kriel sê die jaarlikse melkinvoer is gelyk aan drie dae se plaaslike produksie. Dit het ook uitgekom dat dit vir sommige boere nie ʼn probleem is nie, maar dat ander voel dat dit hulle daardeur bedreig word.

“Ons is ook hier om tweerigtingkommunikasie tussen die MPO en boere te verstewig.”

Na ʼn deurtastende herstruktureringsproses einde verlede jaar het die MPO hul werkerskorps met byna 60% verminder. Colin Wellbeloved, voorsitter van die MPO se direksie, sê die oogmerk van die herstrukturering is om ’n meer vaartbelynde, veerkragtige organisasie daar te stel, wat op die bedryf se kernfunksies fokus.

“Die MPO sal steeds waardevolle markinligting verskaf wat aan lede ’n stewige platform bied, vanwaar koop- en verkooptransaksies kan plaasvind. Ons visie is om op gedissiplineerde wyse sake-ontwikkeling na te streef en sodoende die mark uit te brei,” sê hy.

“Daar is soveel te doen in nuwe, komplekse gebiede met beperkte inligting en nooit genoeg tyd nie. Gerhard sal die voortou neem om strukture en prosesse in te stel wat leiding gee en sake van belang toelig, sodat die melkboer die vrugte op plaasvlak kan pluk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.