Nuwe taakgroep bevorder nou diere-biosekerheid

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het ʼn taakgroep aangestel wat belas is om diere-biosekerheid te bevorder. Dit volg in die lig van die sporadiese uitbrekings van bek-en-klouseer wat ʼn verlammende uitwerking op die rooivleisbedryf, asook potensiële groei en uitvoere het.

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het baie positief hierop gereageer, die lede van die taakgroep gelukgewens en hulle verbind tot volle samewerking met dié belangrike aangeleentheid.

“Die rooivleisbedryf word as die slapende reus in Suid-Afrikaanse landbou beskou, maar die voortdurende uitbrekings van bek-en-klouseer staan in die pad van die sukses van dié bedryf. Die bedryf is 40% getransformeer en kan ʼn groter bydrae lewer om die landbousektor se bruto binnelandse produk (BBP) te laat groei en om inkomste- en voedselsekerheid te bewerkstellig, maar dan sal bek-en-klouseer onder beheer moet wees,” sê James Faber, voorsitter van die nasionale RPO.

“Suid-Afrika het sy bek-en-klouseervryesone-status by die internasionale dieregesondheidsorganisasie, die OIE, verloor en dit sal ongeveer vyf jaar van harde werk verg om dit heringestel te kry. Dit kan net gedoen word indien ʼn meer indringende strategie gevolg word.

“‘Business as usual’ sal dus nie goed genoeg wees nie,” sê hy.

Die RPO het aangedui dat hy gereed is om met die nasionale en provinsiale departemente saam te werk om ʼn nuwe strategie op die been te bring.

“Die RPO is instrumenteel in die funksionering van die nege provinsiale dieregesondheidsforums, asook ʼn lid van die nasionale dieregesondheidsforum. Dié strukture behoort ʼn groot rol te speel in die instelling van ʼn nuwe strategie.

“Die daarstel van biosekerheidsmaatreëls by veeveilings, wat sedert 1 Julie vanjaar geld, is ʼn bemoedigende stap in die regte rigting.”

Volgens Faber het die plaaslike ontwikkeling en beskikbaarstelling van entstowwe teen bek-en-klouseer nou noodsaaklik geword.

Die rooivleisbedryf is tans besig om ʼn nuwe aansoek te formuleer vir ʼn statutêre heffing en het biosekerheid in die bedryf as een van die prioriteite geïdentifiseer. Die RPO meen bek-en-klouseerbeheer moet as ʼn spanpoging tussen die bedryf en die staat aangepak word en die nodige kapasiteit sal geskep moet word om private en openbare vennootskappe te ondersteun.

“Die koste om bek-en-klouseer te beheer is gering as dit vergelyk word met die verwesenliking van die potensiaal van die bedryf. Huidige rooivleisuitvoere kan selfs tot 20% van produksie groei, en dit is in nasionale landsbelang,” sê Faber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.