Nuwe Trion bring meer tegnologie vir middelslagboer

Claas se nuwe Trion vul ʼn gaping tussen die Lexion en Tucano-reeks. (Foto: Verskaf)

Claas se splinternuwe Trion 700-stroperreeks is op pad Suid-Afrika toe en boere vir wie die ouboet, die Lexion-reeks, te groot is en meer funksies verlang as wat die kleiner Tucano-reeks bied, kan nou ʼn stroper aanskaf wat aan hul behoeftes sal voldoen.

Gegewe dat die Trion vars uit die hande van Claas se ontwerpers losgelaat is, spog dit met ʼn rits nuwe funksies wat deur hierdie Duitse landboumasjinerievervaardiger ontwikkel is.

Claas sê dat saailande elkeen sy eiesoortige eienskappe het wat vir ʼn stroper maklik in uitdagings kan ontaard. Dit kan beknop, klein, uitgestrek, skuins, golwend of plat wees en naby die kus of in die droë binneland geleë wees.

Die oes kan ook so yl wees dat die kool nie die sous werd is nie en net in ʼn verlies in tyd en brandstof kan ontaard. Aan die anderkant kan ʼn oes so bank staan dat dit te veel vir ʼn stroper is om baas te raak. Dit is dus belangrik dat daar ʼn stroper moet wees wat by elke plaas sal pas, soos wat Claas se slagspreuk sê.

“Ons het gevind dat die middelslag-stropermark meer omvattende tegnologie in hulle stropers soek as wat die grootste Tucano-modelle kon bied. Derhalwe het Claas die vervaardiging van dié modelle gestaak en dit met die Trion vervang, wat in dieselfde tegnologieklas as die Lexion is. Die kleiner Tucano 320 Straw walker-model sal steeds gebou word,” sê Walter Wait, produkspesialis op Claas-produkte by Kempston Agri.

Die Trion is gemaak om dag en nag te werk. (Foto: Verskaf)

Die vyf modelle waarop Suid-Afrikaanse boere binnekort hulle hande kan lê, is die:

  • Trion 710-240 kW/9 000 ℓ‑graantenk/110 liter per sekonde laaivermoë/enkelmotor
  • Trion 720-270kw/10 500 ℓ‑graantenk/110 liter per sekonde laaivermoë/enkelmotor
  • Trion 730-300kw/11 000 ℓ‑graantenk/130 liter per sekonde laaivermoë/enkelmotor
  • Trion 750-314kw/12 000 ℓ‑graantenk/130 liter per sekonde laaivermoë/dubbele rotormasjien.
  • Trion 750 Terra trac -314kw/12 000 ℓ graantenk/130 liter per sekonde laaivermoë/dubbele rotormasjien

In die kajuit kan die Trion se sitplek nou 30° na links draai sodat die operateur makliker kan in- en uitklim. Die voorste pilare is smaller gemaak deur die lugreëling se openinge uit te haal, wat in die Lexion die uitsig na die tafel belemmer het.

Die operateur kan ook nou ʼn ogie deur die venster regs agter op die terugvoer-auger gooi om te sien hoe lyk die pit-monsters wat in die graantenk val.

Jy kan ook jou selfoon met die oudiovisuele stelsel in die kajuit integreer vir handvrybel. Daar is ook ʼn voetsteun ingesit vir daardie ekstra bietjie bestuursgemak.

Claas se nuwe Trion se kajuit het meer ruimte, sigbaarheid en gemak. (Foto: Verskaf)

“Die 750, 730 en 720 is met dieselfde selfleer Cemos-operateurshulpstelsel as die Lexion toegerus indien dit by die kliënt se behoeftes pas (pas jou plaas).

“Die 750, 730 en 720 kom uit die fabriek met die Cemos Automatic-Cruise Pilot en Cemos Automatic– Auto crop flow. Indien die kliënt Cemos Automatic-Cleaning en Separation benodig, kan die pakket bykomend geneem word.

“Daar is ook ‘n volledige Cemos Automatic-pakket om van te kies wat Cemos Automatic-Threshing insluit wat die skoonmaak-, skei- en dorsfunksies kan oorneem en outomaties verander soos die omstandighede verander. Die Trion 710 kom uit met ʼn Cemos Automatic-Cruise Pilot as standaard.

“Dit het reeds bewys dat hierdie funksies die operateur se werkslas noemenswaardig verminder,” sê hy.

In die Tucano’s moes jy die enkelrotor se flappe met die hand verander, maar in die Trion 750 is daar ʼn dubbelrotor en in die 720 en 730 ʼn enkelrotor waarvan die flappe hidroulies oop en toe gemaak kan word.

Die konkawe kan ook maklik bereik en vervang word om die stroper aan te pas om ʼn ander graantipe te stroop.

Dieselfde dorstegnologie in die vorige Lexion-700-reeks is ook in die binnekant van die Trion gesit. (Foto: Verskaf)

Die Trion is toegerus met dieselfde 600mm APS-dorsdrom as die vorige Lexion 700-reeks masjiene.

“Die kwantimeter gebruik nou ‘n meganiese plaat om massavloei, oftewel die regte gewig van die graan te meet. Dit beteken die operateur hoef nie meer so gereeld die sensor te kalibreer nie, wat ook verseker dat die oeskaarte akkurater bygehou word.”

Die Trion 750 Terra trac word standaard met 735 mm-breë, vierwiel-aangedrewe Terra trac-rusperbande met ʼn eie veringstelsel toegerus.

Die Trion 750, 730 en 720 word ook met ʼn sentrale smeringspuntstelsel toegerus wat onderhoud noemenswaardig vergemaklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.