OK gee spesiale blootstelling aan dié wynboere

Die Wynboer het nou ‘n spesiale rak in 142 OK-takke regoor die land gekry om hul boere se wyn nader aan die publiek te bring. (Foto: Verskaf)

Met die skuif na vlak 2 het Die Wynboer en die OK-groep hande gevat om wyne van familiewynboere wyer in Suid-Afrika te versprei. ’n Nuwe promosierak, wat op ’n rotasiebasis elke agt weke aan drie wynplase op ’n slag blootstelling sal gee, gaan in 142 OK Liquors, OK Grocers en OK Minimarkte ingerig word.

Die Wynboer is ‘n aanlynwinkel en ‘n projek wat deur die familieboernetwerk, Saai bekendgestel is om wynboere te help wat weens die inperking nie hulle wyn kon verkoop nie.

Volgens Kwagga Boucher, uitvoerende hoof van Die Wynboer, sukkel kleiner en mediumgrootte wynboere steeds om die vernietigende gevolge van die verbod op wynverkope onder Covid-19-regulasies te oorkom, al het pres. Cyril Ramaphosa op 13 September aangekondig dat Suid-Afrika na vlak 2 van die inperking skuif.

Wynboere het aangedui dat hulle dié verslapping verwelkom, maar voel dat alle Covid-19-verwante beperkings op die verkoop van wyn opgehef moet word, sodat verkope wat aan lisensievoorwaardes voldoen na normaal kan terugkeer.

Ná ’n jaar van die swakste verkope nóg in die wynbedryf word dié unieke inisiatief verwelkom.

“Ons was sedert die bekendstelling van Die Wynboer in 2020 met die OK-span in onderhandelings betrokke om dié rak te laat realiseer,” sê Boucher.

“As boere weet ons hoe moeilik dit is om jou produkte regoor die land op rakke te kry en al is agt weke nie ’n lang tyd nie, help dit jou om ’n voet in die deur te kry by drankwinkeleienaars wat dalk kan besluit om jou wyn permanent aan te hou.”

Die OK-groep het ook gesê dat hulle met dié rak toegang aan hul klante wil gee tot wyne wat nie voorheen geredelik beskikbaar was nie. Die eienaars van die 142 winkels het die geleentheid aangegryp en sien uit om ’n pad saam met die familiewynboere te stap.

Gaan loer gerus by jou naaste OK in en ondersteun só die familiewynboere. Hou gerus ook Die Wynboer se aanlynwinkel dop om te sien watter wyne beskikbaar is.

Maroela Media publiseer ook gereeld artikels oor die wynboere wat deel van Die Wynboer se hulpprojek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Luxrider ·

Het op WynBoer se webbladsy gekyk. Hierdie ouens se pryse is belaglik. Sal hulle graag wil help, maar ek gaan nie meer betaal as wat ek by die bottelstoor betaal nie.
As hulle die middelman wil uitskakel moet hulle dit darem vir my ook die moeite werd maak. Ek gaan nie meer betaal net om te sê ek het dit direk by die wynprodusent gekoop nie.

Mense (Wynprodusente), julle wil hê ons moet julle help, maar dan moet julle ons ook help!!

Dit is dieselfde rede hoekom ek nie wyn by die kelders koop as ek in die Kaap is nie.

Hildegard ·

Ek het ook na die webwerf gekyk. Daar is wyne wat billik geprys is, soos die Meerkat reeks, en dan duurder wyne soos die La Boucher wyne. Soos met enigiets anders, verskil wynpryse na gelang van gehalte, koste van vervaardiging ens. As jy rooiwyn in eerste gebruik Franse houtvate maak, kan dit nie dieselfde kos as ‘n vinnig drink wyn wat in staal tenks verouder word nie. ‘n Ferrari kos duurder as ‘n Volksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.