Ontmoet TLU SA se span: Wannie Scribante wil boere dien

Wannie Scribante, onderpresident van TLU SA is daar om boere te dien. (Foto: TLU SA)

Het Wannie Scribante en CJ Langenhoven iets in gemeen? Wie is Wannie as hy by die huis is en weet Wannie iets van konyne grootmaak? Eunice Visagie het meer gaan uitvind oor TLU SA se onbestrede onderpresident en beantwoord al dié tergende vrae.

Wannie Scribante is sedert 1992 lid van TLU SA by De Wildt-boerevereniging. In 1995 is hy tot ondervoorsitter en in 1996 tot voorsitter van De Wildt‑boerevereniging verkies. In 2009 is hy tot streekvoorsitter van die Sentraalstreek van TLU SA verkies en het in die posisie gedien tot verlede jaar toe hy as TLU SA se onderpresident verkies is.

 

Om te dien

Volgens Scribante gaan dit vir hom oor om te dien. “Ek is grootgemaak met die idee om te dien en ander eerste te stel. Groei is ook belangrik. Mens moet groei in ’n organisasie om ’n idee van sy hartklop en visie te hê.”

Van kindsbeen af ken Scribante CJ Langenhoven se leuse wat lui: “As iets die moeite werd is om te doen, is dit die moeite werd om dit goed te doen.” Volgens Scribante slaag hy nou wel nie altyd in dié doelwit nie, maar dit bly waarna hy strewe.

 

Landbou, boerdery, die mense van Suid-Afrika

Dit alles lê Scribante na aan die hart.

“Landou is ’n unieke sektor van die land se ekonomie. Eerstens is primêre landbou slegs ʼn prysnemer, wat min invloed op die prys van produkte kan uitoefen.

“Aan die ander kant het ons weer amper geen invloed op ons insetpryse nie. Tweedens is die landbou geweldig divers en is omvattende kennis vir suksesvolle produksie nodig. Nog ’n faktor in die uniekheid van landbou is dat eiendom ’n noodsaaklike produksiemiddel is, maar ons word daarop belas.

“Ons as Suid-Afrikaners, maar by uitstek boere, is vasbyters wat tot nou toe nog deur die genade altyd bo uitgekom het. Deur nuutskeppings en kreatiewe denke, maar ook weens ons geloof, word ons as die beste boere ter wêreld geag. Ook op vele ander terreine word ons as Suid-Afrikaners gereken as van die beste in die wêreld. Vir hulle wil ek sê: Doe so voort!”

Dit bring my by nog ’n Scribante-passie.

 

Die ekonomie

“Ons grootste uitdaging is nie armoede nie, maar eerder hoe om dit te hanteer. Dit kan slegs gebeur deur ekonomiese groei. Dit help nie om die koek in kleiner stukkies te sny nie, die koek moet groter. Dan sal elkeen genoeg kan kry. ’n Ekonomie word gemeet aan sy BBP (bruto binnelandse produk). Die ekonomie kan dus net groei deur die BBP te verhoog.”

Scribante beywer hom vir geleenthede vir Suid-Afrikaners om uit te styg bo die ekonomiese gesukkel. “Staan op vir dit wat reg is en bou.”

Dit is ’n geval van spreek tot die mens en nie die uitdaging nie. Scribante glo vas dat verandering sal kom van ’n beter selfbeeld en ’n gevoel van, ek het wel iets verander of verbeter. “Gee mense iets om voor te leef.”

Volgens Scribante weeg TLU SA elke beleid of aksie op teen of dit ekonomies sin maak.

“Ons word oorweldig met berade, werkswinkels en dies meer, waaraan ons moet deelneem en insette gee. Ons meet alle besluite en voorstelle aan die ekonomiese implikasies, en word daarom dikwels gesien as diegene wat gekant is teen verandering. Dit is egter nie wat ons wil doen nie.

“Dit is belangrik om met ’n positiewe alternatief vorendag te kom. Ons sal nooit net negatief wees en afkraak nie. Die kuns is om die nadelige en onbedoelde gevolge van beleide of voorstelle te identifiseer en dit positief te swaai. Deesdae begin al hoe meer mense ons standpunte insien en hulself daarmee vereenselwig. Ek glo dit is hoe ons in moeilike en vyandige omstandighede wel ’n groot verskil maak.”

 

Wie is Wannie as hy by die huis saam met sy familie is? 

“Ek is ’n doodgewone ou wat lief vir die natuur en buitelewe is. Ek hou nie van voorgee nie en is altyd reg vir ’n grappie of twee. Ek is redelik familievas en probeer ons erfgoed en geskiedenis bewaar. Ek is skeppend en jy sal my gereeld in my werkswinkel kry waar ek iets bou, verbeter of restoureer.

“Ek en my vrou is 4×4-liefhebbers. Ons het voorheen gereeld aan kompetisies deelgeneem, maar deesdae gebruik ek my 4×4-voertuie in my werk en om veral na die ongerepte dele van ons land te toer.”

As hy oor sy liefde vir landbou praat, dink Scribante aan die woorde van een van sy ingenieurswese-dosente toe hy dié dosent eendag in ’n koöperasie raakloop.

“Toe ek vra wat hy daar maak, was sy antwoord dat daar net twee soorte Afrikaners is: Die wat boer en die wat wíl boer.

“Ek het op ’n plaas grootgeword. Sedert ek kan onthou het ek diere aangehou en was dit my verantwoordelikheid om hulle te versorg. Dit het begin by ’n hondjie, konyne en duiwe en toe later met ’n eie perd en beeste.

“Ek het ook ’n groentetuintjie langs my pa-hulle s’n gehad waar ek gewerskaf het. Ofskoon ek my as metallurgiese ingenieur bekwaam het, was ek nog altyd maar ’n boer en onlosmaaklik verknog aan die grond en die leefwyse.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Dankie vir die goeie werk wat jy vir ons se boere doen, Wannie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.