Opgeknapte Katoen SA-webwerf spog ook nou met verwysingsprys

Foto ter illustrasie. (Foto: Mel Combs, Pixabay)

Katoenboere is nie deur die onlangse onluste van stryk gebring nie en is tans hard besig om te oes en sal na verwagting teen die einde van Augustus klaar wees. Die pluismeulens is op skedule en ongeveer 60% van die oes is reeds gepluis.

“Die vooruitsigte vir die huidige seisoen lyk beter as wat aanvanklik verwag is. Hoewel die Suid-Afrikaanse oes kleiner gaan wees as dié van die vorige seisoen, is die gehalte goed en is die internasionale pryse op historiese hoë vlakke, wat hoër geldelike opbrengste vir katoenboere sal beteken,” sê Hennie Bruwer, hoof van Katoen SA.

“Droëlandopbrengste lyk ook beter as wat aanvanklik verwag is en die huidige internasionale prysaanwysers is ook aansienlik hoër as ’n jaar gelede. Die finale pryse wat die boere sal ontvang hang wel af van die veranderlikes wat maar altyd daar sal wees, soos gehalte, hoeveelheid en die tyd en plek van lewering. Eweredig verspreide reënval, veral gedurende die kritieke tye, asook genoeg hitte-eenhede gedurende die seisoen, het bygedra tot die beter opbrengste en gehalte.”

In hierdie tye van verandering het Katoen SA ook hulle webwerf vernuwe. Dit is nou meer gebruikersvriendelik, bied opgedateerde inligting oor katoen, die gebruike daarvan, feite wat ou persepsies en mites regstel, markinligting asook die nuutste navorsingsresultate.

Nog ʼn nuwe funksie waarmee die webwerf spog is dat dit elke week ʼn gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel bekendmaak.

“Dit is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op die weeklikse gemiddelde van die Des’21 New York Futures (US c/lb) vir SLM (Strict Low Middling) 1/16” (Duns A2)‑vesel.

“Dit is egter belangrik om daarop te let dat dit slegs ʼn verwysingsprys is en dat elke boer se finale prys bepaal word deur die toepaslike bemarkingsmodel, die werklike gehalte van die vesel en die aftrekking van koste, soos onder andere vervoer, pluiskoste, gradering, heffings, uitvoer, stoor en rente.”

Hierdie gemiddelde weekprys word elke Maandagmiddag op Katoen SA se webwerf gepubliseer en ook per WhatsApp aan belangstellende boere gestuur. Volg hierdie skakel van jou foon af indien jy voortaan die inligting per WhatsApp wil ontvang, of stuur jou naam en selfoonnommer na [email protected].

Volgens Bruwer is alle aanduidings daar dat boere ʼn goeie reënseisoen in September sal hê. Dit saam met die positiewe aanduidings van die internasionale markte is ʼn bewys dat dit die ideale tyd vir boere is om in die komende seisoen katoen te plant.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.