Oppervlakteskatting dui op boere se veerkragtigheid

Boere het in uiterste nat toestande vasgebyt en deurgedruk met die plantery. (Foto: Maroela Media)

Die vermoede dat boere nie die beplande oppervlakte vir die 2021/’22-seisoen kon beplant nie, is deur die voorlopige oppervlakteskatting wat deur die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se oesskattingskomitee uitgereik is, bevestig.

Volgens die Landbousakekamer (Agbiz) het die oormatige reën sedert die begin van die somergewasproduksieseisoen in Oktober verhoed dat boere die beplande oppervlakte van 4,34 miljoen hektaar kon beplant. Dit sou ʼn toename van 3% op die 2020/’21-produksieseisoen wees.

“Tog is die werklike aanplantings ʼn verligting vir baie ontleders, ons ingesluit. Ons het gedink dit sou ʼn baie kleiner oppervlakte wees. Boere het na raming 4,21 miljoen ha aangeplant, wat heelwat beter is as wat aanvanklik gevrees is,” sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz.

Volgens die verslag is daar vanjaar ʼn oppervlakte van 4,19 miljoen ha, 0,4% meer as in die vorige seisoen, aangeplant.

Daar is ook voornemens vir moontlike verdere aanplantings van nog 130 900 ha.

Die voorlopige oppervlakte wat met witmielies aangeplant is, is 1,58 miljoen ha. Dit is ʼn afname van 6,9%, oftewel 116 200 ha minder as die 1,69 miljoen hektaar van verlede seisoen.

In die geval van geelmielies is daar 1,03 miljoen ha aangeplant, wat 2,8%, of 29 500 ha minder is as die 1,06 miljoen ha wat die vorige seisoen aangeplant is.

Ten opsigte van ander gewasse is 910 ha onder sojabone, 580 000 ha onder sonneblom, 42 450 onder droëbone, 35 000 ha onder sorghum en 34 000 onder grondbone gesit.

Vir sojabone is daar ʼn toename van 10%. Soveel as 82 900 ha meer is aangeplant vergeleke met die 827 100 ha wat die vorige seisoen aangeplant is. Dit is die grootste oppervlakte nog wat in die geskiedenis van Suid-Afrika onder hierdie gewas gesit is.

Sonneblomaanplantings het ook ʼn reusesprong gegee met ʼn toename van 21,39%, oftewel 102 200 ha meer as in die vorige seisoen.

Ten opsigte van grondbone, sorghum, en droëbone het die aangeplante oppervlakte onderskeidelik met 11,8%, 28,86% en 10,42% gekrimp.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het boere gelukgewens met hierdie prestasie. “Suid-Afrika se somergewasaanplantingskattings bied hoop ten spyte van die oormatige reën,” sê sy.

“Die 2021/’22-somerplantseisoen het begin met toenemende kommer dat oorstromings oeste in provinsies soos Noordwes, Vrystaat, en dele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal sal beskadig en boere in verskeie streke was bekommerd dat hulle nie betyds klaar sou kon plant nie, wat die landbou-ekonomie negatief sou beïnvloed.”

Die minister sê deur hul veerkragtigheid en toewyding het Suid-Afrikaanse boere, ten spyte van die swaar reën deurgedruk en selfs ná die gewone optimale planttyd aanhou plant. Planttyd eindig gewoonlik in November vir die oostelike streke en in Desember vir die westelike gebiede.

“Die oppervlakteskatting se data is vertroostend en die eerste stukkie goeie inligting wat daaruit kom is dat hoewel die onlangse reën vernietigend was, Suid-Afrika steeds voedselsekerheid geniet.

“Ons bly optimisties dat daar aan die einde van die seisoen voldoende oeste vir ons behoeftes en dié van ons buurlande sal wees.”

Sy sê egter dat die weerstoestande vir die volgende twee maande bepalend bly vir die finale opbrengs van die seisoen.

“Die boere wat oeste weens oorstromings verloor het, is steeds in ons gedagtes en my departement samel inligting in oor die gebiede wat skade gely het. Ons sal onvermoeid werk om hulp te verleen binne die perke van die beskikbare hulpbronne,” sê Didiza.

Die voorlopige oppervlakteskatting is hoofsaaklik geskoei op die resultate van ʼn nie-ewekansige opname wat deur die direktoraat: statistiek en ekonomiese analise van die departement gedoen is.

Die oesskattingskomitee sê hy neem kennis van die laat aanplantings in sommige streke, asook oeste wat beskadig is weens die onlangse oormatige reën. Die oppervlakte waarna daar in die verslag verwys word dui op aanplantings vir alle doeleindes, insluitende graan, kuilvoer en gewasse in geraakte streke.

Die komitee het aangedui dat hy die situasie deur die seisoen sal dophou.

Die hersiene aangeplante oppervlakte en produksiesyfers sal op 28 Februarie deur die oesskattingskomitee bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.