Optimisme dryf groter trekkerverkope

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerievereniging (SAAMA) het sy maandelikse verslag oor trekker- en stroperverkope bekendgestel en soos Maroela Media verlede maand berig het, lyk sake steeds positief.

In Mei is 518 trekkers verkoop, wat byna 13% meer is as die 459 eenhede wat in Mei verlede jaar verkoop is. Vir die jaar tot op hede is trekkerverkope 24,2% hoër as verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar.

In Mei is 35 stropers verkoop, vier eenhede meer as die 31 eenhede wat in Mei verlede jaar verkoop is. Vir die jaar tot op hede is stroperverkope 24% meer as verkope gedurende dieselfde tydperk verlede jaar.

Sedert die begin van die jaar is daar 2 752 trekkers en 124 stropers verkoop en gedurende dieselfde tydperk verlede jaar is daar 2 215 trekkers en 100 stropers verkoop.

“Daar is ʼn volgehoue optimisme in die bedryf, met verskeie oesramings wat die Oesskattingskomitee hoër aangepas het vir sy laaste ramings in Mei. Die algehele mielie-oes sal nou na verwagting byna 6% meer wees as verlede seisoen en die soja-oes, die grootste ooit, sal meer as 50% meer wees as die vorige seisoen,” sê Karel Munnik, voorsitter van SAAMA.

Hy sê ook dat die goeie vraag na landboumasjinerie waarskynlik volgehou sal word, maar twee faktore kan egter tot langer wagtydperke lei vir voorraad wat plaaslik voorsien word.

“Eerstens is daar ʼn toename in die wêreldwye vraag na toerusting. Tweedens is daar die logistieke probleme wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

“Boere gaan vooraf mooi moet beplan om seker te maak dat hulle die toerusting wat hulle nodig het, kan kry wanneer hulle dit wil hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Neushoringvoel

Dan moet dit goed gaan in die lanbou bedryf. Baie bly om te hoor. Hoop die ekonomie tel ook vir ander besighede op.

Jaco

Optimisme? Wat dan nou van onteiening sonder vergoeding?????