Plaaslike makadamiaverwerker kry internasionale handelsmerk  

Die internasionale makadamianeutmark is baie gesond. (Foto: sunnysun0804, Pixabay)

Die wêreldwye makadamiabedryf het die afgelope tien jaar ongekende groei beleef, met die vraag wat deurlopend die beperkte aanbod oorskry. Dit maak die bedryf besonder lonend, veral omdat hierdie groei heeltemal organies plaasvind.

Dit lyk egter of hierdie prentjie in die afsienbare toekoms gaan verander.

Aanplantings neem noemenswaardig toe en daar word bereken dat die oppervlakte onder makadamias binne die volgende vier tot vyf jaar sal verdubbel. Dit sal die wêreldwye makadamia-aanbod verhoog van ongeveer 200 000 tot 400 000 ton, gevolg deur ʼn verdere voorspelde toename na 600 000 ton kort daarna.

“Om te verseker dat die vraag na makadamias saam met die verhoogde aanbod sal groei moet belangrike stappe gedoen word om die bedryf te stabiliseer, insluitend ʼn gesamentlike poging oor internasionale grense heen,” sê Roelof van Rooyen, direkteur van Marquis Macadamias (Afrika). “Derhalwe het Global Macadamias wat die grootste makadamia-verwerker in Suid-Afrika is, ons naam na Marquis Macadamias (Afrika) verander om deel van die Australiese Marquis-groep te word.”

Marquis is ʼn groep maatskappye wat 100% deur produsente besit word. Hulle verwerk 22 000 ton per jaar deur Marquis Macadamias (Australië) en 11 000 ton deur Marquis Macadamias (Afrika). Albei streke gaan hulle kapasiteit in die komende jare tot gesamentlik 96 000 ton vergroot. Hulle versprei hul neute deur Marquis Marketing, wat meer as 20% van die wêreld se makadamias bemark en verkoop dit op vyf vastelande in meer as 45 lande.

“Dié groep is reeds die wêreld se grootste verwerker en bemarker van makadamias en met hierdie jongste verwikkeling het ons vermoë om die bedryf te stabiliseer nog sterker geword,” sê van Rooyen.

“In ʼn bedryf waar die aanbod so vinnig styg, is samewerking uiters belangrik om stabiliteit in die bedryf te skep deur die aanvraag voortdurend te verhoog. Dit kan nie op plaasvlak of in Suid-Afrika alleen gebeur nie. Ons bemarking- en verkoopafdeling moet kopers wêreldwyd aanmoedig om makadamiaprodukte volhoubaar en op die lang duur in hulle produklyne te gebruik,” sê van Rooyen.

Marquis Marketing doen baie moeite om markontwikkeling te doen en hulle aanloklike verpakking is ‘n toonbeeld daarvan. (Foto: verskaf)

Die bedryf moet ook nuwe maniere ondersoek om met behulp van waardetoevoeging makadamias by produkte te voeg as bestanddeel in gewilde versnaperinge, nageregte en selfs skoonheidsmiddels. Van Rooyen merk op dat die diversifisering van die mark die sleutel tot ʼn volhoubare en winsgewende makadamiabedryf is. Dit sal weer die behoefte skep vir ʼn hoë aanbod sodra hierdie nuwe produkte ontwikkel is.

“Hoewel die aanbod in die bedryf hoog is, het klante probleme met eenvormige gehalte en betroubare verskaffing ervaar. Hierdie nuwe vennootskap, wat die grootste makadamiaproduserende streke met behulp van die Marquis-groep verbind, bied klante toegang tot verhoogde volumes vir eersteklas, bestendige, gehalteprodukte en betroubare lewering,” sê hy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.