Registrasie vir brandmerke sloer, boerderye in gedrang

Foto ter illustrasie. (Foto: Youtube)

Ná nege maande se gewag vir die departement landbou, grondhervorming en plattelandse ontwikkeling (DALRRD) om sy veebrandmerk te registreer, word Cobus Botha nou gedwing om sy boerdery tot niet te maak en al sy werkers af te dank.

“Ek het ʼn kleinhoewe buite Lichtenburg wat ek in 2003 as ʼn stukkie erfgrond vir my kinders gekoop het, maar het onlangs besluit om daar met varke, bokke en beeste te begin boer,” sê Botha.

Een van die voorwaardes om sy vee te verhandel, om sodoende veediefstal te bekamp, is dat Botha sy eie brandmerk moet registreer, wat slegs deur die registrateur van identifikasiemerke by DALRRD uitgereik word.

Hy het aan Maroela Media gesê dat hy nege maande gelede sy aansoek ingedien het, maar sedertdien het dit in ʼn administratiewe nagmerrie ontaard. “Ek het gereeld probeer bel om op te volg, maar die nommer werk nie. Ek stuur ook omtrent elke twee weke my aansoeke weer in en kry wel e-posse terug wat sê dat hulle die aansoekvorms ontvang het, maar hoor niks verder daaroor nie. Op een so ʼn e-pos het hulle dit nogal in rooi aangedui.

“Ek het later ook verneem dat hulle nou eers by Maart se aansoeke trek, maar dat instapkliënte vinniger gehelp sal word.”

Botha se groot probleem is dat hy in Prieska by ʼn diamantmyn werk en nie net twee dae verlof kan insit om self die probleem te gaan oplos nie. “Dit maak geen sin om spesiaal hiervoor deur te ry nie en boonop is daar geen waarborg dat ek sal slaag nie.”

Hardus Bonthuys boer saam met Botha en sien om na sy belange. Hy het verlede jaar ook probeer om van sy kant af aansoek te doen, maar hulle het hom spoedig laat weet dat sy dokumente in die stelsel weggeraak het.

Uit radeloosheid het Botha die hoof van veediefstal op Sannieshof, lt. kol. Manci Nomvete gekontak. “Hy was baie hulpvaardig en het op die stelsel gaan kyk hoe ver die aansoek trek. Hy het my meegedeel dat daar nog niks onder my ID-nommer lê nie.

Boere ly skade

Intussen word Botha se boerdery lamgelê.

“Ek het 15 varke wat nou slaggereed is, maar ek mag dit nie eers vier kilometer in die pad af na die veiling neem, of na die slagpale nie. Die veediefstaleenheid se manne staan daar en jy mag eers jou diere aflaai as jou papierwerk reg is en alles in orde is, anders konfiskeer hulle jou diere.

Botha sê hy het met ʼn ander boer oorkant die pad gesels wat net so sukkel om sy diere aan die wetlike vereistes te laat voldoen.

Nog ʼn boer wat met dieselfde probleem sit en selfs al met die gereg gebots het, is Bonthuys se vriend, Jannie Meyer, wat in Mei saam met sy vrou, Simonn, daar naby begin boer het. Sy is verantwoordelik vir die administrasie en het aan Maroela Media gesê hulle het in Mei hul aansoek ingedien en ʼn e-pos in Junie gekry waarin die departement om verskoning vra vir die agterstand met die uitreikings.

Met die bewys van betaling en bewys dat hy aansoek gedoen het, het Meyer einde Augustus sy werker met lammers na die veilingkraal gestuur. Die polisie het hom by die hek voorgekeer en toe hy nie die sertifikaat kon toon nie het hulle aan hom ʼn boete met ʼn hofdatum uitgereik.

Die Meyers kan nou glad nie enige vee van die plaas af vervoer nie.

“Ons kan nie net ons boerdery stop nie, want die diere word slaggereed en ons moet hulle skuif vir kontantvloei” sê Simonn. “Ons lammers is onlangs gespeen en ons moet nou verkoop omdat die markpryse hoog is weens die feestyd se aankope wat nou begin het.

Sy sê hul boerdery begin nou skade ly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.