Die druk op landbouchemiese maatskappye neem toe namate plaagbeheermiddels een van die slagoffers in die “groen”-oorlog en aanslag teen konvensionele landbou word. Die algemene gevoel by CropLife SA se kongres was dat die bedryf bereid is om dié uitdaging die hoof te bied, mits die departement van landbou se registrasie-omgewing vir nuwe molekules, middels en generiese produkte drasties hervorm word.
CropLife SA bevorder die belange van landbouchemiese vervaardigers, maar een van hul take is om ʼn natuurvriendelike omgewing te skep deur te help om gevaarlike produkte uit te faseer. Chloorpirofos vir tuingebruik en metamidofos is deur hul toedoen uit die bedryf verwyder.
“Dit help nie ons het ʼn gesprek om die bedryf vorentoe te neem as ons nie die probleem met die registrateur oplos nie,” sê Rod Bell, uitvoerende hoof van CropLife SA. “ʼn Groot deel van CropLife SA se daaglikse taak is om die bedryf te help om die agterstand van nuwe aansoeke in te haal. Ons sal dringend ʼn nuwe stelsel gereed moet kry as ons die nuwe tegnologieë en nuutskeppings van die res van die wêreld in gebruik wil neem.”
Dr. Gerhard Verdoorn, CropLife SA se bestuurder van operasionele sake en rentmeesterskap, het vir Maroela Media gesê daar is nou al meer as 2 500 aansoeke wat agterstallig is.
“Ons het die registrateur al ʼn dekade gelede hof toe gevat en daar is onderneem om nuwe molekules binne twee jaar en generiese produkte, wat reeds elders in die wêreld werk, binne 12 maande goed te keer. Dit gebeur steeds nie en die wet maak steeds ook nie voorsiening vir noodregistrasies nie.”
Ten minste ses aansoeke vir noodregistrasies op hoë-waarde gewasse soos avokado’s, sitrus, suikerriet, makadamias en ander boomneute is al vir meer as 18 maande hangende. Boere is steeds sonder die nodige plantbeskermingsmiddels om peste, plae en siektes te bestuur en moet nou bontstaan om hulle gewasse op ander maniere te beskerm.
Daar is middels wat net ʼn etiket nodig het, waarvan die registrasie al buitensporig lank hangende is.
Onmoontlike taak
Verdoorn sê die registrateur is alleen verantwoordelik vir nuwe veemedisyne, voer, kunsmis en gewasse. Voorheen was daar agt tegniese adviseurs wat aan gewasmiddels gewerk het, waarvan ses bedank het en die poste nooit gevul is nie. Daarbenewens het die bedryf drasties uitgebrei en die aansoeke het vyf keer vermeerder.
“Ons sukkel al vir baie dekades met Wet No. 36 van 1947, wat bepaal dat slegs een registrateur vir al vier afdelings verantwoordelik is. Dit is egter ʼn lang proses om die wet te verander. Die departement van landbou het dit al probeer, maar hulle het die verkeerde prosedures gevolg, wat daartoe gelei het dat die parlement dit uitgegooi het, sê Verdoorn.
Weerstandigheid teen plaagbeheerprodukte neem ook toe en moderner middels, wat meer gefokus en natuurvriendelik is, is broodnodig om die gewasbedryf winsgewend en volhoubaar te hou.
Internasionale druk
Intussen begin die sentiment teen gewaschemikalieë van die ontwikkelde lande na die ontwikkelende lande uitkring.
Die regulering van chemiese produkte was altyd volgens ʼn model van blootstelling vermenigvuldig met skadelikheid bepaal, maar owerhede in die Europese Unie het die blootstellingsfaktor heeltemal uitgegooi en begin om enige produk waarvan se skadelikheid onbeduidend oor ʼn langer tydperk is, uit te werk.
Om alles te kroon is verbruikersgroepe, kleinhandelaars en aktivistiese organisasies soos Greenpeace, Friends of the Earth en Pesticide Action Network besig om die skroef al stywer te draai. “Hulle wil oudits en ʼn hoër standaarde instel en ʼn nuwe houding jeens chemikalie sien,” sê Bell.
Hy sê in Suid-Afrika is die druk nog nie so fel nie, maar hierdie aktivistiese organisasies voer aan dat dié regulasies veel help as dit net in sekere lande toegepas word, terwyl landbouprodukte regoor die wêreld versprei word.
“Drukgroepe het derhalwe begin om ʼn harmoniseringdryf van stapel te stuur om al hierdie regulasies op die hele wêreld af te dwing, selfs in Suid-Afrika.
“Die gevolg is dat talle produkte waarvan die registrasies gaan verval, nie weer hernieu gaan word nie en ons gaan oor die volgende tien jaar tot 30% van ons plaagbeheerprodukte verloor.
“Ons sien nie dat dit met ander produkte vervang word nie. Daarbenewens is daar baie van die ouer produkte wat beter werk as hul nuwe plaasvervangers.”
Hy het dit benadruk dat hy in sy loopbaan nog nie een persoon gesien het wat dood is van chemiese produkte wat volgens die regte aanwysings aangewend is nie.
Hy sê Suid-Afrika is ʼn klein rolspeler in die landbouchemiese bedryf en hierdie druk maak hulle baie seer. “Dit gaan al hoe duurder en moeiliker word om ons landbouprodukte na Europa uit te voer.”
Volgens Bell maak organiese en biologiese plaagbeheerprodukte sterk opgang, maar “ons vind dat dit beter werk met ondersteuning van sintetiese produkte. Dit moet verkieslik nie as ʼn alleenstaande produk gebruik word nie. Hierdie produkte is gewoonlik ook baie duur en daarom moet die doeltreffendheid, robuustheid en gebruikersgemak teen die koste opgeweeg word.”
Kobus Hartman van Agri Bussiness Systems International sê die registrateur in enige land is veronderstel om die bemagtiger van die bedryf te wees, “maar in Suid-Afrika sien ek baie min daarvan”. “Ons kan eenvoudig nie meer drie tot vier jaar wag vir ʼn nuwe plaagbeheermiddel om goedgekeur te word nie. Dan het dit maklik reeds sy relevansie verloor of heeltemal verouderd geraak.”
Tipies van hierdie land- Hulle gee nie ‘n duit om of die werk waarvoor hulle betaal word gedoen word nie. Dis kan duidelik gesien word in die vervalle toestand waarin ons land verkeer.