Rekordoes vir kanola; vooruitsigte opwindend

Kanola-lande in die Wes-Kaap. (Foto: Jacques Marais)

Kanola-boere kan hulself op die skouer klop nadat hulle vanjaar ʼn rekordoes afgehaal het. Die weer het ook mooi saamgespeel en aanvanklik is daar op ʼn rekord van 220 000 ton geskat, maar alle verwagtings is oortref en hierdie gewas, wat gekenmerk word deur plate goudgeel blommetjies, het op ʼn stewige 237 000 ton te staan gekom.

Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, het vir Maroela Media gesê die oes is nou bykans heeltemal afgehaal. Die nat en koel klimaat wat gedurende die produksieseisoen in die Suid-Kaap, Overberg en Swartland geheers het – waar 99% van dié wintergraan produseer word – was uitstekend en net wat kanola nodig gehad het om te floreer.

Kanola is nog ʼn bloedjong gewas in Suid-Afrika en word vir byna twee dekades plaaslik verbou. Weens die uitstekende grondgehalte, winterreënval en warm, droë somers wat kanola-aanplantings in die vroeë herfs vergemaklik, aard dit uitstekend in die bogenoemde streke in die Wes-Kaap.

Hierdie seisoen is inderwaarheid die vierde een waarin die rekord gespat het. In die 2020-seisoen was dit 190 000 ton, in 2021 was dit 198 000 ton, in 2022 was dit 211 000 ton en vanjaar het die oes met ʼn verdere 12,3% gestyg.

Oor die afgelope drie jaar het die oppervlaktes onder kanola-aanplanting ook beduidend toegeneem en Louw sê daar was selfs kommer aan die begin van die seisoen dat daar nie genoeg saad sal wees nie.

Hy sê egter dit dui daarop dat dié bedryf gesond groei. “Ek is baie opgewonde oor kanola omdat boere dit as  ʼn makliker alternatief vir koring en gars in die wisselboustelsel tussen ʼn breëblaar- en grasgewasse kan gebruik.”

Louw sê dit hou ook ʼn enorme potensiaal vir Suid-Afrikaners se groot behoefte aan plantaardige olies in. Tans is Suid-Afrika ʼn netto invoerder van hierdie belangrike voedselkomponent en al die kanola-olie wat dus plaaslik geproduseer word, in plaas van ingevoer word, help tot die uitbou van Suid-Afrika se landboubedryf.

Die grootste kanola-oliepers en -verwerker in Suid-Afrika is Southern Oil (Soill) wat in Swellendam en Moorreesburg geleë is en deel vorm van die SSK-groep en die Werknemerstrust. Dié maatskappy het ʼn totale parskapasiteit van 250 000 ton en neem meer as 90% van die land se totale oes op. Die finale produkte wat hulle lewer, buiten kookolie, is onder andere mayonnaise en doopsouse.

Zander Spammer, landbouhulpbronbestuurder by SOILL, skryf hierdie rekordoes toe aan drie sleutelfaktore: “Gunstige weer, verbeterde kanolakultivars en verbeterde boerderypraktyke.”

Hy sê hoewel Suid-Afrika oorwegend staatmaak op plaaslik vervaardigde kanola-olie, bly dit ʼn netto invoerder van alle vette en olies. Plaaslike produksie van groente-olies het geleidelik toegeneem en het van 2021 tot 2022 met 4,3% gestyg, maar invoere het in dieselfde tydperk met 12,0% gestyg. Dit terwyl totale verbruik op ʼn jaargrondslag effens met 1,3% afgeneem het, wat die druk op verbruikersbesteding uitlig.

Die afhanklikheid van groot groente-olie-produserende lande maak Suid-Afrika kwesbaar vir prysonbestendigheid. Onlangse wêreldgebeure soos die oorlog in Oekraïne, droogtes in Spanje en Suid-Amerika, die Turkse verbod op die uitvoer van olyfolie en produksiebeperkings in Maleisië het almal plaaslike oliepryse beïnvloed. Hierdie faktore onderstreep die belangrikheid van die ondersteuning van plaaslike produkte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiepie ·

Ek sou eerder sê die boere kan hul Skepper dank vir die goeie oes as om hulleself op die skouer te klop en ek is seker meeste van hulle doen dit wel.

Nommer 7 ·

Kanola olie is sleg en het ‘n vis reuk, daarom eerder sonneblomolie vir my!

Olive ·

Baie geluk julle Kanola Boere. Wat jy saai sal jy maai en dit is die resultate van harde werk. Soos, neem kennis Kiepie:) deur God verwag word en daarom kan hulle ‘n klop op die skouer kry. Party hande vernietig en ander skep en ontwikkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.