Renosterstropery neem af, maar…

Renosters verkeer steeds onder groot gevaar. (Foto: Maroela Media)

SANParke se renosterstroopsyfers vir verlede jaar is deur die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) bekendgemaak. Dit het noemenswaardig afgeneem en die rede is aangevoer dat dit verband hou met ’n toename in teenstropery-aktiwiteite in die Nasionale Krugerwildtuin (KNP).

Maroela Media het vroeër berig altesaam 451 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop. Dit verteenwoordig ʼn 24%‑afname teenoor die getal stropings in 2019.

’n Noue werksverhouding tussen die polisie se eenheid vir bedreigde spesies, die SANParke-inspektoraat vir omgewingsmisdade en ander agentskappe, het gelei tot meer inhegtenisnemings en skuldigbevindings, sê Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye.

Dié skynbare oorwinning skets egter net ʼn gedeelte van die prentjie.

ʼn Ander hartseer werklikheid

Maroela Media het by Gerhard Heyneke, voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), gaan uitvind waarom renosterstropery op private eiendom, wat wildboere insluit, toegeneem het.

Hy sê die hele verhaal word nie vertel nie. “Hoewel die daling in stropingsyfers in die KNP goeie nuus is, is die hartseer werklikheid dat die stropingsyfer in die KNP afgeneem het in verhouding met die dramatiese vermindering in die aantal renosters in die park.

“Die feit dat daar soveel minder renosters in die KNP oor is, sal beslis ʼn invloed op die syfers hê. Die park is byna twee miljoen hektaar groot en dit is dus maklik om te besef dat die oorblywende renosters nie so maklik deur stropers gevind word nie.

“Die werklikheid is dat, ten spyte van honderde miljoene rand wat reeds aan die teenstropingsveldtogte spandeer is, die getal renosters in die park met meer as 70% afgeneem het. Die stropery sal ook nie stop nie, al word aangevoer dat ʼn keerpunt om die getalle te stabiliseer, bereik is.”

Bewaring deur benutting

Heyneke sê dit het lankal reeds tyd geword om ʼn denkskuif te maak ten opsigte van volhoubare bewaring van ons ikoniese spesies in Suid-Afrika. “Bewaring deur benutting bly steeds die beste oplossing vir die doeltreffende bewaring van spesies.

“Die enigste werkbare oplossing is om renosterhoring, wat ʼn hernubare produk is, internasionaal te verhandel. Dit gee waarde aan ʼn werklike produk wat deur renosters geproduseer word, wat in kapitaal omgesit kan word en ʼn inkomste kan genereer, om te beskerm en te bewaar.

“Hierdeur kan ons beskermde gebiede, wat tans onder groot geldelike druk verkeer, ʼn welkome kapitaalinspuiting van miljarde rande kry, wat sal bydra om die ikoniese KNP en ander parke te beskerm. Gemeenskappe kan opgelei word om bewaring toe te pas en skole en bewaringsentrums kan met hierdie geld gebou word. Duisende werksgeleenthede vir uiteenlopende gemeenskappe kan hieruit vloei.”

Hy sê die private sektor bestuur renosters op twee maniere, eerstens deur vrylopende aanhouding op plase, of deur geregistreerde CBO’s (captive breeding operations). Die private sektor se CBO’s toon sedert 2011, onder huidige regulasies, ʼn bevolkingsaanwas van tussen 8% en 12% per jaar. In vergelyking daarmee het die KNP ʼn daling in renostergetalle van 6% oor die afgelope vyf jaar getoon.

Volgens Heyneke het die internasionale unie vir natuurbewaring (IUCN) ʼn riglyn gebied dat ʼn bevolkingsaanwas van plus 5% gehandhaaf word. “Die KNP se aanwas is dus twee keer minder as dié riglyn, terwyl die private sektor deurgaans ʼn aanwassyfer van meer as 5% handhaaf.

Hy sê WRSA het ʼn studie hieroor deur Deon Furstenburg, direkteur van wildekologie by Geo Wild Consult, laat doen, waarin ʼn steekproef van 3 000 renosters in die private sektor gebruik is, wat meer as die totale renosterbevolking in die KNP is.

 

Olifante bedreig renosters

Heyneke sê ʼn ander rooilig in die bewaring van ikoniese spesies in Suid-Afrika, is die oorbevolking van olifante in die KNP. “Hierdie spesie het ʼn verwoestende uitwerking op die park se biodiversiteit, wat slegs deur dringende ingryping bekamp kan word.

“Die toenemende olifantdruk veroorsaak verdere mededinging met renosters, wat na alle wetenskaplike waarskynlikheid ook tot die afname in aanteel en prestasie van renosters in die KNP lei.

“Die tyd vir die denkskuif om verdere verlies van ons ikoniese diere en biodiversiteit te voorkom, was nog nooit so belangrik soos nou nie. Die tyd loop uit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos ·

Die data is maar baie eensydig. In 2020 was daar ongeveer 3600 renosters in KNP waarvan 247 gestroop was d.w.s 6.9% van die populasie, in 2021 was daar ongeveer 3350 renosters oor waarvan 209 gestroop was d.w.s 6.2% van die populasie. Nie veel van ‘n afname eitnlik nie.

Treurwilger ·

Verstommende traak-my-nie-agtigheid.
Vergelyk die private sektor se aanwassyfer teenoor die KNP en skrik wakker.

Rudolf ·

Wildstropers behoort op sig doodgeskiet te word. Los dan hulle lyke in die veld om te vrot en/sodat ander wildstropers dit kan sien!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.