Rooivleisbedryf groet ʼn reus

Dr. Michael Bradfield het uitsonderlike werk in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf gedoen. (Foto: Wagy.org.za)

Een van die mees gesiene en gerespekteerde rolspelers in die rooivleisbedryf, dr. Michael Bradfield, het sy stryd teen kanker verloor. As hoof van die Lewendehawe Registrerende Owerheid (LRF), wat die genetiese evaluasieprogram Breedplan administreer, asook die hoof van die Wagyu-telersgenootskap, het hy diep spore in die bedryf getrap.

“Die passie wat Michael vir die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf gehad het, was merkwaardig,” sê James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

“Hy was ʼn ware vriend van die RPO en die insette wat hy binne die RPO se uitvoerende raad gelewer het, was van onskatbare waarde.”

Volgens Faber was Bradfield se insette instrumenteel tot die nuwe statutêre heffingsaansoek sodat die rooivleisbedryf ʼn sterker skakelfunksie kan verrig om navorsing, verbruikersbewustheid, dierewelsyn, biosekerheid, vleisveiligheid, regulatoriese beheer en handelspromosies te bevorder.

Daarbenewens was hy ook nou betrokke by die implementering van ʼn naspeurbaarheidstelsel vir Suid-Afrika. “Met sy kennis van internasionale naspeurbaarheidstelsels was dit ʼn groot aanwins vir Suid-Afrika.”

Johan de Vos, die voorsitter van die Wagyu-telersgenootskap, het aan Maroela Media gesê dat Bradfield ook ongelooflike werk vir dié organisasie gedoen het toe hy as die eerste hoof van die Wagyu-telersgenootskap aangestel is. “Hy het by die Wagyu’s ingekom toe dit baie deurmekaar was en met sy gevoel vir struktuur het hy die genootskap reggeruk en op ʼn totaal ander vlak gesit.

“Hy was ʼn baie sterk wetenskaplike, maar ook ʼn goeie administrateur en kon baie goed met mense werk en het bekwame mense aangestel.

“Hy het die regering en private sektor bymekaar gebring met die ontwikkeling van ʼn naspeurbaarheidstelsel ontwikkel as teenvoeter vir bek‑en‑klouseer.

“Jy hoef ook net te kyk waar ons bedryf nou op ʼn genetiese vlak staan met behulp van Breedplan.”

Bradfield was ook die bestuurder van die elite Aldam‑veeskool wat vanjaar steeds ʼn sukses was te midde van die Covid-19-pandemie. “Sy plan was om dit uit te brei tot ʼn Afrika-wye veeskool. Hy het nog soveel planne en drome gehad.

“Een van sy ander besondere prestasies was toe hy in 2020, tydens die Covid-19-pandemie as Suid-Afrikaanse gasheer die tweede Wagyu- internasionale kongres as ʼn aanlyn kongres geïnisieer het. Hiervoor het die Internasionale Wagyu-raad hom die eerste ere-ambassadeur-toekenning gegee vir sy uitsonderlike werk om die raad se belange te bevorder,” sê De Vos.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blikkies ·

So jammer om van sy afsterwe te hoor. My gebede is met sy familie in hierdie tyd. So gaan al ons bestes en mees kundiges sonder dat hulle ooit op so vlak vervang sal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.