SA en Hongarye ‘boer’ bymekaar

Adolf Kleinhans, hoof van KC Safari Services, Dirk Hanekom, hoof van Agri All Africa, Johannes Kleinhans, hoof van Pioneer Safaris & Berchtesgaden Game Ranch en Matthew Holmes, hoof van Summit of Africa met die Hongaarse parlement in Budapest in die agtergrond. (Foto: Facebook)

ʼn Omvattende landbou-, handels- en akademiese ooreenkoms uit ʼn onverwagse oord het Suid-Afrikaners te beurt geval toe hulle ʼn vriend in Hongarye gevind het.

ʼn Twee weke lange besoek deur ʼn Suid-Afrikaanse afvaardiging aan Hongarye in Oktober begin reeds vrugte afwerp vir die landbougemeenskap.

Die besoek het gevolg op ʼn vroeëre skakeling van dr. Theo de Jager, medestigter van Agri All Africa (AaA), voorsitter van die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief (SAAI) en ook die dienende president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO), met die Hongaarse landbougemeenskap.

AfriForum én Solidariteit het Hongarye intussen besoek en die stigting van ʼn Suid-Afrikaans-Hongaarse vriendskapsvereniging het gevolg. Daar is ook vooruitsigte vir die stigting van ʼn gesamentlike handelskamer.

Die landbou-afvaardiging was saamgestel uit ʼn viermanskap met Dirk Hanekom, hoof- uitvoerende beampte van AaA, Matthew Holmes, hoof van Summit of Africa, Johannes Kleinhans, hoof van Berchtesgaden Game Ranch & Lifestyle Farm en sy seun Adolf, hoof van KC Safari Services.

“Ons was baie bevoorreg om meer oor hul snelgroeiende ekonomie te leer,” sê Hanekom.

“Uit verskeie kultuur- en sakegesprekke wat vooraf gevoer is, het dit duidelik uitgekom dat die Hongare ʼn natuurlike belangstelling in die Afrikaners en die kulturele verskeidenheid in Suid-Afrika toon. Hulle het ook ʼn sterk fokus op die natuur en Suid-Afrikaanse boere.

Die afvaardiging uit Suid-Afrika het samesprekings tot op regeringsvlak gevoer. (Foto: verskaf)

“Afgesien van die ondersteuning van Hillfort, die Hongaarse beleggingsmaatskappy wat ons genooi het, het die Suid-Afrikaanse afvaardiging ook uitstekende en professionele samewerking van die Hongaarse owerhede en instellings, waaronder die kantoor van die Hongaarse ambassadeur in Pretoria, ontvang.”

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging het verskeie besoeke gebring aan onder meer die reuse-ekspo, Budapest One with Nature, wat fokus op landbou, jag, die buitelewe en buitelugavonture, asook ʼn voedsel-en-wynfees.

ʼn Besoek aan een van die grootste organiese nie-GMO-saadkwekers in Europa (ZKi) het gevolg, asook ʼn besigtiging van ʼn outentieke eikehout-kuiperfabriek en wynplaas.

Tydens die besoek is daar ook ʼn memorandum van verstandhouding tussen die partye geteken.

 

Studiegeleenthede aan top-universiteite

Ontmoetings met etlike akademici was ook ʼn belangrike komponent van die toer.  Gesprekke oor voortgesette tersiêre opleiding in landbou in Hongarye is op parlementêre en departementele vlak, asook met verskeie universiteite en kommersiële platforms gevoer.

“In Hongarye is daar 34 universiteite vir 9,5 miljoen inwoners, waarvan twee onder die top-100 universiteite wêreldwyd gereken word. Dít terwyl slegs een van Suid-Afrika se 26 universiteite in die top-420 is. ʼn Ooreenkoms met Hongarye sal dus beter geleenthede vir ons jongmense ontsluit,” sê Hanekom. “Hongarye het reeds 400 beurse, waarvan heelwat in landbou-rigtings, vir Suid-Afrikaners aangebied.”

Die Hongare is getrakteer met ‘n uitstappie na ‘n regte Bosveldplaas naby Vaalwater. (Foto: Verskaf)

Werp reeds vrugte af

 Hanekom het vir Maroela Media gesê hulle het ʼn handelsplatform vir dienste en produkte tussen dié twee lande en hul afsetpunte geskep.

 “Tydens die besoek was daar ʼn sterk fokus op die uitvoer van wildsvleis, asook die bemarking van toerisme- en jaggeleenthede, wat waarskynlik tot ʼn toename in toerisme en jagters vanuit Hongarye en omliggende lande sal lei.

 “Agri All Africa verteenwoordig boere oor die hele Afrika en skep onder meer vir hulle uitvoergeleenthede. Hoewel die verkrygingsjaar in Hongarye eers volgende jaar weer afskop, is nisprodukte in klein hoeveelhede soos wyn, heuning, neute, koffie en tee uit Afrika reeds soontoe uitgevoer.”

Troeteldierkos, wat nie in Hongarye vervaardig word nie, is ook al daarheen gestuur.

“Ons het ook nie-GMO- en organiese saad van gewasse soos paprika, spanspek, komkommers, tamaties, ertjies en waatlemoene uit Hongarye teruggebring, wat ons op Berchtesgaden geplant het, en wel met baie goeie resultate.”

Dié Hongaarse waatlemoen is klein genoeg vir een porsie. (Foto: Verskaf)

Die Hongare is die afgelope naweek in uiters reënerige omstandighede na Berchtesgaden, wat naby Vaalwater geleë is, geneem om ook aan hulle ʼn egte Bosveld-ervaring te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Nie-gmo-saadkwekers… Wow… Iewers op die aarde is daar nog mense by hul volle positiewe. Hoera!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.