Saai gryp in by Landbank-herrie

Boere wat deur ‘n versengende droogte gekom het word nou deur Landbank geteiken (Argieffoto)

Woede heers oor die Landbank en sy agente se optrede oor die afgelope paar weke waarin boere onregverdig gedagvaar, gelikwideer en uitgeskud word.

Saai het besluit om in te gryp en ʼn paar aksies van stapel gestuur.

Dít is ʼn nasionale krisis, sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. “Die omvang, getalle en verspreiding van boere is buitensporig.” Plase wat vir geslagte lank in ʼn familie was, bates, boedels, welvaart en die lewensbestaan van honderde boere word koelbloedig vernietig en boerderyfamilies word in die proses verwoes.”

Hy het vir Maroela Media gesê baie van die plase wat geteiken word, is in die Karoo en het nou weer goeie reën gekry. “Dié boere kan nou weer asem skep en is daartoe verbind om hul Landbank-lenings terug te betaal. Boere nader ons daagliks om hul gruwelstories te vertel en ons weet van ongeveer 100 wat geraak word.

“Baie trotse boere is egter te skaam om daaroor te praat, of is finansieel nie in staat om verder te baklei nie.”

Baie landbou-ondernemings soos koöperasies was aanleners van die Landbank en baie boere was afhanklik van dié lenings. Verlede jaar het die Landbank die kontrakte beëindig en besluit om dit self te behartig. “Hulle het egter nie die vermoëns of die protokol gereed gehad om die taak uit te voer nie. Boonop het hul opheffingsprojekteboek met hul leningsboek deurmekaargeraak en dit het ʼn katastrofiese uitwerking.”

De Jager sê 34% van Suid-Afrikaanse boere het regstreeks of onregstreeks Landbank-lenings gehad en daar is nou ʼn groot geskarrel om alternatiewe te soek.

“Saai gaan nie toekyk hoe families wat dikwels geslagte lank op ʼn plaas is, so uitgeroei word nie en ons het ʼn struktuur geskep waarby boere kan inskakel.

“Ons moet soveel moontlik van die boere wat by Landbank, aanleners onder die koöperasies en die kunsmismaatskappye in die skuld is, weggeskuif kry. Daar is reeds met enkele simpatieke alternatiewe finansierders reëlings getref om te help waar hulle kan en nog meer afsprake kan volg.”

Saai het ook met ʼn paar kragtige netwerkvennote ooreengekom om ʼn dokumentêre program te skiet waarin die stories van slagoffers vertel sal word om die misbruik, mishandeling en verwoesting uit te wys.

“Ons probeer om regsaksies te koördineer en die misbruik van die likwidasieproses hok te slaan. Van Suid-Afrika se voorste prokureurs werk daaraan, en buiten pogings om met die minister van justisie daaroor te praat, is verskeie opposisiepartye geraadpleeg en word hulle gereeld op die hoogte gehou.”

Om sake te vererger is De Jager oortuig dat hierdie kwessie ʼn politieke ondertoon het.

“Ons kon nog geen swart boer in die hande kry wat aan dieselfde behandeling onderwerp is nie.

“Daar is ook lank nie meer ʼn boereverteenwoordiger in die Landbank se direksie nie. Hulle is nou net ʼn polities gedrewe organisasie.

“Baie boere nader die Landbank om lenings te tref om die skuld terug te betaal sodra die oes inkom, maar hulle is nie bereid om daarvoor te skik nie. Een boer het R600 000 by ʼn familielid geleen wat sy skuld kon delg, maar die prokureur weier om dit te aanvaar.”

De Jager sê uit die getuienis van sowat 60 boere met wie Saai kontak gemaak het, is die patroon duidelik:

  • Dit is dieselfde prokureur en likwidateurs wat vir Landbank, sy aanleners onder die koöperasies en ʼn megaboer wat ʼn kunsmismaatskappy in Limpopo besit, optree, wat die verwoesting teweegbring.
  • Hier is growwe misbruik van wetgewing en regulasies wat likwidasies reël, en dit het reeds skade aan beleggersvertroue veroorsaak.
  • Dit gaan nie net oor skuldinvordering nie, maar by uitstek ook oor die brutaliteit, die snedigheid en aggressie wat daarmee gepaard gaan. Die vernedering van pa’s voor hul gesinne, die beledigende taalgebruik van die Landbank se agente teenoor boere en die absolute weiering om na enige voorstelle vir oplossings te luister, is ontstellend.
  • Die skuld waarvoor boere (meestal slagoffers van die 8-jaar-droogte) gesekwestreer word, is kleingeld teen die waarde van hul boedels, hul bates en plase. Dit gaan nie oor ʼn eerlike poging om skuld in te vorder nie, dit is ʼn verwoestingsveldtog soortgelyk aan die verskroeide-aarde-beleid van Roberts en Kitchener.”

Hy sê wanneer die Landbank gekonfronteer word, verwys hulle bloot die persoon na hul prokureur en die maatskappye en sake-organisasies wat betrokke is, staan graag terug en sê dit is uit hul hande, want dit is deel van ʼn regsproses. Daar is ook ʼn paar megaboere wie se name opkom wat presies dieselfde likwidateurs en prokureurs gebruik en nie bereid is om oor oplossings te gesels nie.

De Jager sê boere wat kla of kritiese vrae vra, word nog meer geviktimiseer. “Wanneer ʼn ou oom kort nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, voor ʼn naweek toegesluit word omdat hy nie geweet het dat ʼn hofbevel teen sy Facebook-plasing oor sy ervaring met die Landbank se agente verkry is nie, moet jy weet daar is groot fout! Dit is soos om ʼn vlieg met ʼn jaggeweer te skiet!

“Ons moet onthou dat as ʼn boer van sy grond afgestamp word, dit baie goedkoop in die hande gekry kan word en vir so min soos 25% van die markwaarde bekom kan word.”

Maak kontak met Saai om hulp te kry of om hulp aan te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Mooi so SAAI.. Werk die gemene onderduimse klomp se sake.
Moet ASB nie dat hul wegkom met die wanpraktyke.
Hou ons op hoogte MM

Lourens CFG ·

Die name van die betrokke persone en mega boere moet ook genoem word, moenie hulle beskerm nie.

Harley Davidson ·

As die media dit so aanblaas soos met die zama zamas in die Wesrand sal dieselfde gebeur wat met die zama zamas besig is om te gebeur

Marie ·

Hierdie prokureur en sy jakkalsvriende loop letterlik oor lyke. Ek hoop sy tjank word afgetrap, dit is ‘n skande dat hy so lank daarmee weggekom het. Die wiel draai…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.