Saaiprojek maak groot wins vir welsyn

Foto: Maroela Media (Foto ter illustrasie)

Die Saaiprojek van Porterville se Gemeenskapsvereniging het ʼn netto inkomste van R200 000 vir die 2020-’21-produksieseisoen gegenereer. Dit bring die totale bedrag wat sedert die ontstaan van die projek aan begunstigdes uitbetaal is op ʼn stewige R1,6 miljoen te staan.

Die Porterville Gemeenskapsvereniging is in 2003 gestig as ’n liefdadigheidsorganisasie met die doel om alle winste wat genereer word onder die behoeftiges in die gemeenskap te verdeel.

Die Saaiprojek is in 2004 op die been gebring en behels die verbouing van graan op meentgrond van 22 ha, wat gratis deur die Bergrivier-munisipaliteit beskikbaar gestel word. In 2020 is ʼn ooreenkoms vir nege jaar en 11 maande met die munisipaliteit gesluit vir die verdere gebruik van die grond vir die projek.

Een van die stigterslede van die vereniging, Kaap Agri, speel ʼn groot rol om die volhoubaarheid van die projek te verseker. Die fondse is onlangs op ’n geleentheid by die Kaap Agri-kantoor op Porterville aan die vereniging oorhandig.

Johan de Lange, Kaap Agri se afdelingshoof vir dienste en verhoudings wat reeds jare by die inisiatief betrokke is, sê die volhoubaarheid van die projek is van groot belang vir die maatskappy. “Kaap Agri se bestaansrede is dat alle belanghebbers beter daaraan toe moet wees omdat ons bestaan en dit verg ʼn langtermynbenadering tot gemeenskapsontwikkelingsprojekte en fokus op die bou van verhoudings.

“Danksy Kaap Agri se sterk graandienste-afdeling kon ons heelwat kundigheid deel en ook help met die koördinering en administrasie van die projek. Dis veral lekker om te sien hoe die saaiprojek gegroei het en nou jaarliks ʼn stewige geldinspuiting aan behoeftige gemeenskappe op die dorp kan voorsien.”

Gedurende 2020, met die aanvang van die grendeltyd, het die projek ook R60 000 geskenk om voedselhulp aan die gemeenskap te verleen.

Ten einde ’n groter deel van die inkomste uit die verkoop van die graan aan die begunstigdes beskikbaar te stel, sit ʼn verskeidenheid van insetverskaffers hand by om insette (saad, kunsmis, chemie, ens.) en dienste (krediet, boekhouding, kontrakwerk, ens.) volledig of gedeeltelik te borg.

Die borge wat vanaf die totstandkoming van die saaiprojek ondersteuning verskaf het, is: die Bergrivier-munisipaliteit, Kaap Agri, Sensako, Yara, Omnia, Greenspan, Viking, Villa Crop Protection, AG-Sprayers en Integrum Audit, Wenkem, Inteligro, Nitrophoska, Bayer, RSAM, Mutual and Federal-versekering, Syngenta, Porterville Korrektiewe Dienste en SA Kalk & Gips.

Die inkomste wat deur die saaiprojek genereer word, gaan aan Porterville Primêr, Hoërskool Porterville, Huis Nerina en die Badisa Christelike welsynsorganisasie op die dorp. Verlede jaar het die begunstigdes ook R200 000 van die winste gedeel.

Alec Amerika, Badisa; Cedric Zinke, Porterville Primêr; Cobie Liebenberg, stigterslid; Pieter du Plessis, stigterslid; Lynette Peterson, Huis Nerina en Marietjie Potgieter, Hoërskool Porterville werk saam om die behoeftige gemeenskap van Porterville op ʼn volhoubare manier te onderhou.

Wayne Dirks, voorsitter van die Porterville Gemeenskapsvereniging, sê die betrokkenheid en ondersteuning van die borge is die kern tot die sukses van die saaiprojek. “Die doelwit is dat die geld binne elke instansie aan minder bevoorregte persone beskikbaar gestel word. Soos blyk uit die seleksie van die begunstigde instansies, word die klem op kinders en bejaardes geplaas.

“Die Porterville Gemeenskapsvereniging streef daarna om volhoubaar aan sy gemeenskap finansiële ondersteuning te bied en daadwerklik ʼn verskil te maak in die lewens van minderbevoorregtes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.