Samewerking met ANC maak landboudoelwitte moeiliker haalbaar

Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

Deur Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom

Die primêre doelwitte van die landboubedryf raak baie moeiliker haalbaar in die lig van sekere groepe in georganiseerde landbou se ondersteuning en samewerking met die ANC-regering om sy vernietigende, sosialistiese ideologie in werking te stel.

Die probleem word duidelik uitgelig in die artikels, “Georganiseerde landbou moet pas aandui” en “Hou deure tussen landbou en politici oop”, wat handel oor die landbou se rol in die politiek en standpunte oor grondonteiening tydens Agri Wes-Kaap se kongres. Hierdie artikels het in die Landbouweekblad van 19 Augustus 2021 verskyn.

Die twee artikels weerspreek mekaar oor georganiseerde landbou se betrokkenheid by die landbou-ekonomiebeleidsdoelwitte waaroor daar in werklikheid geen twyfel of verskille kan bestaan nie, behalwe in ʼn sosialistiese beleidsomgewing.

Die belangrikste doelwitte van die landbou is eerstens die bevordering van  winsgewendheid en die volhoubaarheid van kommersiële landbouproduksie wat op aanvaarbare, wetenskaplike en ekonomiese beginsels gegrond is om die finansiële oorlewing van produsente te verseker.

Tweedens moet daar ondersteuning aan en bevordering van landbou gebied word om die bedreigings wat die internasionale en plaaslike politieke en ekonomiese verwikkelinge vir die bedryf inhou, daadwerklik aan te pak. Daarbenewens moet die geleenthede wat nuwe tegnologiese en ekonomiese ontwikkelinge teweegbring, benut word om voedselsekerheid vir die land te verseker.

Derdens is die daarstelling van ʼn politieke en ekonomiese beleidsomgewing kritiek noodsaaklik. Dit moet die landbou in staat stel om deur ʼn verbetering van die bedryf se winsgewendheid ʼn groter bydrae tot ekonomiese groei te lewer. Dié spesifieke landbou-ekonomiese en wetenskaplike beginsels berus op die optimale en winsgewendste vlak van produksie, aangesien voedselsekerheid slegs volhoubaar kan wees as die produksie van voedsel winsgewend is.

Georganiseerde landbou se belangrikste taak is om sover moontlik betrokke te wees en die regte insae te gee in die regering se makro- en landbou-ekonomiebeleid.

Sedert die nuwe regering aan bewind gekom het, met sy algeheel oorheersende sosialistiese politieke en ekonomiese ideologie, het dit baie ernstig vermeng geraak met die landbou se primêre doelwitte. Dit het in werklikheid ʼn baie groot bedreiging vir, onder meer, die landboubedryf, die ekonomie en die land in die algemeen geword.

Sekere organisasies in georganiseerde landbou het ʼn groot ondersteuner van die regering se vernietigende beleid geword deur hul uitsprake en samewerking met die sosialisties gesinde, georganiseerde privaat sektor. Laasgenoemde blyk ook ʼn sosiale vennoot van die regering te wees, waarin die primêre beleidsdoelwitte van die landboubedryf nie meer ʼn belangrike prioriteit is nie.

Die regering en sy sosiale vennote het nog nooit verstaan dat ekonomiese groei van die aanbod- en vraagkant van die ekonomie geskep word wat deur die winsmotief gedryf word. Daar is geen ander manier nie.

Onder die huidige ekonomiese toestande sal georganiseerde landbou dit deeglik moet besef dat hy met sy samewerking en ondersteuning van die regering se sosialistiese beleid die landbou en die ekonomie verder onomkeerbaar gaan vernietig.

Die organisasies sal ʼn baie ernstige standpunt moet inneem deur die regering se sosialistiese ekonomiese beleid teen te staan en te verwerp. Anders sal die bedryf saam met die res van die ekonomie binne die volgende drie tot vier jaar finaal vernietig word. Die aftelling het reeds begin.

Georganiseerde landbou kan nooit sy plig versuim om nie ten volle by die “regering se politieke en ekonomiese beleid betrokke te wees” soos sommige politieke kommentators dit wil hê nie. Die ondersteuning van die regering se beleid van grondonteiening sonder vergoeding was ʼn baie groot fout wat uiteindelik ʼn klaaglike mislukking sal wees, wat die regering en ekonomie uiteindelik verder in duie sal laat stort.

Verskeie kommersiële boere het uit vrye keuse baie van hulle plaaswerkers deel van hulle boerdery-ondernemings gemaak wat die beste alternatief is vir die vernietiging van die landbou en die ekonomie deur grondonteiening sonder vergoeding.

Die ANC het tydens sy 2017-kongres ʼn besluit geneem dat die onteiening van grond sonder vergoeding ʼn belangrike prioriteit van sy sosialistiese ideologie moet wees, maar onderhewig aan die voorwaardes dat dit nie landbouproduksie, voedselsekerheid of ander bedrywe in die ekonomie moet benadeel nie.

Ten spyte daarvan strompel die ekonomies ongeletterde en onbevoegde politici steeds voort om die grondwetwysiging deur te voer vir die instelling van grondonteiening sonder vergoeding.

In Zimbabwe is die regering besig om wit boere te finansier wie se grond twee dekades gelede onteien en op beslag gelê is. Geld word regstreeks by buitelandse beleggers geleen vir die eerste helfte van hierdie vergoedingsooreenkoms van $3,5 miljard (nagenoeg R52 miljard).

Georganiseerde landbou sal sy ondersteuning van die regering se sosialistiese ideologie moet staak. Politieke kommentators moet hulself ook daarvan weerhou om deurlopend ondeurdagte en onverantwoordelike uitsprake en kommentare oor die volhoubaarheid van voedselproduksie en ekonomiese groei te lewer waarvan hulle geen kennis dra en wat geen bydrae lewer tot die bereiking van die wesensdoelwitte van die landboubedryf nie.

Ons kan nie so voortgaan in die land nie. Daar sal niks oorbly nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Drikus ·

Danie Fanie, enige regdenkende mens weet jy is 100% reg. Ons sal moet hard hoop en nog harder bid. Ek dink dit is tyd om te kyk vir ‘n plasie in Zim. Hulle is darem nou al deur die gekkigheid, hulle kan net beter doen.

annie ·

Voedselsekerheid… Eerlikwaar. Ons moet ‘n standbeeld oprig vir daai vreemde karakter wat Monsanto begin het met meer sekuriteit as die Pentagon waar vreemder eksperimente uitgevoer is en deur dwase Bayer oorgeneem is. Voedselsekerheid=vol bankrekeninge vir boere=siek mense=geen bye=is swak produksie=is meer Monsanto=nog meer Monsanto=is regstellende aksie=is nuwe lui eienaar=geen Monsanto=geen oeste=ingevoerde kos=is gesonder mense=is weer bye=is weer oeste en geen sluwe slim boere. Wat is die straf vir skynheilige goddeloosheid?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.