SA’ners kan nie verbied word om te jag

Jag en die kultuur wat daarmee saamkom is al duisende jare oud. (Foto: Verskaf)

In die gees van Erfenisdag het die nuutgestigte jagalliansie, SUCo-SA (Sustainable Use Coalition South Africa) aangekondig dat hy sal veg om ʼn belangrike eeue-oue tradisie, Suid-Afrikaners se jagerfenis, te bewaar terwyl hy ʼn volhoubare jagbedryf bevorder.

“SUCo-SA is streng apolities, maar ons het die reg om te praat oor Suid-Afrikaners se kollektiewe erfenis as dit by jagtradisies kom,” sê dr. Herman Els, voorsitter van SUCo-SA.

Hy sê die jagbedryf kom voor baie uitdagings te staan, soos dat dit as ʼn onmenslike praktyk deur groen aktiviste en bewegings gebrandmerk word. Hy sê ook dat die hoofstroommedia nie die volle storie vertel nie.

Maroela Media het vroeër berig dat nege organisasies wat in die jagbedryf betrokke is, hul gewig agter hierdie alliansie ingegooi het om die belange van die bedryf te bevorder.

“ʼn Newevoordeel van jag is dat 18 miljoen ha in Suid-Afrika vandag ‘ver-natuurlik’ is.” Dit beteken dat die natuur daar toegelaat word om na homself om te sien. Dit bestaan uit ongeveer 13 000 wildplase.”

Els sê ook die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se eens bedreigde wildspesies word vandag op privaatgrond aangetref. Dit sluit die oribi, bastergemsbok en swartwitpens in wat slegs in klein getalle op ʼn paar plekke, wat deur die staat bestuur word, gevind word.

Volgens Gerhard Heyneke, voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), word 97% van oribi’s tans op privaatgrond gevind, terwyl slegs 3% in nasionale bewaringsgebiede aangetref word. Daarbenewens word 88% van bontebokke, 95% van bastergemsbokke en 97% van swartwitpense op privaatgrond aangetref.

“Wild [wat weens onvolhoubare jagpraktyke in die vorige eeu tot gevaarlike lae vlakke gedaal het] het onder regeringsbestuur tussen 1930 tot 1960 tot een miljoen gestyg. Op ekonomies lewensvatbare privaatwildplase het dit oor die afgelope 60 jaar tot nege miljoen gestyg,” sê Els.

“Privaatwildplase maak vandag 16,8% van Suid-Afrika se oppervlakte uit, teenoor slegs 6,1% wat deur bewaringsgebiede bedek word. Daar is min ander lande wat dieselfde kan sê.”

Stephen Palos, uitvoerende hoof van die konfederasie van jagtersverenigings in Suid-Afrika (Chasa), het dié streek se jagkultuur duisende jare teruggeneem toe hy sê dat die eerste pylpunt wat in Suid-Afrika gevind is van been gemaak is en uit ʼn tyd 61 700 jaar gelede dateer.

“Dit is die definisie van erfenis en elke volk wat ooit in Suid-Afrika geleef het, het sy eie ryk jaggeskiedenis. Dit is vandag steeds van toepassing.

“Hoewel baie verstedelike mense en veral Westerlinge en welgestelde gemeenskappe hulle eeue-oue erfenis opgeoffer het, is daar baie mense wat jag steeds as noodsaaklik beskou,” sê Palos.

Heyneke sê dat SUCo-SA se doelstellings strook is met die Verenigde Nasies se 15de doelstelling, wat handel oor lewe op land. Dit behels die beskerming, herstel en bevordering van die volhoubare gebruik van ekostelsels, die volhoubare bestuur van woude, die staak en voorkoming van woestynvorming en grondverarming en om verliese aan biodiversiteit te verhoed.

Op ʼn vraag van Maroela Media oor hoe die inkomste van fotografie met dié van jag vergelyk, het Els gesê dat die twee bedrywe nie regtig met mekaar vergelyk kan word nie en verskillende behoeftes het.

Hy sê jagters verkies eerder vlaktes terwyl fotograwe meer na bergagtige dele met mooi uitsigte sal gaan. Fotografie kan ook nie naastenby soveel inkomste en voordele vir plaaslike gemeenskappe bied as jagters nie, weens die hoeveelheid geld wat bestee word om foto’s te neem teenoor die koste om byvoorbeeld grootwild te jag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

groenboer ·

Die hemele behoed ons bedreigde spesies teen die “groen aktiviste” (gewoonlik eerder dieregte-aktiviste as omgewingskenners)…

Andries ·

Pas net op dat jaag (geen spelfout nie) met honde of die stel van strikke nie op ‘n dag tot tradisionele metodes van jag verklaar word nie.

Jaco ·

Weet die eienaars van al dié privaat wildplase van onteiening sonder vergoeding???

Grens ·

Weet jy dat, as jy ‘n huis besit, geld dieselfde vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.