Ses beboet wat vee onwettig vervoer

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Ses verdagtes is suksesvol in die Vrystaat vervolg en ʼn boete opgelê nadat hulle nie die korrekte dokumente kon toon om vee te vervoer nie.

Hulle is op 2 Oktober in die Fouriesburg-omgewing in hegtenis geneem nadat die polisie opgemerk het hul veeverwyderingspermitte is nie korrek ingevul nie.

Dit is die eerste keer dat oortreders wie se dokumente nie korrek is nie, formeel in die Vrystaat aangekla en in ʼn hof gevonnis is. Dít, meen Vrystaat Landbou (VL) in ʼn verklaring, kan help om veediefstal te bekamp.

Die inhegtenisneming het tydens ʼn gesamentlike operasie deur sigbare polisiëring, die veediefstaleenheid te Fouriesburg, die departement van binnelandse sake en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) plaasgevind.

Die oortreders is intussen voor die hof gebring en suksesvol vervolg. Hulle is elk ʼn boete van R1 500 opgelê en het nou ook ʼn kriminele rekord.

Volgens Isabel Kruger van die veediefstalvoorkomingsforum van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat, is dit die eerste keer dat die polisie regstreekse inhegtenisnemings op grond van artikel 8 van die Wet op Veediefstal uitvoer.

“Hierdie wet is al in 1959 gepromulgeer, maar in die verlede is die voordeel van die twyfel aan die oortreders gegee en laat gaan as die dokumente nie 100% reg ingevul is nie. Volgens die advokaat van die SAPD is dié veeverwyderingsertifikaat wat volgens artikel 8(1A) uitgereik word,  ʼn wettige dokument wat korrek ingevul moet word. ʼn Boete en kriminele rekord staar dus die oortreder in die gesig as dit nie gedoen word nie.

“Tans kan jy tot en met R5 000 beboet word as jy nalaat om die dokument reg in te vul.”

VL en die RPO het in ʼn gesamentlike verklaring die polisie in die Vrystaat bedank en gesê dat die inhegtenisneming ʼn sterk boodskap uitstuur.

“Ek wil die polisie, NVG en die departement van justisie bedank vir die flink manier waarop oortreders voor die hof gebring en gevonnis is. Dit is ʼn bewys dat die kriminele regstelsel baie vinnig kan reageer met inhegtenisnemings en daaropvolgende vonnisoplegging, wat verder daarop dui dat daadwerklike optrede deur die polisie tot positiewe resultate aanleiding gee,” sê Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, meen dat die optrede deur die polisie en vonnis in die hof ʼn goeie boodskap sal stuur na enige voornemende oortreders wat nie die veediefstalwetgewing rakende die besit en vervoer van vee op openbare paaie nakom nie.

Kruger het aan Maroela Media gesê dat boere ook moet kennis neem dat daar reeds besprekings aan die gang is om die Wet op identifikasie van diere (Wet 6 van 2002) te verander, om onder andere groter boetes te kan hef.

“As jy tans in die besit van vee is wat nie gemerk is nie, kan jy dadelik ʼn boete van R3 000 opgelê word en as daar aan die merk verander is of die oor afgekap is, gaan jy hof toe. As jy vee koop of verkoop waarvan die brandmerk volgens artikel 6 nie reg is nie, kan jy ʼn boete van R5 000 opgelê word.”

Sy sê dat hulle ʼn ander probleem ondervind. Hoewel die wet ʼn boer verplig om sy beeste eers teen ses maande te merk, en kleinvee voor hulle ʼn maand oud is, was daar onlangs ʼn geval waar 27 kalwers onder die ouderdom van ses maande gesteel is. “Dit gaan baie moeilik wees om dié diere te vind. Ons stel dus voor dat ʼn boer sy diere tatoeëer sodra hulle val.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.