Sojabone breek rekords, soek nuwe uitvoermarkte

Foto ter illustrasie. (Foto: Egroll, Pixabay)

Die somergraan-oesseisoen is goed op dreef en volgens die Oesskattingskomitee se vierde produksieskatting is die verwagte sojaboonoes 1,9 miljoen ton, wat die hoogste ooit is.

Volgens Ikageng Maluleke, landbou-ekonoom by Graan SA, is dit die gevolg van dramatiese uitbreidings in die bedryf, “maar dit beteken dat daar versiendheid aan die dag gelê moet word om ons uitvoermarkte uit te brei.

“Histories was Suid-Afrika ʼn netto invoerder van proteïen- en plantaardige olies. In 2012 het die departement van handel, nywerheid en mededinging (DTIC) egter saam met rolspelers in die bedryf ʼn ‘invoervervanging’-strategie ontwikkel deur die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf aansienlik uit te brei.

Ikageng Maluleke, landbou-ekonoom by Graan SA. (Foto: Twitter)

“Aansienlike beleggings is in soja- en sonneblomsaad-persaanlegte gemaak met ʼn  algehele kapasiteit van 2,5 miljoen ton, waarvan ʼn geskatte 1,75 miljoen ton aan sojabone toegewy word,” sê sy.

“Sojaboonboere het vervolgens goed gereageer op die aanvraag en die geplante sojaboonoppervlakte het sedert die 2016-’17 seisoen met 64,4% gestyg. Na verwagting sal dit oor die volgende paar jaar steeds sterk toeneem.”

Volgens Maluleke het die aanvraag na plaaslik geproduseerde sojabone in dieselfde tydperk ook met ongeveer 48% gegroei, met ʼn gemiddelde jaarlikse verbruik van ongeveer 1,2 miljoen ton, waarvan die meeste vir olie en koek gepers word.

Hierdie kringloop op eie bodem word al hoe groter en sterker en ʼn toename in oliekoek- en olieproduksie vervang invoere geleidelik.

“Om die bedryf nóg sterker te maak is ʼn beleid ontwikkel om nuwe sojaboonsaadtegnologie na Suid-Afrika te lok. ʼn Teling- en tegnologieheffing is ingestel om die ontwikkeling van nuwe kultivars en tegnologie aan te moedig. Sedert Maart 2019 word hierdie heffing op die bedryf toegepas om saadondernemings te vergoed vir hul belegging in genetika en tegnologie.

“Dié beleid het reeds positiewe uitkomste gelewer, wat plaaslike opbrengste sal verhoog en produksie meer doeltreffend sal maak.”

Die sojaboonbedryf ondervind wel uitdagings. “Volgens verwagting sal Suid-Afrikaanse boere hierdie seisoen ʼn oorskot aan sojabone lewer, aangesien oliekoek steeds ingevoer word. Die gevolg is ook dat plaaslike verwerkers sukkel om uit te brei.

“Die swak logistieke stelsel van die binneland na die Wes-Kaap lei weer tot afwaartse prysdruk weens oortollige voorraad,” sê Maluleke.

Sojabone se oppervlakte geplant, produksie, aanvraag en opbrengs in Suid-Afrika. (Bron: Graan SA)

Sojaboon-uitvoere

 Sy sê uitvoere bied plaaslike prysstabiliteit. “Met die verwagte produksietoename in die 2021-’22-seisoen, moet daar gekyk word na bestaande en moontlike nuwe uitvoermarkte, logistieke stelsels en die uitvoerkapasiteit van die land se hawens.”

 Suid-Afrika voer reeds sojabone en sojaboonprodukte na SAOG-lande en Turkye uit met 27 000 ton wat in 2018-’19 uitgevoer is, maar volgens Maluleke sal daar wyer gekyk moet word.

Tydens die handelsoorlog tussen China en Amerika het Suid-Afrika ʼn geleentheid aangegryp om ʼn verskaffer aan die Chinese mark te word, wat toevallig ʼn groot verbruiker van sojabone is.

ʼn Handelsooreenkoms tussen China en Suid-Afrika was egter nie gevestig nie en ʼn protokol moes spoedig vir sojabone ingestel word. Die proses het in 2018 begin en is tans in die finale stadium. “Sodra hierdie mark oop is, bied dit ʼn uitstekende geleentheid vir Suid-Afrikaanse uitvoere danksy ons liggingsvoordeel in vergelyking met die VSA.”

 Volgens die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) was die algehele sojaboonuitvoere gedurende die 2020-’21-bemarkingseisoen vanaf 1 April 2020 tot 28 Februarie 2021 altesaam 1 060 ton, terwyl soja-oliekoek 99 000 ton en soja-olie 138 978 ton beloop het.

Die vervoer van sojabone bly ook ʼn uitdaging wat aangeraak moet word. “Spoorvervoer is die goedkoopste en doeltreffendste, maar tans word daar geen sojabone op dié manier vervoer nie. Een van die doelstellings van die regering se landboumeesterplan is om spoorvervoer se kapasiteit en doeltreffendheid op lang termyn te verhoog. Daarbenewens sal ons hawens se kapasiteit ook verhoog moet word.”

Volgens die Buro vir Voedsel- en Landbouvooruitskouing (BFAP) se 2020-basislyn-vooruitskouing word verwag dat sojaboonproduksie teen 2029 altesaam 2,2 miljoen ton sal oorskry, met ʼn gemiddelde toename in opbrengste van ongeveer 4% per jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.