Son-Safari maak belegging in SA landbou

Die Laeveld Agrochem-span en hul medewerkers het hulself weereens oortref met die aanbieding van die Son-Safari-landbouskou. (Foto: Du Preez de Villiers)

Na twee asemrowende Seil-Safari’s in 2018 en 2019, waar Laeveld Agrochem ʼn landbouskou op luukse passasiersbote aangebied het, het hierdie maatskappy, wat boerderye optimiseer deur presisielandbou en gewasverbetering, die lat hoër gelig en ʼn soortgelyke skou in Mauritius aangebied.

“Die skou het ook deel van ons 30-jaar vieringe gevorm en daarom wou ons iets onvergeetliks doen, maar ook terugploeg aan ons lojale kliënte van al die jare,” sê Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem.

Maroela Media het ook die voorreg gehad om die skou mee te maak en kan onomwonde sê dat so ʼn geleentheid nie maklik geëwenaar sal word nie.

Liebenberg sê die idee dat soveel mense wat nog nie heeltemal van die Covid-19-skrik herstel het nie, nou weer in ʼn klein ruimte soos ʼn  passasiersboot moes byeenkom, nie ʼn goeie plan was nie. “Boonop, toe ons beplan het aan die skou, was daar nie baie opsies nie. Plekke in Suid-Afrika wat sulke byeenkomste kon aanbied, was nog gesluit en daarom was Mauritius ons beste keuse.”

Dit was ʼn buitengewone, maar sielsverrykende ervaring om ʼn landbouskou op ʼn tropiese eiland te beleef. (Foto: Du Preez de Villiers)

Sowat 800 Suid-Afrikaners, onder wie boere met hul gesinne, glanspersoonlikhede, motiveringsprekers, kunstenaars, landboukundiges, uitstallers en die media, het van 29 April tot 6 Mei op twee vyfsterhotelle, die Sugar Beach en La Pirogue, aan die weskus van die eiland toegesak om ʼn heuglike ervaring te beleef.

Laeveld Agrochem is ʼn groot borg van Afrikaans is Groot en dié span het saans vir eersteklaskultuur op ʼn vreemde eiland gesorg.

Die Afrikaans is Groot-span het hul harte met die een toptreffer na die ander uitgesing. (Foto: Du Preez de Villiers)

Vermaak, kos, drank en verskeie aktiwiteite was by die pakket ingesluit en terwyl die boere na die nuutste en nuttige landbou-inligting luister, het hul wederhelftes by verskeie praatjies en bedrywighede aangesluit wat deur Hannon, Anneline Kriel, Manlie Wagner, Lynette Beer, Frank Rautenbach en Arina du Plessis aangebied is.

Arina du Plessis, kosredakteur van Landbouweekblad en haar assistent, Minette Pierce, wys hoe word met die peperduur spesery saffraan gekook. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die kundiges wat boere se kennis van hul bedryf aansienlik verbreed het, was Kallie Schoeman, ʼn leierboer; Erik de Vries van Agri Technovation; dr. Ruben Richards, burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, André Fox van Andermatt Madumbi; Athol Trollip, voormalige DA-burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro; Ernst de Beer van Laeveld Agrochem; dr. Todd Cardwell, spuitspesialis van die VSA; dr. D’Wall Hauptfleisch, ʼn veearts by Onderstepoort; Theo Vorster, George Robertson en Roelf van der Merwe, van Galileo raadgewende dienste.

Theo Vorster van Galileo Capital was die programleier en het raad oor kredietaansoeke, diversifisering van beleggings en grond- en waterregte gegee. (Foto: Verskaf)

 

Kallie Schoeman bespreek die proses om ʼn familiegrondwet op te stel. (Foto: Du Preez de Villiers)

Om so ʼn projek van stapel te stuur kos natuurlik etlike miljoene rand, maar Laeveld Agrocm het vernuftig te werk gegaan sodat elkeen sy deel bydrae, maar ook waarde uit die skou kry. “Die totale begroting was reusagtig, maar ons het die koste en bydraes tussen tientalle borge, ons agente en verskaffers verdeel en boere kon selfs vir kompetisies inskryf of met hul Agribonus-lojaliteitspunte betaal,” het Liebenberg vir Maroela Media gesê.

Cherry Irrigation se Hilgard Rossouw, direkteur vir Suid-Afrika en Charles Cherry, besturende direkteur, het al die pad van Grabouw gekom om te wys wat boere met die nuutste besproeiingstegnologie kan uitrig. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Dit is ook belangrik om te weet dat die Son-Safari‑landbouskou meer is as net ʼn lekker tyd en die geld wat op pret en plesier spandeer is. Landbou gaan deur ʼn moeilike tyd en met Covid-19 het ons vriende en familie verloor, maar daar is ook deurlopende uitdagings soos droogtes, vloede en brande wat die bedryf lamlê. Daarbenewens sukkel boere met gebrekkige infrastruktuur soos paaie, hawens en die spoorweë en dan moet hulle boonop ʼn moeilike politieke omgewing trotseer.

“Derhalwe is daar op Mauritius ʼn reusebelegging in Suid-Afrikaanse landbou gemaak deur planne te maak, kennis oor te dra, verhoudings en netwerke te bou,” sê Liebenberg.

Boere kon tussen die plesier deur ook kans kry om ernstig oor hul werk te raak deur met kundiges te gesels. (Foto: Du Preez de Villiers)

Liebenberg het ook die sluier gelig oor wat hulle vir volgende jaar beplan. “Om so ʼn klomp mense oor ʼn landsgrens te neem is ʼn geweldige taak. Jy verloor mense met burokratiese rompslomp soos Covid-19-regulasies en onverkorte geboortesertifikate wat verkry moet word. Volgende jaar gaan ons dit iewers in Suid-Afrika hou, dalk in KwaZulu-Natal of by Sun City. Dan kan ons ook meer borge en die hele groep Afrikaans is Groot-kunstenaars betrek, maar die belangrikste is dan om dit toeganklik en bekostigbaar te maak vir elke enkele een wat passievol is oor landbou se toekoms”

Hy sê hulle werk reeds aan planne om met die volgende landbouskou selfs meer waarde vir hul kliente se tyd en geld te bied. “Die formaat sal egter dieselfde wees as wat die vorige drie jaar so suksesvol gemaak het. Dit is belangrik om so vroeg as moontlik te begin, want boere beplan hul vakansie maklik ʼn jaar vooruit en daarom kan hulle nou al begin om hul Agribonus-lojaliteitspunte te spaar.

Boere en hul gesinne kan uitsien na nog ʼn Laeveld-Agrochem-skou wat vir volgende jaar beplan word. (Foto: Verskaf)

“Gewoonlik is dit moeilik om in rand en sent te bepaal of die bemarkingswaarde van so ʼn skou die moeite werd is, maar ons en ons borge het wel net na die vorige twee skoue gesien dat sake aansienlik optel en nuwe sake-geleenthede hulself voordoen. Die belangrikste is egter dat Laeveld Agrochem vir sy boere wil dankie sê vir die afgelope 31 jaar se ondersteuning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.