Sonneblomblare reguleer waterverlies

Sonneblomme is baie slimmer as wat mens sou dink. (Foto: Maroela Media)

Navorsing wat deur die Universiteit van British Columbia (UBC) in Kanada gedoen is, het bevind dat sonneblomme meer as net ’n mooi gesig is. Die ultraviolet (UV)‑kleure wat in hul blomme teenwoordig is, help ook die plant om waterverlies te reguleer.

Vir wetenskaplikes is dit reeds lank bekend dat bestuiwers soos bye deur die UV-strale wat ʼn sonneblom uitstraal, gelok word. Navorsers by UBC het nou ook bevind dat dieselfde molekules wat die UV-kleure in sonneblomme produseer, ook die plant help om op droogte of uiterste temperature te reageer.

Hierdie ontdekking gaan moontlik leidrade verskaf oor hoe plante by verskillende klimaatsomstandighede kan aanpas.

Sonneblomme lyk nie vir almal dieselfde nie. ʼn Mens sien ʼn sonneblom se kop as ʼn swart kol in die middel met geel blomme rondom. Vir bestuiwers, wat UV-strale kan sien, lyk ʼn sonneblom se kop heel anders.

Vir hulle is dit is in twee konsentriese ringe verdeel. Die binneste ring (middelpunt) is groter of kleiner, afhangend van hoeveel UV-strale geabsorbeer word en derhalwe UV-kleure produseer.

“Ons het heel toevallig opgemerk dat sonneblomme wat in droër klimate groei, se blomme groter middelpunte gehad het, en gevind dat daardie blomme in staat is om water meer doeltreffend te hou,” sê dr. Marco Todesco, die hoofnavorser en ’n navorsingsgenoot by UBC se biodiversiteitsnavorsingsentrum en departement plantkunde.

Todesco en sy kollegas het in 2016 en 2019 byna 2 000 wilde sonneblomme wat uit twee spesies bestaan, by die universiteit gekweek. Hulle het die sonneblomme se UV-patrone gemeet, die plante se genome ontleed en gevind dat wilde sonneblomme uit verskillende dele van Noord-Amerika UV-middelpunte van heelwat verskillende groottes het. In sommiges was die middelpunt ’n dun ring, terwyl dit in ander die hele blom bedek het. Groter middelpunte is ook meer gereeld deur bye besoek, wat vorige navorsing van ander plantspesies ondersteun het.

Die navorsers het bevind dat ’n enkele geen, HaMYB111, verantwoordelik is vir die meeste van die verskille in blomme se UV-patrone. Hierdie geen beheer die produksie van UV-absorberende flavonolverbindings, wat ook daarvoor bekend is om plante te help om in droogtetoestande of uiterste temperature te oorleef.

“Groter UV-patrone, wat meer van hierdie verbindings bevat, kan help om die hoeveelheid verdamping van ’n sonneblom in omgewings met laer humiditeit te verminder, wat oormatige waterverlies voorkom. In vogtige, warm omgewings sal kleiner UV-patrone eerder hierdie verdamping bevorder, die plant koel hou en oorverhitting vermy,” sê die skrywers.

“Blomme se UV-patrone blyk dus ’n dubbele rol te speel. Benewens hul uitwerking op die bevordering van bestuiwing, reguleer dit ook waterverlies van blomme,” sê dr. Loren Rieseberg, ’n professor wat ook aan UBC se departement van plantkunde en die biodiversiteitsnavorsingsentrum verbonde is.

“Dit is nie iets wat jy noodwendig van ’n blom se kleur verwag nie, en dit is ’n voorbeeld van die ingewikkeldheid en doeltreffendheid van sy aanpassingsvermoë – twee behoeftes wat met ’n enkele eienskap aangespreek word.”

Die navorsers ondersoek ook ​​hoe HaMYB111 die grootte van UV-middelpunte reguleer, en in meer besonderhede hoe daardie patrone plantfisiologie beïnvloed, asook hoe presies flavonolverbindings waterverlies beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.