Sprinkane in Oos-Kaap skrik nie vir sneeu

Sprinkane het in hulle massas oor dele van die Oos-Kaap getrek terwyl daar plek-plek nog sneeu gelê het. (Foto: Eben du Plessis)

Oos-Kapenaars was verbaas om te sien hoe groot swerms sprinkane onlangs oor die sneeubedekte vlaktes in die Middelburg‑Cradock-gebied vlieg.

Volgens Eben du Plessis, onderpresident van Agri Oos-Kaap, is hierdie insekte veronderstel om dormant in sulke koue klimaat te word, “maar die veranderinge in seisoene en die moontlike aanpassing van sprinkane het hierdie vreemde verskynsel veroorsaak”.

“Ons vermoed die vog wat die sneeu veroorsaak, het met die skielike hitte kort daarna bevorderlike omstandighede geskep vir die eiers, wat in vorige seisoene gelê is, om uit te broei.

Kyk hoe lê sprinkaanwyfies eiers:

“Niemand kan egter met sekerheid sê wat die omstandighede is wat sprinkane laat uitbroei nie. Sommige eiers in dieselfde sakkie kan nou uitbroei en die ander jare daarna.”

Hierdie verwoestende insekte is onlangs op Cradock en suid daarvan op Mortimer, asook suid van Graaff-Reinet tot in Kendrew opgemerk en in die week is 15 gevalle by Middelburg aangeteken. “Ons is veral bekommerd oor die sprinkane in die Cradock‑Mortimer‑gebied, aangesien planttyd binnekort in die Visrivier-besproeiingskema gaan aanbreek en die jong mielies is uiters kwesbaar.

Kyk hoe word sprinkane bekamp:

“Ons het derhalwe verlede week kwaai in dié streek gespuit waar die sprinkane tot in Cradock uitgebroei het.”

Sprinkane broei gewoonlik eers in Oktober/November uit wanneer dit warmer word en dan na ʼn goeie reënbui. Dit is dan wanneer die staat hulle kontrakte met die spuitbeamptes sluit. Einde Augustus is die vorige seisoen se kontrakte dus beëindig en daar het groot kommer geheers dat die boere aan hulle eie lot oorgelaat sou word. “Gelukkig het die staat vinnig interim-kontrakte met die taakspanne gesluit en die toerusting en gif betyds verskaf sodat ons sonder onderbreking kon spuit,” sê hy.

Du Plessis sê dat Agri Oos-Kaap tans besig is om saam met die Rhodes-universiteit navorsing op sprinkane te doen om hul stryd in die bestryding van hierdie plaag makliker te maak.

Vroeër vanjaar het sprinkane boere in die Vrystaat tot diep in die herfs besig gehou in ʼn plaag wat lanklaas so wyd voorgekom het. Hulle het nog tot laat in Junie en selfs in Julie gespuit, wat ongehoord is.

Kyk hoe lê die sneeu nog plek-plek terwyl die sprinkane verbytrek:

In die Noord-Kaap by Springbok het ook onlangs sprinkane uitgebroei, maar hulle kon die krisis betyds afweer en die sprinkane in ʼn vroeë stadium uitroei. “ʼn Klein gedeelte van die Noord-Kaap, al met die platorand, van Sutherland, Loeriesfontein tot by Springbok, basies Namakwaland, kry winterreën en gedeeltes daarvan het nou verligting gekry en dit is nou die risiko-gebiede,” sê Willem Symington, hoof van rampbestuur by Agri Noord-Kaap.

Die droogte in die Noord-Kaap is egter nog lank nie gebreek nie. “As jy die Noord-Kaap rofweg in twee deel, gaan dit nog baie sleg in die onderste 50%. In die boonste 50% het die reën darem verligting gebring, maar die invloed van hierdie lang droogte gaan nog lank met ons wees,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.