Strenger afsonderings voorland vir volhoubare varkbedryf

Foto ter illustrasie. (Foto: Wolfgang Ehrecke, Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAVPO) se nasionale varkgesondheidskomitee het onlangs vergader om maniere te bespreek om die kompartementstelsel meer “koeëlvas” te maak.

Besprekings oor die integrasie van meer biosekerheidskomponente in Pork 360 (SAVPO se riglyne vir beste praktyke om gehalte te verseker) was een van die belangrikste punte op die agenda.

Die vergadering het tot die gevolgtrekking gekom dat die kompartementstelsel nou nog belangriker is as voorheen as Suid-Afrika varkvleis sonder teëspoed wil uitvoer. Die lede se gevoel oor die saak is so sterk dat daar in ʼn gesamentlike uitspraak die stelling gemaak is dat “die kompartementstelsel ’n leefstyl moet word en dat produsente biosekerheid moet slaap, eet en drink”.

ʼn Kompartementstelsel verwys na ʼn gedefinieerde gebied op ʼn varkplaas wat deur ’n fisieke versperring (heining) omring is, waarin ’n varkbevolking onder streng biosekerheidsmaatreëls gehuisves, gemonitor en bestuur word.

Die Suid-Afrikaanse stelsel voldoen aan die veeartsenykundige prosedurele regulasie 39 van 2011 (VPN 39). Elke kompartement het ook ’n unieke ZA-nommer. Alle varke op ʼn plaas wat aan die regulasies voldoen, moet ook volgens die Diere-identifikasiewet getatoeëer word.

“Te midde van Afrikavarkpes wat ʼn groot gevaar vir die Suid-Afrikaanse varkbedryf en die wêreld inhou, is dit belangrik om oorsese klante bewus te maak van die doeltreffendheid van ons stelsels. Hulle moet veral die versekering kry dat indien ʼn siekte in ʼn kompartement uitbreek, dit geïdentifiseer sal word voor die vleis sy bestemming bereik,” het dr. Peter Evans, wat verantwoordelik is vir kliënteskakeling by SAVPO, vir Maroela Media gesê.

Hy sê dié stelsels word voortdurend geëvalueer, veral op kleiner, meer informele plase.

“Die bedryf doen baie moeite om bewusmaking onder en opleiding vir kleiner boere te gee. In elke provinsie is daar mentors en konsultante wat boeredae hou, studiegroepe lei en bewusmakingsveldtogte dryf deur pamflette in die plaaslike taal, met maklik verstaanbare grafika, te versprei. Ons maak ook gebruik van die radio vir bewusmaking, eerder as die televisie, omdat radio vir meer mense toeganklik is.”

Landswyd is daar 70 plase onder SAVPO se mentorskapprogramme en boere word byvoorbeeld afgeraai om varke op veilings te koop waar siektes baie maklik kan versprei.

Suid-Afrikaanse varkboere voer tans heel suksesvol na sy buurlande uit, asook na Zambië en Malawi en van die vleis gaan ook Hongkong toe.

“Ons ondersoek ook die moontlikhede na ander lande in Sentraal-, Oos- en Wes-Afrika, asook verskeie Asiatiese lande vir moontlike markte, maar die uitvoervereistes is streng. Omvattende inligting oor Suid-Afrika se siektestatus en moniteringsprogramme moet gegee word.

“Aangesien die staat nie die kapasiteit of hulpbronne het om die nodige aanvoorwerk te doen om die markte oop te maak nie, is SAVPO nou betrokke by die invul van vraelyste en dossiere.

“Die stigma van Afrikavarkpes klou aan ons en alhoewel China nou varke kort omdat hulle besig is om hulle nasionale kudde op te bou, kan ons nie daardie mark binnedring nie.” Dit nadat hulle 25% van hulle nasionale kudde van kant moes maak weens ʼn vernietigende Afrikavarkpes-uitbreking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
marius

Stigma van afrika varkpes . Genoeg gese .