Syngenta-bestuur twee vroue ryker

Prof Driekie Fourie. (Foto: Du Preez de Villiers)

Syngenta Seedcare het twee dinamiese vroue, ʼn wêreldbekende nematoloog en ʼn bemarkingsleier vir Suid-Afrika, in diens geneem. Hierdie aanstellings val saam met Vrouemaand en weens ʼn beduidende tekort aan die skoner geslag in landbou kan daar nooit genoeg dames tot dié sektor toetree nie.

Nematode-spesialis

Prof. Driekie Fourie gaan die pos as die tegniese produkhoof vir die Seedcare-afdeling vervul, wat saadbehandelde biologiese middels, biostimulante, swamdoders, insekdoders en aalwurmdoders insluit.

Volgens Syngenta het Fourie se kundigheid en nuutskeppende navorsing van haar ʼn gerespekteerde gesaghebbende op die gebied gemaak.

Gewapen met ʼn passie vir landbouwetenskap en ʼn doktorsgraad in nematologie aan die Universiteit van Leuven (KU Leuven) in België, het sy haar loopbaan in 1991 by die Landbounavorsingsraad se Graangewasse-instituut begin. Daar het sy haarself gewy aan die bestudering van nematodes en hul uitwerking op gewasgesondheid.

Sedert 2010 het sy haar navorsing aan die Noordwes-Universiteit voortgesit in aalwurm-ekologie, gasheerplantweerstand en die evaluering van ekovriendelike, geïntegreerde pesbestuur-strategieë om plantparasitiese aalwurms te bekamp.

Sy is al male sonder tal erken vir haar uitstaande bydraes en is tydens haar navorsingsloopbaan met verskeie toekennings vereer, waaronder landboukundige vir die Noordwes-provinsie deur Landbouskrywers SA, navorser van die jaar vir die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en Bestuur aan die NWU, beste doktorale proefskrif deur die Proteïennavorsingstigting, die Landbounavorsingsraad se medalje vir uitnemendheid as navorser, asook verskeie kere vir die beste visuele plakkaat- en mondelinge aanbiedings by nematologie-verwante kongresse en simposia.

Fourie sê sy is opgewonde oor haar nuwe rol by Syngenta en die geleentheid wat dit bied om haar kennis toe te pas om doeltreffende oplossings te ontwikkel, wat boere help om hul oeste te beskerm en landbouproduktiwiteit te verhoog.

“Om in dié bedryf te werk stel my in staat om die gaping tussen navorsing en praktiese toepassing te oorbrug, wat my weer in staat stel om ʼn tasbare stempel op volhoubare landbou af te druk,” sê sy.

25 jaar in landbou

Syngenta het sy blydskap uitgespreek oor die aanstelling van Yolandi Furniss as Seedcare-bemarkingsleier vir Suid-Afrika.

 

Yolandi Furniss. Foto: Verskaf)

 

Furniss bring ʼn rykdom van meer as 25 jaar ondervinding in die Suid-Afrikaanse landbousektor saam, waaronder werk in die saadbedryf sedert 2016. ʼn Indrukwekkende rekord en baie noemenswaardige prestasies beklemtoon haar toewyding en passie vir landbou.

“Ek is verheug om by Syngenta aan te sluit en die geleentheid te kry om ons Seedcare-afdeling te ontwikkel deur ons toonaangewende produkte, dienste en toepassings te bevorder,” sê sy.

Seedcare is die afdeling in Syngenta wat tegnologieë ontwikkel om die werkverrigting van veldgewasse, groente- en ornamentele sade te beskerm en verbeter. Dié portefeulje bevat ook produkte wat groei stimuleer en jong gewasse teen omgewingstremming beskerm, asook saailinge help om voedingstowwe en water doeltreffender te verwerk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.