Theo de Jager wil Afrika-landbou harmoniseer

Dr. Theo de Jager is as voorsitter van Fanrpan verkies. (Foto: Du Preez de Villiers)

Nadat dr. Theo de Jager verlede maand as president van die Wêreldlandbou-organisasie uitgetree het, is hy vandag as voorsitter van die Beleidsontledingsnetwerk vir voedsel, landbou en natuurlike hulpbronne (Fanrpan) verkies.

Hierdie nie-regeringsorganisasie, wat diplomatieke status geniet en by die Landbounavorsingsraad (LNR) se kantoor in Silverton gesetel is, kry sy steun uit die geledere van die publiek, politici, uitgetrede politici en universiteite en sy fokus is om met wetenskaplike inligting, beleid reg oor Afrika te beïnvloed.

Dié organisasie verteenwoordig tans meer as 20 lidlande, oftewel nodes uit Oos-, Wes- en Suider-Afrika, wat ook belangstelling uit die noorde lok.

“Die geloofwaardigheid van Fanrpan is nog nooit bevraagteken nie en hy het goeie toegang tot beleidmakers reg oor die vasteland,” het hy vir Maroela Media gesê.

Hy sê dié organisasie staan op vyf pilare wat uit die stemme van kinders, vroue, boere, wetenskaplikes en donateurs se geledere bestaan. “Ek het sedert ek in 2017 as president van die Pan-Afrika-boereorganisasie (Pafo) bedank het, op die direksie gedien as die stem wat boere verteenwoordig.”

Sy visie is om landbou verby die punt van voedselsekerheid te ontwikkel tot welvaartskepping.

“In Afrika is daar min instellings wat die kollektiewe vordering in landbou moniteer. Elke land doen maar sy eie ding en die eerste stap sal wees om ʼn opname te doen sodat ons weet wat ons het en waarmee ons kan werk. Dan kan ons met die harmonisering van landbou in Afrika begin.”

Dan moet die markte tussen Afrika-lande oopgestel word om handel op die vasteland te vergemaklik.

Die langsame registrasieproses van nuwe saadkultivars, kunsmis, gewasbeskermingsprodukte en veemedisyne in Afrika is ook vir De Jager ʼn groot kopseer.

“Ons raak baie vinnig agter met nuwe tegnologie en in elkeen van die 54 lande werk navorsers, wat eers proewe moet doen en dan goedkeuring gee voor hulle dit aan politici oorlaat om die finale besluit te neem, op hul eie. Dit kos die private sektor miljarde rande en neem jare voor boere dit kan benut, waarna dit dan verouderd is.

“Ek wil ʼn sentrale sentrum skep waar ʼn groep wetenskaplikes dit gesamentlik kan doen om die prosesse goedkoper en vinniger af te handel.”

Hy meen sodra Afrika sy landbou kan harmoniseer en interne uitdagings baasgeraak het, kan Fanrpan groter en meer nypende probleme aanpak.

“Afrika word maklik deur lande soos dié in die Europese Unie geboelie en die nuwe belaglike vereistes wat op Suid-Afrika se sitrusinvoere geplaas is, is maar een voorbeeld. Dit sal ons net kan takel as ons in harmonie kan saamwerk.”

Hy het sy waardering teenoor prof. Frans Swanepoel aan die Universiteit van Pretoria uitgespreek wat ʼn steunpilaar van Fanrpan is en goeie leiding gee.

Hy meen ook hy sal hard moet werk om die vorige voorsitter, prof. Sidi Osho, se skoene vol te staan. “Met haar kragtige stem het sy hard vir voedselsekerheid geveg. Sy het die organisasie uitstekend gelei en bewys dat so ʼn belangrike organisasie suksesvol uit die burgery bestuur kan word en politieke belange omseil.

“Vir my as ʼn Suid-Afrikaanse boer was dit ʼn groot voorreg om verkies te word, wat wys dat Suid-Afrikaanse boere hoog geag word,” voeg hy by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Goeie gedagte Dr De Jager. Harmoniseer asb net eers SA landbou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.