TLU SA: Doen jou deel teen OSV

TLU SA vra dat boere hulle mede-landsburgers moet inlig oor die gevare van onteiening sonder vergoeding. (Foto: Maroela Media)

TLU SA het ʼn veldtog rakende onteiening sonder vergoeding (OSV) van stapel gestuur waarin hulle ’n beroep op Suid-Afrikaners doen om 10 medeburgers in te lig oor wat presies OSV beteken, die impak daarvan en hoekom dit nie deurgevoer mag word nie.

Dié landbou-unie sê die poging spruit voort uit die groot mate van onkunde oor wat die onteieningswetsontwerp behels en om die impak daarvan, veral op lang termyn, bloot te lê.

“Die publiek kan nie meer kommentaar lewer aan die portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur, of aan die ad hoc‑komitee, rakende artikel 25 oor moontlike wysigings van die Grondwet nie,” sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, “maar alle Suid-Afrikaners moet steeds bewus wees van die gevolge van die wysigings wat met OSV te make het.

“Inwoners van die land moet weet dat OSV nie net ’n probleem vir eienaars van landbougrond is nie. Dit is ’n probleem wat elke Suid-Afrikaner raak,” het hy benadruk.

“Dit is ons plig om die misleidende retoriek oor OSV aan die kaak te stel, en seker te maak die waarheid is op die voorgrond.”

Van die punte wat vir bespreking gebruik kan word, is onder andere:

  • Bates word nie tot grond alleen beperk nie.
  • Privaatbesitreg word in sy wese aangetas.
  • OSV gaan ʼn negatiewe invloed op groei in die private sektor hê.
  • Buitelandse beleggings, wat van kardinale belang vir ekonomiese groei is, gaan nog moeiliker bekombaar wees.
  • Van die lande wat dié pad van onteiening sonder vergoeding gevolg het, is Roemenië, Ethiopië, Venezuela, Zimbabwe, Portugal en Spanje. Laasgenoemde twee het egter intussen eiendomsreg herstel.
  • Suid-Afrika se sosio-ekonomiese probleme is dringend en groot en as ons nie by ekonomiese groei uitkom nie, sal ons dit nie kan oplos nie.
  • ʼn Belaglike inflasiekoers, waardelose geldeenheid en hoë werkloosheid is kenmerke van die ekonomieë van lande wat OSV ingestel het.

Diegene wat betrokke wil raak, kan hierdie skakel volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Ons beleef nou die “uitgestelde” aanslag wat ons kwansuis in ’94 vrygespring het. Moes tóé maar ons pak gevat het met ‘n werkende weermag en polisie, nou is dit te laat en die konflik sal dalk weer bloedloos wees (of nie, net tyd sal leer) maar dat die tyd van ‘rock bottom’ hier is, is geen twyfel nie. Gestroop, gaan ons gestroop word. Dis Kommunis se groot plan, al van lank voor ’94 af.

Biltong

Ek het in 1992 al my deel gedoen deur NEE te gestem het.

Werner

Ons moet maar besluit wat ons gaan doen as hulle ons goed wil vat.Niks gaan die wet keer nie.Het ook nee gestem maar ons sit nou met die gebakte pere.