TLU SA groet sy generaal

Genl.maj. Chris van Zyl tydens ‘n onlangse boomplantgeleentheid by die Voortrekkermonument. (Foto: Du Preez de Villiers)

Ná byna twee dekades in die diens van TLU SA, wat op 36 jaar se diens in die Suid-Afrikaanse weermag gevolg het, het genl.maj. Chris van Zyl die tuig neergelê.

“Dit was ’n besonderse blootstelling wat nie almal beskore is nie,” het hy oor sy 45 jaar in diens van Suid-Afrika gesê.

“Dit was aanvanklik beslis ’n groot uitdaging en aanpassing om by TLU SA te begin werk, ná die weermag. Ons almal werk egter vir ’n belangrike saak en dit is verseker dat al die uiteenlopende persoonlikhede mekaar vind vir die groter doel waarmee ons by TLU SA besig is. Alle inwoners van ons land moet betrokke wees en daarom is organisasies soos TLU SA van kardinale belang. Die huidige stand van sake beteken een boer se lot is ook die lot van sy buurman.”

Hy voel sterk dat boere betrokke moet raak. “Dit is nodig dat Suid-Afrikaners oor kardinale kwessies uit een mond praat. Elke organisasie het sy plek, maar oor dringende kwessies moet ons saam praat.”

Bennie van Zyl, TLU SA hoofbestuurder, het gesê Van Zyl het besluit dat die tyd reg is om sy diens aan Suid-Afrika, aan die volgende geslag te oorhandig. “Dit is met groot dankbaarheid oor die rol wat hy vervul het, dat ons hom groet en hom alles van die beste toewens.”

 

Nuwe bloed

Met die vertrek van Van Zyl het die organisasie vir dr. Gawie Lötter en Mauritz Lombard in sy midde verwelkom.

Van Zyl het vir Maroela Media gesê Lötter gaan betrokke wees by TLU SA se traumanetwerk, die bestuur van landelike veiligheid en die administratiewe onderbou daarvan. Lombard, met sy regsagtergrond, gaan al die aspekte van die organisasie vanuit ʼn regshoek evalueer en ondersteuning aan die plaaslike regeringskomitee gee.

Lötter het eweneens jare se ondervinding in die Suid-Afrikaanse Weermag. Hy het die weermag verlaat met die rang van kolonel en daarna in die akademiese wêreld as professor in strategiese kommunikasie sy stempel afgedruk.

Dr. Gawie Lötter (Foto: Verskaf)

“Elkeen van ons is bewus van die talle uitdagings wat Suid-Afrikaanse boere tans in die gesig staar,” sê Lötter. Ons wat nog kan en oor die vermoë beskik om die boer te help en te ondersteun, hetsy deur die voorsiening van tydige en akkurate inligting, ondersteuning, motivering, raad en goeie, oop eerlike kommunikasie, het die plig om dit met lojaliteit en passie te doen.

“Die pos maak spesifiek hiervoor voorsiening. Om die lede van die TLU SA se belange te verteenwoordig en te bevorder, is die primêre funksie van die pos. Hiervoor het ek ’n diepgewortelde begrip en passie, aangesien ek op ’n plaas grootgeword het; ek glo, ek verstaan. Om in dié pos te dien, word die geleentheid geskep om in elke boer en sy gesin se lewe ’n verskil te maak. My persoonlike leuse is – in ondersteuning en samewerking is ons krag.”

Lombard het ook in die weermag spesialisondervinding opgedoen en die weermag verlaat met die rang van luitenant-kolonel. Hy het ook as regspraktisyn gewerk.

Mauritz Lombard (Foto: Verskaf)

“Ná die jare wat ek as prokureur gepraktiseer het, bied die pos by TLU SA aan my die uitdaging om ’n sinvolle bydrae tot die gemeenskap te maak, deur die belange van die landbou en in besonder die boer, te koester en te bevorder. Ek sien daarna uit om die boerderygemeenskap te dien met my kennis en ondervinding en glo dat ek ’n sinvolle bydrae kan lewer,” sê Lombard.

“Ons is opgewonde oor die bydra wat Lötter en Lombard tot TLU SA gaan voeg, vir ons lede, maar ook die landbou-gemeenskap in die breë. Buiten ander take sal Lötter vir die veiligheidskomitee administratiewe ondersteuning gee en Lombard aan die plaaslike regeringskomitee,” sê Van Zyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.