TLU SA: Oplossings is ons voorland

Henry Geldenhuys, president van TLU SA. (Foto: Maroela Media)

Tydens TLU SA se onlangse jaarlikse kongres kon hy ʼn paar positiewe nuusbrokkies aan sy lede oordra en met ʼn paar goeie oplossings vorendag kom vir die hope uitdagings wat kommersiële boere, asook die groter landboubedryf, tans ervaar.

Dit sluit in goedkoper diesel aan TLU-lede, asook ʼn splinternuwe aanlyn winkel waar klere met TLU se logo op, gekoop kan word.

TLU SA is vanjaar 124 jaar oud en volgens Henry Geldenhuys, president van dié landbou-unie, doen TLU steeds waarmee hy destyds getaak is – om kommersiële boere veilig en volhoubaar op hulle grond te hou. “Dit is ons mandaat en daarom fokus ons op landbou en om dit te laat voortleef. TLU SA beywer hom dus om konstruktief te fokus op bepaalde aspekte en om ’n positiewe uitkoms te bewerkstellig,” het hy tydens sy presidentsrede gesê.

“TLU SA sal nie net die boere nie, maar ook die verbruikers in Suid-Afrika versaak indien daar nie beding en gewerk word vir positiewe uitkomste op hierdie terreine nie.”

Een van die aankondigings wat lede laat juig het, is ʼn nuwe ooreenkoms met Verco Energy wat goedkoper diesel aan TLU SA-lede sal verskaf. Lede in groot dele van die Oos- en Sentraalstreek, asook dele van die Noordstreek en die Vrystaat sal van hierdie aanbod gebruik kan maak. Lede sal 45c per liter minder betaal en TLU SA sal dan ook ’n rabat van 20c per liter ontvang.

“Ons boere is onder geweldige druk met die voortdurende styging van pryse van insetkoste, soos brandstof en kunsmis,” sê Geldenhuys. “Ons onderhandel daagliks met diensverskaffers om ons boere volhoubaar op hul grond te hou. TLU SA is dankbaar vir diensverskaffers wat besef hoe belangrik die totale waardeketting vir die voortbestaan van landbou is.”

Verder is ʼn jarelange droom om ʼn TLU SA-aanlynwinkel met handelsmerk-klere bekend te stel, ook verwesenlik. Geldenhuys nooi lede, vriende en ondersteuners om daar in te loer en hemde met TLU SA se logo daarop geborduur, te bestel.

“Dit is vir ons so lekker om as ʼn groep saam uit te staan en hierdie amptelike drag is juis ontwikkel om ʼn gevoel van samehorigheid te bevorder,” sê hy. “Ons hoop om binnekort al ons lede in ons boerhemde, pronkhemde of werkhemde te sien!”

Tydens die kongres is Geldenhuys en Wannie Scribante weer (en eenparig) in hul ampte as president en onderpresident verkies. Geldenhuys het lede bedank vir die vertroue wat hulle in hom stel en onderneem om landbou altyd voorop te stel.

 

Grondonteiening

TLU SA voel baie sterk oor die gronddebat en voer aan dat nie een van hulle lede iemand se grond gesteel het nie. Om gewig aan hul argument te gee, het dié organisasie etlike jare gelede ’n beloning van R100 000 uitgevaardig aan die persoon wat kan kom bewys dat een van hul lede sy grond gesteel het. Tydens die kongres het Geldenhuys aangekondig dat die geld steeds veilig is.

“Die verdraaiing van die geskiedenis oor grondbesit het nou al veroorsaak dat wit mense uitgekryt word as gronddiewe. Ons stel dit duidelik dat elke boer sy grond wettig besit en dat dit inderdaad gestaaf word deur ’n titelakte wat die staat uitreik,” sê hy.

Geldenhuys het dit egter duidelik gestel dat kommersiële boere se probleme nie vinnig gaan verdwyn nie en dat daar steeds skouer aan die wiel gesit moet word om voedselsekerheid in Suid-Afrika te verseker.

“Die ANC se beleid het oor baie jare veroorsaak dat veral beleggersvertroue afgebreek word en die ekonomiese kragte worstel om teen die onrealisme waarmee die ANC-regering volhard, te wen.

“Ons is afgegradeer na rommelstatus nog voor Covid-19 ingeskop het. Daarna het die inperkingsmaatreëls die ekonomiese omstandighede nog verder versleg.

“Waar só baie stelsels in duie stort, was dit inderdaad die boere van Suid-Afrika se

bydrae wat veroorsaak het dat ons land steeds funksioneer. Sonder kos op die tafel sal elke meganisme in duie stort. Die afgelope tyd se anargie het hierdie saak opnuut beklemtoon,” sê hy.

 

Kompetisies

Die jaarlikse wenners van die verskeie uitdagings en kompetisies is ook tydens die kongres aangekondig:

  • Goliat van Gat-pampoenkompetisietrofee – Wykus Lamprecht van Meyerton met ʼn pampoen van 790 kg;
  • Kiepersol-trofee vir die Boere-unie van die jaar – Cullinan Boere-unie vir die aanbied van die Goliat van Gat-kompetisie;
  • LWO/TLU SA Arbeidskild vir gesondste arbeidspraktyke – Johan Kense van die Devon Boere-unie;
  • Charles Baber-trofee vir hulpbronbewaringsprojekte wat van stapel gestuur is en deurgevoer word – Swartruggens DLU vir hulle rol om lopende water in die streek weer aan die gang te kry;
  • Willie Marais-trofee vir die beste kommunikasie oor TLU SA se boodskap en landbou – De Wildt-boerevereniging met hulle nuusbrief;
  • TLU SA Landelike Veiligheidstrofee: Individuele wenner – Celia Beukes;
  • TLU SA Landelike Veiligheidstrofee: Affiliasie wenner – Potgietersrus DLU;
  • Commondale-trofee vir beste boerevereniging – Roedtan-Suid-boerevereniging vir doeltreffendheid;
  • RF Camphor-beker vir die beste distrikslandbou-unie – Potgietersrus Distrikslandbou-unie onder leiding van Floris Booysen en Renita Prinsloo;
  • Intfin-skild vir die beste sekretaresse of sekretaris – Renita Prinsloo van Potgietersrus Distrikslandbou-unie;
  • Presidentbeker vir jongboer-betrokkenheid – Lukas Eksteen van die Potgietersrus DLU;
  • Isaac Greenberg-beker vir die beste streek – Sentraalstreek onder leiding van Derick Kuün as streekvoorsitter en Lynette du Plessis as streekbestuurder;
  • Die eerste vroulike ontvanger van die Nico Kilian-trofee vir die landboupersoonlikheid vir 2021 – Erika Helm, voorsitter van die plaaslike regeringskomitee.

Geldenhuys het met sy gelukwensings gesê dat dit verblydend is dat hul lede verantwoordelikheid neem om landbou volhoubaar te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.