TLU SA se 2021-Jongboer het ʼn slag met mielies

Dawie Brits het rede gehad om die afgelope seisoen van oor tot oor te glimlag oor sy pragtige mielies. (Foto: Verskaf)

TLU SA het hulle Jongboer van die Jaar vir 2021 aangewys en die wenner van die kompetisie is Dawie Brits (35) wat buite Balfour boer. Toe Maroela Media hom skakel, was hy reeds besig om sy spuit vir hierdie plantseisoen te kalibreer. “Ek is baie opgewonde oor die toekenning en sien ook baie uit om weer te begin plant,” sê hy.

Hy boer op die plaas Modderbult waar sy pa en oupa ook geboer het en is getroud met Riana. Hulle het twee seuntjies, Pieter (7) en David (5).

Brits het die afgelope seisoen ʼn allemintige gemiddeld van 9,2 ton mielies, alles op droëland, geoes. Dit was ook die eerste jaar wat sy hele plaas op presisiebeginsels bewerk is. “Ek het die lande laat karteer en die grond chemies ontleed om die kalk en kunsmis wisselend toe te dien soos die grond se behoeftes verander.

“Ek het ook my planter aangepas om volgens kaarte te plant en met oestyd het die stroper die kaarte opdateer soos die opbrengste oor die lande gewissel het.”

Hy het al sy lande onder Roundup- en Bt-kultivars van Pannar geplant, maar wil vanjaar op 300 ha met Dekalb-saad eksperimenteer. Verder plant hy ʼn derde van sy lande onder sojabone.

Ten spyte van die grootste mielie-oes op hulle plaas nog, was die 2020-’21‑seisoen moeilik. “Ek het teen 10 November begin om kortgroeiers te plant, maar die reën het laat gekom. Januarie en Februarie was baie droog, wat ʼn baie kritieke tyd in die mielies se groeistadium was. Ons het onderskeidelik 47 mm en 48 mm reën gekry.” Sake het gelukkig handomkeer verander en Brits kon teen 10 Julie met ʼn groot glimlag klaarmaak.

Brits is eintlik ʼn vlieënier, maar die plaas het hom teruggeroep. Hy boer die afgelope drie jaar saam met sy pa, wat die belangrikste verantwoordelikhede op sy skouers gelaai het.

 

Dawie Brits, sy vrou Riana en hulle twee seuns, David en Pieter boer buite Balfour op die plaas Modderbult. (Foto: Verskaf)

Hulle het ook ʼn stewige hoenderboerdery wat ʼn goeie bykomende inkomste regdeur die jaar bied, waar Brits gereeld gaan inloer, maar hy het besef dat hy ʼn spesialis moet kry om oor te neem, sodat hy voltyds op die saaiery kan fokus.

 

Groot pryse is gewen

Die TLU SA Jongboerkompetisie is vanjaar in samewerking met Manitou, Santam Landbou, Introlab, CMH Ford Hatfield en Ctrack aangebied.

Brits sê hy het baie geleer tydens die beoordeling van die kompetisie. “Dit was vir my lekker om te sien hoe die ander boere dit doen en die versekering te kry dat hoe ek dit doen, nie heeltemal verkeerd is nie. Dis lekker om met die ander deelnemers te praat en kennis te deel.”

 

Dawie Brits het uitstekende resultate behaal toe hy heeltemal na presisieboerdery oorgeskakel het. (Foto: Verskaf)

Afgesien van die groot titel, sê Brits dat hy en Riana baie uitsien na hulle oorsese reis na die Manitou-fabriek in Frankryk. Hy het ook ʼn kontantpakket van R52 000 gewen:

  • R25 000 van Santam Landbou;
  • R12 000 van Introlab;
  • R10 000 van CMH Ford Hatfield; en
  • R5 000 van Ctrack.

In die tweede plek is Jess Walker (35) van die Losberg Boere-unie op die plaas Tweefontein. Hy en sy vrou Chrissie (saam met hulle twee kinders) het werklik die begrip familieboerdery omarm en Walker boer die afgelope vyf jaar saam met sy skoonpa op hulle familieplaas.

Hierdie oudonderwyser het vinnig besef dat hy in murg en been ʼn boer is en die boeke vir grond verruil. Die Walkers is saaiboere, maar boer ook met stoet- en kommersiële beeste.

As die naaswenner ontvang Walker R15 000 van Santam Landbou en R8 000 van Introlab.

In die derde plek, met ʼn prysgeld van R10 000 van Santam Landbou en R5 000 van Introlab, is Barend Rautenbach (34), ʼn pa van vier.

Rautenbach en sy vrou, Benine, boer al vir amper 11 jaar op Fernie-Haugh in Mpumalanga. Hierdie familieboerdery word gelykop verdeel tussen Barend, sy pa Ben en ouer broer Rudi. Barend is grootliks verantwoordelik vir die melkery en is ook betrokke by die vleisbeeste-vertakking van die boerdery.

“Die deelname aan die Jongboer van die Jaar-kompetisie het my regtig nederig laat voel,” sê Rautenbach. “Dit is goed om met die groot ondernemings wat die kompetisie borg en iemand soos Oom Bennie van Zyl (hoofbestuurder van TLU SA) te gesels en by hulle te leer. Dit was interessant om meer te leer oor finansiële beplanning en die struktuur van ʼn suksesvolle boerdery en ek sal beslis veranderinge aanbring na aanleiding van die terugvoer wat ons ontvang het.”

Van Zyl het gesê dat TLU SA baie trots is om jaarliks hierdie kompetisie aan te bied en so ʼn belegging te maak in die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.