TLU SA staan steeds bankvas teen OSV

Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

TLU SA is deel van ʼn ad hoc-groep wat hulle vir die beskerming van eiendomsreg beywer en die Onteieningswet se gedeelte oor onteiening sonder vergoeding (OSV) teëstaan. Meer as 50 organisasies, wat landbouverteenwoordigers, burgerlikes en opposisiepartye insluit, het hulle by hierdie groep geskaar. Die groep vergader gereeld om kwessies wat eiendomsreg bedreig te bespreek en optrede daaroor te oorweeg.

“Die [naweek se] verhore van die portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur oor die Onteieningswet in Orange Farm in Gauteng was deelnemers van mening dat die Covid-19-pandemie gebruik moet word om die Onteieningswet vinniger deurgevoer te kry. Hulle wil sodoende toegang kry tot openbare gesondheidsorg, polisiestasies, behuising, werk en ekonomiese geleenthede,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA.

“Uit die kommentaar is dit duidelik dat deelnemers geen idee het oor die implikasies van dié wet nie. Wat die mense nie besef nie, is dat die Onteieningswet juis al hierdie dienste en geleenthede in die wiele gaan ry.

“Wie, by hulle volle positiewe, sal vaste beleggings maak in ’n land waar die Grondwet sowel as wetgewing bepaal dat bates deur die staat gekonfiskeer kan word sonder om daarvoor te betaal?”

Volgens Geldenhuys is dit duidelik dat daar nie besef word nie dat vooruitgang kom deur ekonomiese groei wat deur belegging in die land geskep word. “Indien iemand nie die nodige begrip het van hoe belangrik vaste beleggings is as die fondament van ekonomiese groei nie, betreur ons hulle onkunde. Dit bly egter ons verantwoordelikheid om daardie beginsel tuis te bring – nie net by gewone burgers nie, maar ook by politici.

“Dit is ongelooflik dat die ANC steeds deur Radikale Ekonomiese Transformasie (RET) voortgedryf word,” sê hy. “Die Nasionaal-Demokratiese Rewolusie (NDR) lei tot sosialisme en kommunisme, terwyl hierdie ideologie reg oor die wêreld heen nog net tot mislukking gelei het. Gewone Suid-Afrikaners gaan hieronder ly, nie die korrupte leiers nie.”

Geldenhuys sê dit is dus die taak van die ad hoc-groep om die publiek te waarsku oor wat die gevolge vir die land sal wees indien die wet geïmplementeer word.

Hoewel die tydperk vir kommentaar oor die wet verby is, kan mense intussen steeds TLU SA se veldtog teen onteiening steun by hierdie skakel: https://www.tlu.co.za/onteieningswet/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Is die ANC besig met die tweede grootste misleidingspoging in S.A. se geskiedenis? Daar is sekerlik ‘n ooreenkoms met Zuma bereik: Hy is die swartskaap vir alle ANC foute MAAR word later mildelik vergoed of beskerm. Siedaar: Die weerligafleier is Zuma en die held, skoon-hande-Cyril & kie red die S.A. Skip Titanic rakelings van ondergang teen ook Aceberg. Nou volg die uitklophou: Weer het die ANC die morele swaartepunt herwin (“The people have spoken”), massiewe verskiesingsteun volg en dan: Die Nasionale Demokratiese Rewolusie se planne word deurgevoer want dit is “die demokraties verkose meederheid se wil.” Hallo, “Boer-Soek_’n_Plaas.”

James ·

Om bankvas te staan teen diefstal van jou grond, (OSV) – sal op die einde net een beteken: Jy staan, op jou grond, en veg fisies teen die Balju en Polisie.

Soos in Potchefstroom destyds – met die ossewa op die Britse veiling….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.