Toets grondgesondheid met pasmaakpakket

Deurlopende grondtoetse met gepaardgaande regstellings sal verseker dat gewasse optimaal presteer. (Foto: Steven Weeks, Unsplash)

Boere kan nou gebruik maak van ‘n pasmaakpakket van toetse wat fokus op grondgesondheid, wat deur die Landbounavorsingsraad (LNR) ontwikkel is. Hierdie stel toetse word derhalwe so aanmekaargesit dat ʼn boer kan besluit vir watter eienskappe hy in sy grond wil toets.

Die pakket, met die naam YourSoilTM, stel ʼn boer in staat om vas te stel wat die grondgesondheidsstatus van sy grond is en so ook die probleemeienskappe van sy grond te identifiseer. Grondmonsters word na die LNR gestuur en die eindproduk is een verslag met ʼn bespreking van al die aspekte van grondgesondheid, wat die boer gekies het.

Die lys toetse wat gedoen kan word, dek twee breë aspekte van grondgesondheid. Dit sluit in die  biotiese eienskappe, soos die mikro-organismes, nematodes, swamme en bakterieë, wat as biologiese aanwysers gebruik word, asook die abiotiese aspek, wat die fisiese en chemiese ontleding van die grond en plantmateriaal behels.

Die pakket kan dan pasgemaak word sodat ʼn boer uit ʼn wye reeks toetse binne hierdie twee aspekte, wat met sy jaarlikse grondtoetssiklusse ooreenstem, kan kies. Dit beteken dat ʼn boer sy grondgesondheid deur die jaar toets, wat dan in ooreenstemming is met die verskillende ontwikkelingstadia van sy gewasse.

“Die LNR is Suid-Afrika se bewaarder van landbounavorsing en ontwikkel nuutskeppende oplossings vir dié sektor om voedselsekerheid te beskerm én ondersteun die landbouwaardeketting met behulp van die nuutste tegnologieë,” sê dr. Nthabiseng Motete, die LNR se waarnemende uitvoerende bestuurder, “Deur die ontwikkeling van oplossings soos die YourSoilTM-pakket lewer die LNR steeds beduidende bydraes tot die hervorming van landbou in Suid-Afrika.”

Twee van die LNR se navorsingskampusse, Plantgesondheid en plantbeskerming, asook Natuurlike hulpbronne en ingenieurswese: grond, klimaat en water, het saamgespan om hierdie pakket vry te stel.

Dr Garry Paterson, navorsingspanbestuurder vir grondwetenskap, het vir Maroela Media gesê dat die pakket vir klein- en grootskaalse boere geskik is en dat daar tans ʼn groot belangstelling en aanvraag is.

Hy sê bykomend tot die toetspakket kan boere ook plaasbesoeke aanvra indien konsultasiewerk verlang word.

“Die verbetering van die gesondheid van ʼn boer se grond kan insetkoste verminder en die volhoubaarheid daarvan verbeter,” sê Motete. “In die lig van die toenemende belangrikheid van grondgesondheid vir boere is die voordele van hierdie eiesoortige nuwe pakket wat deur die LNR ontwikkel is, eindeloos.”

Sy sê die pasgemaakte stel toetse kan bydra tot ʼn langtermyn-grondmoniteringstelsel, wat meer inkomste op ʼn volhoubare grondslag tot gevolg kan hê.

Die LNR bied tans op die normale tariewe ʼn 10%-pakketafslag wat tot einde Maart vanjaar geld.

  • Die artikel is verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.