Topvleisbeeste wag om bekroon te word

Foto ter illustrasie (Foto: www.hencorbonsmaras.co.za)

Die Landbounavorsingsraad (LNR) se 44ste Nasionale Vleisbeestoekennings is om die draai en beeste sowel as hul base kan uitsien om vir hul harde teelwerk oor die afgelope aantal jare, bekroon te word.

Die geleentheid vind virtueel op 23 November plaas waartydens toppresteerders in sewe kategorieë vereer gaan word vir hul teel- en produksiepraktyke asook vir die mentorskap van medeboere.

Dr. Ben Greyling, navorsingspanbestuurder by die LNR se Irene-kampus, is aan die stuur van sake en het vir Maroela Media gesê daar word nou met elke rasgenootskap saamgewerk om die beste diere se prestasiesyfers deur te stuur sodat daar noukeurig beoordeel kan word.

Elk van die sewe kategorieë word deur verskeie landboumaatskappye geborg, waarvan Plaas Media vanaf vanjaar die hoofborg is en ook sekere ander kategorieë sal borg. Ander borge is Molatek, Farmer’s Weekly en GMP Basic.

Daar word toekennings in die volgende kategorieë gegee:

 

Beste elitekoei

Hierdie kategorie bevorder die beste vleisbeeskoeie in Suid-Afrika en hulle moet oor buitengewone reproduksiesyfers beskik en moet kan spog met uitstekende vermoëns, soos goeie moedereienskappe, asook voorspeense groei en speengewig van hul kalwers.

Alle vleisbeesrasse kan vir hierdie kategorie inskryf, waarvan een koei per ras as ’n elitekoei gekies sal word. Die 2022-toekennings het baie benoemings ontvang, en uiteindelik sal 22 koeie, een uit elke ras, die titel van die Nasionale Beste Elitekoei ontvang.

 

Platinum‑bultoekennings

Hoewel hierdie kategorie nie net een bul per ras in ag neem nie, is die kriteria vir bulle om te kwalifiseer nogal ingewikkeld. ’n Bul moes ’n goue meriete-sertifikaat ontvang het na voltooiing van ’n LNR se fase C-toets en sy moeder moet ’n elitekoei wees en hierdie status ontvang het gedurende die jaar waarin die bul sy goue meriete ontvang het. Ses bulle sal vanjaar met dié titel bekroon word. (In ʼn fase C-toets word verskeie bulletjies net na speen by ʼn toetsstasie onder intensiewe toestande en gestandaardiseerde toetse onderwerp om vergelykbare resultate te kry.)

 

Kaonafatso ya Dikgomo se provinsie van die jaar-toekenning

Die Kaonafatso ya Dikgomo (KyD)‑toekenning vir provinsie van die jaar (Sepedi vir verbetering van beeste) het ten doel om erkenning te gee aan die drie provinsies met die meeste aantal boere wat op die INTERGIS-databasisprogram geregistreer is en aan die KyD-skema deelneem. Dié toekenning, nou in sy sewende jaar, bied ’n platinum-, goue en silwertoekenning aan die drie voorste provinsies.

 

KyD-toekenning vir boer van die jaar

Vanjaar is dit die 20ste keer wat dié toekenning oorhandig sal word. In hierdie kategorie word nege boere wat daarna streef om kommersiële boere te word, een uit elke provinsie, as finaliste vir hierdie toekenning benoem. Kriteria vir hierdie kategorie oorweeg aspekte soos die hou van prestasierekords, bestuur en prestasie van hul kuddes. Een uit die nege telers sal met hierdie baie gesogte titel wegstap.

 

Mentor van die jaar-toekenning

Dit is ’n gewilde kategorie en die doel daarvan is om erkenning te gee aan produsente wat deur voorbeeld lei. Hierdie produsente mentor medeboere en deel hul kennis en ervaring om ander te help om hul produktiwiteit en volhoubaarheid te verbeter.

 

Spesiale prestasietoets-klastoekennings

Hierdie kategorie word al vir meer as 40 jaar aangebied en die doel daarvan is om die uitsonderlike prestasie-eienskappe van bulle in verskeie vleisbeesrasse ten toon te stel.

Een bul per ras word gekies op grond van goue en silwermeriete wat toegeken is nadat die bulle gestandaardiseerde fase C-groeitoetse, onder die vaandel van die Nasionale Vleisbeesaantekeninge en -verbeteringskema voltooi het. Die kriteria neem meer as net prestasie in ag – dit kyk ook na funksionele doeltreffendheid. Altesaam twaalf bulle sal geïdentifiseer word en die nasionale titel binne hul ras toegeken word.

 

Vleisbeesverbeteringkudde van die jaar-toekenning

Hierdie kategorie oorweeg algehele kuddebestuur, gemeenskap- en bedryfsbetrokkenheid, sowel as bevordering van die vleisbeesbedryf. Produsente wat hierdie kategorie betree, moet ook aan ’n sekere stel kriteria voldoen, wat kuddeprestasie en -reproduksie, deelname en implementering van prestasietoetsing, koeidoeltreffendheid, volledigheid van prestasierekords, koeikuddegrootte, kalfprestasie, genetiese neigings, en die toepassing van moderne wetenskaplike teeltegnieke insluit.

Vanjaar sal ses telers na die eindronde deurdring, van wie een uiteindelik die toekenning sal ontvang.

Voorheen was die LNR se Nasionale Vleisbeestoekennings ʼn spoggeleentheid wat in persoon bygewoon kon word, maar volgens Greyling was die Covid-19-inperkings ʼn bedekte seën, “want sedert die LNR gedwing was om dit virtueel aan te bied, kon soveel meer mense by ons aansluit. Daarbenewens kry die wenners nou ook aansienlik meer blootstelling,” sê hy.

Die geleentheid sal ook later op YouTube beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.