Tradisionele leiers in Vrystaat verras deur onteieningswet te verwerp

Foto ter illustrasie, (Foto: Elliot, commons.wikimedia)

Die ANC het verlede week ʼn bloedneus in die parlement gekry toe sy poging om artikel 25 van die Grondwet te wysig nie die ondersteuning gekry het waarop hy gehoop het nie. Maroela Media het gister berig dat die EFF nie eens opgedaag het om dit te help deurvoer nie. Daarenteen het heelparty organisasies en kenners wat daarteen gekant was hulle argumente omvattend uiteengesit.

Dié omstrede wysiging om onteiening sonder vergoeding te wettig is ook verwerp deur gemeenskappe van wie dit aanvanklik nie verwag is nie.

Vrystaat Landbou (VL) het gesê dat lede verras is deur die vertoë wat tydens openbare verhore gedurende 26 tot 29 Augustus oor die hele Vrystaat gehou is om gemeenskappe die geleentheid te bied om aan die wetgewing oor die onteieningswetsontwerp deel te neem.

Die verhore is in Botshabelo, Welkom, Bethlehem en Frankfort gehou. VL se plaaslike verteenwoordigers het hierdie verhore namens lede en ondersteuners bygewoon om insette te lewer. By al hierdie verhore het die meerderheid, onder wie tradisionele leiers, die wetsontwerp verwerp op grond van die teenkanting teen onteiening sonder vergoeding.

Francois Wilken, president van VL, het gesê die resultaat van hierdie vergaderings het selfs die voorstanders van die onteieningswetsontwerp verras.

“Ons het ʼn beroep op almal gedoen wat glo in vryheid, die vrye mark en die beskerming en uitbreiding van individuele privaat eiendomsreg, om saam te staan om die wetsontwerp in sy huidige vorm teen te staan.”

Tydens die Frankfort-verhoor het Tommie Esterhuyse, adjunkpresident van die VL, aangevoer dat die wetsontwerp ekonomiese selfmoord sal wees wat huidige en toekomstige grondeienaars van hul eiendomsreg sal ontneem.

Verdere punte is na vore gebring wat die wye definisies van “openbare belang” en “onteiening” insluit. VL-verteenwoordigers het beklemtoon dat die onteieningswetsontwerp fokus op alle eiendom en nie net grond nie, wat sonder vergoeding geneem kan word. Toegang tot howe is ook beklemtoon as ʼn ononderhandelbare saak.

“Dit wil voorkom asof lede van die publiek toenemend bewus word van die gevaar daarin om die staat ʼn blanko tjek vir onteiening te gee. Die feit is dat hierdie wetsontwerp die regering en sy burokrate sal toelaat om te boelie, intimideer en bates van wetsgehoorsame burgers te steel. In hierdie verband het die geskiedenis ons geleer dat dit armes en gemarginaliseerdes is wat maklike teikens vir korrupte regerings is,” sê Wilken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hardekwas

Welgedaan aan die tradisionele leiers wat hierdie belaglike voorstel verwerp. Dit het moontlik ook te doen dat hulle van hul eie trust grond onteien sal word.

Trotse Boervrou

Uiteindelik begin hul eie mense nou deur hul sien. Bravo. Trots op julle.

Ilena

Haak Vrystaat!

Elinette

Lyk my daar is nog ‘n paar wat genoeg mieliepitte het om te weet dat VOLHOUBARE BOERDERY en VOEDSELVOORSIENING nie beteken dat jy ‘n paar varke, beeste, hoenders en dies meer op ‘n lappie grond aanhou met ‘n “bestuurder” in beheer, wat nie eens die diere behoorlik voer nie.