Trekker- en stroperverkope lyk uiters gesond

Foto ter illustrasie (Foto: Maroela Media)

Boere het rede om weer na vanjaar se oesseisoen uit te sien en ʼn mens kan dit in hulle kooppatrone waarneem.

“Altesaam 540 trekkers is in April verkoop, byna 23% meer as die 440 eenhede in April verlede jaar. Die jaarlikse totaal is nou 27% hoër as verlede jaar,” sê Jim Rankin, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-vereniging (SAAMA).

Stroperverkope het meer as verdubbel. In April is daar 43 stropers verkoop, wat 23 eenhede meer is as die 20 eenhede wat in April verlede jaar verkoop is.

“Op ʼn jaargrondslag is die verkope van stropers 29% hoër as verlede jaar, met 89 wat reeds in 2021 verkoop is, teenoor die 69 in 2020.”

Die uitstekende verkope van stropers in April dui daarop dat boere die kans wil aangryp om rekordoeste van die lande te haal.

In sommige streke is boere reeds druk besig om somergewasse te stroop. Die aanvanklike aanduidings is dat die opbrengste goed sal wees, maar in sommige gevalle, weens laat reën en vroeë ryp, kan die gewasse se gehalte wel nadelig beïnvloed word.

“Die algehele verkope van landboumasjinerie het in die derde kwartaal van 2020 begin toeneem en toon sedertdien ʼn opwaartse koers.

“Dit sal waarskynlik later vanjaar afneem. Nietemin is ramings vir die 2021-kalenderjaar bemoedigend, met die verkope van trekkers wat waarskynlik tot 15% hoër as in 2020 sal wees,” sê Rankin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.