Uitvoer-mandaryne breek rekord

Rolspelers in die sagtesitrusbedryf kan na hierdie seisoen breed glimlag. (Foto: KINNYtv, Pixabay)

Die gewerskaf in die pakhuise vir die besige sagtesitrus-seisoen het bedaar en ʼn nuwe rekord is behaal vir die uitvoervolumes wat verpak is.

Volgens die Sitruskwekersvereniging (CGA) van Suider-Afrika oortref die 30,9 miljoen in 15 kg-kartonne wat hierdie seisoen verskeep sal word, verlede jaar se volume van 23,6 miljoen kartonne. Dit is ʼn verhoging van 31%.

Sagtesitrus, om ooglopende redes ook bekend as “maklike skillers”, is mandaryne van kultivars wat van die spesies Citrus reticulata Blanco, Citrus unshiu Marcow, Citrus nobilis Lour, Citrus deliciosa Tenore en hul basters gekweek word.

Die aanvanklike skatting in Maart vanjaar was vir 30,5 miljoen kartonne.

Die streek wat dié seisoen die beste presteer het, was die Boland wat 6,3 miljoen kartonne verpak het. Dit was 19% meer as die aanvanklike skatting. Die Wes-Kaap se 5,8 miljoen kartonne was 5% bo die skatting, terwyl die Burgersfort-Ohrigstad-streek met 4,2 miljoen kartonne altesame 11% oor die aanvanklike skatting was.

Nadorcott en Tango is steeds die gewildste kultivars en het tot 15,3 miljoen kartonne vanjaar gestyg. Orri het tot 1,7 miljoen toegeneem en Leanri het op 1,6 miljoen kartonne geëindig. Novas het effens afgeneem tot 4,1 miljoen kartonne, terwyl Clementines op 4,6 geëindig het. Satsumas het tot 1,7 miljoen gedaal.

Die Sagtesitrus-fokusgroep sê hy verwag ʼn toename in Clementine- en Mandarynvolumes in die jare wat voorlê soos die jong boorde mettertyd in produksie sal kom.

“Wat markverspreiding betref, is die topvyf-aankopers in die eerste plek Europa wat met 114 000 ton die grootste mark vir Suider-Afrika is. Dit word gevolg deur die Verenigde Koninkryk met 84 000 ton, die Midde-Ooste met 65 000 ton, Noord-Amerika met 53 000 ton en Suidoos-Asië wat 42 000 ton ingevoer het,” sê Paul Hardman, waarnemende hoof van CGA.

“Soos wat met ander sitrusvariëteite ervaar is en ondanks dié rekordoes, was 2021 ʼn baie uitdagende seisoen. Opbrengste is beïnvloed deur aansienlik hoër logistieke koste en oor die algemeen, laer pryse.

“In die sagtesitrus-kategorie is daar ook aansienlik meer mededinging uit die Suidelike Halfrond en baie van hierdie mededingers verhoog toenemend hul aanbod,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Baie goed ,baie geluk is dit waarom ons net die kan koop wat van die bome afval en opgetel en verpak word vir die Suid-Afrikaanse mark?.

kaplyn

Ek is saam met die sitrusboere bly. Ek hetnou al 9 keer van die kartonne gekoop, en dit is so lekker. Ek sien daar is nog hiervan op die rakke beskikbaar. Sal beslis nog koop.

madels

So bly vir die sitrusboere. Ons gee ook ondersteuning aan plaaslike klein boere rondom ons