US sluit opleidingskontrak met wynbedryf  

Foto ter illustrasie. (Foto: Klaus Stebani, Pixabay)

Die Welgevallen-proefplaas in Stellenbosch het in 2019 nuwe wingerde bygekry toe nagenoeg 4,5 ha van opleidingswingerde uitgekap en in 2020 met ses uiteenlopende wingerdblokke vervang is. Hierdie aanplantings vorm deel van ʼn spesiale projek wat in samewerking met twee bedryfsorganisasies in die wynbedryf van stapel gestuur is. Dit staan bekend as Vinpro se Gen-Z-wingerdprojek en gaan onderskeidelik op wynbereiding, prieelstelsels, tradisionele en nuwe wyndruifsoorte, klone en onderstokke, besproeiing, snoeistelsels en tafel- en droogdruifverbouing fokus.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Agriwetenskappe finansier die projek en het die wynbedryfliggaam Vinpro aangestel om dit oor die volgende drie jaar te implementeer. Die projek het ten doel om kennisoordrag in die Suid-Afrikaanse wynbedryf te bevorder deur praktiese demonstrasies en wingerdproewe.

“Die Welgevallen- opleidings- en navorsingswingerde wat in samewerking met die US se Departement Wingerd- en Wynkunde staangemaak is sal nie net aan studente en navorsers van die universiteit ʼn uitnemende opleidings- en navorsingsplatform bied nie, maar is ook ʼn uitstekende platform vir kennisoordrag na die breër wynbedryf,” het prof. Danie Brink, dekaan van die US se Fakulteit Agriwetenskappe, tydens die amptelike bekendstelling in Stellenbosch gesê.

Op elkeen van die ses blokke gaan ʼn ander kursus aangebied word.

Die wynbereidingsblok bestaan uit 19 wit- en rooiwyndruifkultivars wat deel vorm van die voorgraadse wingerd- en wynwetenskapstudente se kurrikulum. In die prieelstelselblok word een druifsoort, chenin blanc, op 19 verskillende prieelstelsels opgelei en as bosstok verbou om die onderskeie prieelstelsels en die effek van stokspasiëring op wortelverspreiding te demonstreer.

’n Wingerdblok gewy aan besproeiingsbestuur is noukeurig deur die projek- en navorsingspan van die Departement van Wingerd- en Wynkunde ontwerp, spesifiek met die oog op waterbestuurnavorsing. Die ander wynbedryfligaam, Winetech, gaan hierdie projek in die toekoms finansier. Die kultivarblok, wat uit meer as 80 druifsoorte bestaan, vertoon die uiteenlopende kenmerke van verskillende kultivars, klonevariasies en onderstokke.

Nog ʼn wingerdblok demonstreer tien uiteenlopende snoeistelsels, insluitend die guyot-, kortdraer-, cazenave-, boks-, gemeganiseerde en die Italiaanse simonit en sirch-snoeistelsels.

ʼn Tafel- en droogdruifblok is die eerste in sy soort op dié perseel en beskik oor meer as 20 tafel- en droogdruifvariëteite wat op ses verskillende prieelstelsels opgelei word.

“Die nuwe opleidings- en navorsingswingerde, wat in oorleg met die Departement van Wingerd- en Wynkunde se kurrikulum ontwerp is, stel studente aan soveel moontlik wingerdbestuurspraktyke bloot en bied uitstekende navorsingsgeleenthede,” sê Talitha Venter, dosent in die departement wingerd- en wynkunde wat die projek saam met die Gen-Z-span oorsien. “Huidige studente ervaar alle prosesse verbonde aan wingerdvestiging eerstehands, terwyl geslagte vorentoe voordeel sal trek uit goed beplande en goed ontwikkelde wingerde.”

Die wingerde sal ook in die toekoms benut word vir opleiding en kennisoordrag aan produsente en wingerdwerkers, en aan insetverskaffers die geleentheid bied om nuwe tegnologie of produkte op hierdie perseel te evalueer en demonstreer.

Rico Basson, besturende direkteur: Vinpro; Francois Viljoen, projekleier:  Vinpro’s Gen Z-wingerdprojek; Anton Smuts, voorsitter: Vinpro; prof. Danie Brink, Dekaan: Fakulteit Agriwetenskappe en prof. Stan du Plessis, uitvoerende bedryfshoof, Universiteit Stellenbosch. (Foto: Anton Jordaan)

Groot toekomsplanne

“Die Gen Z-wingerdprojek het ten doel om demo-persele regoor die wynbedryf se gebied te vestig waarvan die tegnologie-oordrag in die langtermyn vir die wynbedryf wesenlike waarde sal inhou,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen Z-projek.

“Ons betrokkenheid as projekleiers by die vestiging van hierdie doelgerigte wingerdblokke by Welgevallen was daarom ʼn natuurlike volgende stap om studente en navorsers van die onderskeie akademiese instansies, maar ook die breër wynbedryf, insluitend wyndruifprodusente, wingerdboukundiges, wynmakers en wingerdwerkers, aan die jongste tegnologie, wingerdpraktyke en plantmateriaal bloot te stel en sodoende ons gesamentlike kundigheid na ʼn volgende vlak te neem.

“Hierdie projek sou nie moontlik wees sonder waardevolle ondersteuning van die bedryf in terme van die skenking van plantmateriaal, pale, draad, besproeiingsmateriaal en meer, asook hul kundigheid en tyd nie. Ons bedank elkeen vir hul bydrae en moedig graag enige ander instansies aan om betrokke te raak,” sê Viljoen.

Afgesien van die opleidings- en navorsingswingerde word 16 ha wingerde vir kommersiële doeleindes oor die volgende drie jaar gevestig, waarvan die aanplantings later vanjaar afskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

Interessante projek in die wynbedryf!
Baardman is reg oor die maskers op ‘n foto.
Dis egter meer tragies as snaaks dat gesonde verstand verdwyn het toe ‘Die Virus’ verskyn het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.