Valley laat dit reën terwyl die son skyn

Valley Besproeiing is ‘n ou hand in die spilpuntbedryf en reeds goed gevestig in Suid-Afrika en verder noord.

Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening is net so wispelturig soos die reën. Vir ʼn boer wat juis spilpunte aangebring het om sy gewasse volgens bestelling te kan benat, besorg dit baie hoofbrekens, want spilpunte is nutteloos sonder elektrisiteit.

In ʼn era waarin verskeie vorme van alternatiewe energie, soos sonkrag, ontwikkel en verbeter word, is dit dus vanselfsprekend dat die landbousektor ook die geleentheid sal aangryp. Valley Besproeiing het die netelige situasie waarin Suid-Afrikaanse boere verkeer, raakgesien en die ekstra myl geloop. Nou kan boere danksy dié hulp ook daardie verafgeleë landerye besproei.

Valmont, die houermaatskappy vir Valley Besproeiing, het die Brasiliaanse sonkragonderneming, Solbras, in 2018 bekom en by die Valley Besproeiing-handelsnaam ingelyf. Tesame met daardie kundigheid en ervaring kan Valley nou holistiese oplossings vir elektrisiteitsbehoeftes op elke plaas verskaf.

Valley Besproeiing het die Brasiliaanse sonkragmaatskappy, Solbras bekom wie se vakmanskap loshande aan Valley se gehaltebeheermaatreëls voldoen.

Valley maak dit baie maklik vir enige boer om die sonkragroete te volg. Wanneer jy gereed is om jou boerdery van die kragnetwerk te begin speen, kan jy jou naaste Valley-agent bel. Hy sal uitkom om ʼn behoeftebepaling op die plaas te doen. Hierdie verslag word na die ingenieurs by Valley gestuur wat dan ʼn maakpasstelsel vir jou plaas en jou behoeftes ontwerp. Jou Valley-agent sal vervolgens al die sonkragkomponente oprig en installeer volgens Valley se streng gehaltebeheerstandaarde.

Francois Griesel, Valley se streeksverkoopsbestuurder vir Suider- en Oos-Afrika, sê Valley is nie net ʼn spilpuntsmous nie. “Ons bied werkbare, volhoubare oplossings vir boere. Ons kan ʼn boer se spilpunte met sonenergie aandryf, of selfs sy hele plaas omskakel om met sonkrag te werk,” verduidelik hy.

Boere kan Valley se kleiner sonkragstelsel laat installeer om net die spilpunte aan te dryf, of hulle kan die hele plaas van elektrisiteit voorsien met een van Valley se groot stelsels.

Hy sê hoewel die ontwerpe deur die voormalige Solbras-ingenieurs gedoen word, is alle komponente van die sonkragstelsel onderhewig aan Valley se streng gehaltestandaarde. “Boere kan dieselfde gehalte in Valley se sonkragstelsels verwag as waaraan hulle in die Valley-besproeiingstelsels gewoond is.”

Die vernuftige proses waarmee sonlig na bruikbare sonkrag omgeskakel word, werk soos volg:

  • Sonpanele word vervaardig uit silikoon wat uit kwartssand verkry word. Elemente soos boor en fosfor word in ʼn paar prosesse bygevoeg voor die paneel gereed is om die straling van die son in elektrisiteit om te skakel.
  • Die elektrisiteit vanaf die son word eers deur ʼn laaikontroleerder gestuur om dit in ʼn bruikbare formaat te “verpak”.
  • ʼn Omskakelaar skakel die krag van gelykstroom (DC) na wisselstroom (AC) om, want bestaande elektriese apparate soos pompmotors benodig wisselstroom om te kan funksioneer.
  • Die oortollige sonenergie wat nie tydens spitstye gebruik word nie, kan in batterye gestoor word om snags te gebruik.

Sonenergie bied baie voordele vir die landbousektor as dit gebruik word om ʼn besproeiingstelsel aan te dryf:

  • Gewasse benodig meer water as die son skyn, juis wanneer sonpanele die doeltreffendste is.
  • ʼn Boer spaar baie aan elektrisiteitskoste omdat sonkragstelsels vinnig goedkoper en stabieler as die kragnetwerk word.
  • Die afhanklikheid van fossielbrandstowwe word verminder of uitgeskakel.
  • Waar elektriese toevoer nie bestaan ​​nie, kan ʼn sonkragspilpunt opgerig word.

Uit ʼn finansiële oogpunt bied Valley reeds ʼn maklike uitweg vir boere. Om die spilpunte bekostigbaar te maak, het hy met Standard Bank ʼn samewerkingsooreenkoms gesluit om die beste pryse en finansiering vir Suid-Afrikaanse boere te bied.

Dié enorme sonkragstelsel is deur die ingenieurs van Valley se nuutverworwe sonkragonderneming, Solbras, gebou. Elke komponent is egter onderhewig aan Valley se gehaltestandaard.

Valley Besproeiing is in Nigel gevestig, maar sy agente is oor die hele Suid-Afrika, asook Suider- en Oos-Afrika versprei. Valley-boere het reeds oor die afgelope 50 jaar gewoond geraak aan die uitstekende diens wat Valley en sy agente oor die hele streek lewer. Hulle help met alles rakende die installering van ʼn besproeiingstelsel, van beplanning tot bou- en naverkoopdiens.

Vir meer inligting, nader Francois Griesel by +27 (0)67 412 9089 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.