Vandag is D-dag vir watergebruiksregte

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die saak rakende die oordrag van watergebruiksregte word vandag in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein aangehoor.

Die registrateur van dié hof het die appèlverhoor vir die volgende drie sake geskeduleer:

  • Casper Johannes Lotter N.O. en ander versus die minister van water en sanitasie en ander;
  • Francois Johannes Gerhardus Wiid N.O. en ander versus die minister van water en sanitasie en ander;
  • en die Suid-Afrikaanse vereniging vir watergebruikersverenigings en ander versus die minister van water en sanitasie en ander.

Die appèlsake volg ná ʼn uitspraak deur die hooggeregshof in Pretoria op 19 Junie verlede jaar, naamlik dat die oordrag van watergebruiksregte nie toelaatbaar is nie, aangesien dit neerkom op die privatisering van water.

Die vyf regters wat vandag in ʼn volbank sit, is regters Maya, Makgoka, Kgoele Hughes en Plasket. Die hofsaak word via ʼn webinaar gehou en die uitspraak sal voorbehou word.

Janse Rabie, hoof van Agri SA se sentrum van uitnemendheid: natuurlike hulpbronne, het aan Maroela Media gesê hy is maar altyd opgewonde en vol verwagtinge in so ʼn hofsaak.

“Ons gaan vandag daarop fokus om die dringendheid van hierdie uitspraak te beklemtoon, want die saak sloer al baie lank. Daar is tans geweldig baie regsonsekerheid vanweë die vreemdheid van die vorige uitspraak.”

Hy sê die hooggeregshof het inderwaarheid beslis ten gunste van onteiening sonder vergoeding, “want dit beteken dat jy jou watergebruiksregte slegs aan die staat mag oordra, anders as enige gewone verkoopstransaksie.

“Wanneer ʼn boer nie sy watergebruiksregte aan sy buurman mag oordra in byvoorbeeld ʼn ekstreme geval waar hy alles verloor het en nie meer water kan gebruik nie, kan dit hom ernstig benadeel. Dit sal ʼn radikale invloed op die volhoubaarheid en doeltreffendheid van boerderye hê.

“Dít is inderwaarheid ʼn ingryping op almal se watergebruiksregte.”

Volgens Agri SA verklaar die Nasionale Waterwet dat Suid-Afrika se waterhulpbronne aan al die mense behoort, met die minister van waterwese as openbare trustee.

Artikel 25(1) van die wet maak voorsiening vir die oordrag van regte vir die gebruik van besproeiingswater vanaf een persoon na ʼn ander, en vanaf een eiendom na ʼn ander, onderhewig aan streng voorwaardes, deur waterbestuursinstellings.

Artikel 25(2) van die wet maak voorsiening vir die prysgewing van ʼn spesifieke watergebruiksreg vir dieselfde hulpbron ten gunste van ander grond/eiendom ten einde ʼn watergebruikslisensie-aansoek te fasiliteer.

Agri SA, wat die Lotter- en Wiid-sake met geld uit die Vrywillige Waterfonds finansier, asook die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (SAAFWUA) meen dat die bepalings in artikel 25 van die Nasionale Waterwet uiters noodsaaklik is vir doeltreffende watergebruik.

“Agri SA meen dat ʼn beslissing in hierdie saak, wat reeds sedert 2018 sloer en ontwrigting in die landbousektor veroorsaak, lank uitstaande is. Ons sien uit daarna dat die saak weer aangehoor word,” sê Rabie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.