Veeartse deurslaggewend tot meer landbou-uitvoere

(Argieffoto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Die Wes-Kaap prioritiseer vanjaar veeartsenydienste en bioveiligheid, sê Ivan Meyer, LUR vir landbou in die provinsie.

Meyer het vandeesweek afgevaardigdes van 48 lande toegespreek by die 39ste kongres van die Wêreldveeartsenyvereniging wat vanjaar in Kaapstad aangebied is.

“Die Wes-Kaap se staatsveeartse is die middelpunt van die provinsie se pogings om landbou-uitvoere te verhoog. Die Wes-Kaap is verantwoordelik vir 55% van Suid-Afrika se primêre landbou-uitvoere en byna die helfte hiervan is lewende hawe of lewendehaweprodukte,” sê hy.

Die provinsiale landboudepartement se veeartsenydienste het ook onlangs ʼn nuwe aanlyn stelsel, die Export Certificate Office System (ECOS), bekend gestel om uitvoersertifikate te verwerk.

Ivan Meyer, LUR van landbou in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

“Die ECOS bied aan die klant ʼn 24-uur-uitvoerfasiliteringsdiens wat die proses om aansoek te doen vir ʼn uitvoersertifikaat van dae tot minute verminder. Die platform vergemaklik die uitvoerproses en verseker voldoening aan internasionale standaarde. Uitvoere dra by tot buitelandse valutaverdienste en ʼn 5%-toename in uitvoere gaan lei tot die skep van sowat 22 000 nuwe werksgeleenthede in die Wes-Kaapse landbousektor,” sê Meyer.

Die provinsie het ook onlangs die R30 miljoen-opknappingsprojek aan die fasiliteite van die provinsiale veeartsenylaboratorium afgehandel en die geakkrediteerde en gesertifiseerde laboratorium het op 1 April sy deure heropen.

Met verwysing na die verskeping van lewende hawe, ʼn kwessie wat die afgelope ruk skerp in die kollig was, sê Meyer die “onaanvaarbare toestande waaronder lewende diere vervoer word” dui op ʼn behoefte om te oorweeg of daar ʼn verbod op die vervoer van lewende hawe geplaas moet word. Dit dui ook op die belang van voortgesette bioveiligheid.

“Organisasies soos die Wêreldveeartsenyvereniging en die Suid-Afrikaanse Veeartsenyvereniging gaan ʼn sleutelrol speel in die versterking van ons reaksie op die uitdagings wat die beroep en ons sektor in die gesig staar.

“Ons moet dierewelstand verdedig en bioveiligheid bevorder,” sê Meyer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.