Veediewe aktiewer tydens feestyd

Foto ter illustrasie (Foto: SAPD)

TLU SA het boere aangeraai om gedurende die feesseisoen bykomende maatreëls in te stel om veediefstal te voorkom.

Die landbou-unie het ook gewaarsku dat boere nie deur die statistieke, wat tans wys dat veediefstal afneem, geflous moet word nie.

“Misdaadstatistiek vir 1 April tot 30 Junie vanjaar wys ’n afname van 8% in veediefstal, maar dit is oëverblindery,” sê Mort Mortassagne, TLU SA se voorsitter van hul veiligheidskomitee.

“Ofskoon daar in ses provinsies afnames in veediefstal was, het die gevalle in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga toegeneem. In geheel beskou, moet dit egter in ag geneem word dat boere die laaste tyd al hoe meer vertroue in die polisie verloor het, en nie meer sake aanmeld nie uit pure moedeloosheid.

“Baie van die polisielede is boonop deel van veediefstalsindikate. Dit is ’n groot en goed georganiseerde bedryf met groot geld op die spel.

“Tans word net sowat 20% van die sake aangemeld en ’n skamele 4% van die sake word suksesvol afgehandel. Kanse om die boewe vas te trek is reeds so skraal en dan is die forensiese werk op veediefstal nie op standaard nie. Minstens 400 000 DNS-monsters op die databasis vir ontleding is uitstaande en intussen steel die boewe voort.”

Mortassagne voeg by dat 2% tot 5% van kalfies in Suid-Afrika gesteel word. “Dit is tans ’n baie warm streek vir veediefstal. My kalfies het al 10 brandmerke!”

Ronnie Schilling, TLU SA se streeksbestuurder: Oos en Natal, sê dit is algemeen bekend dat die brandmerk van vee ingevolge Wet 6 van 2002 verpligtend is in Suid-Afrika. “TLU SA neem kennis van die stappe wat die polisie doen om dit toe te pas en is uit die aard van die saak dankbaar. Ons ondersteun die polisie waar ons kan.

“Is dit te veel gevra dat die regering en die polisie ’n groter impak moet maak in die bekamping van veediefstal? Is die straf vir veediefstal enigsins ’n afskrikmiddel? Dit demoraliseer boere as hulle nie op hul eie of met die polisie se hulp impak kan maak op die probleem nie.”

Schilling sê ook dat die aantal vee wat op een slag gesteel word, ekstra kommerwekkend is.

“Boere gaan moet bereid wees om gedurende die feesseisoen bykomende maatreëls in te stel om diefstalle te voorkom. Hulle moet – en dit is van kardinale belang – by hulle plaaslike veiligheidstrukture inskakel. Sou hulle sake aanmeld, moet hulle deurlopend met die ondersoekbeampte kontak hou tot die saak deur die hof gevoer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Werner ·

Wel met die brandstof prys wat nou deur die dak skiet gaan kospryse volg.Dink veediefstal gaan soos reeds dwarsdeur die jaar n eskaleer

Harley Davidson ·

So is baie polisie lede dan nie betrokke by veediefstal nie?

Frederik C ·

Ek dink daar is veediefstalsindikate wat NET uit polisielede bestaan. Eintlik baie veilig……..vir hulle.

SomeOne ·

ek glo dat 99,9% van alle staats amptenare het iewers vingers in diefstal, bedrog, geld wassery, ens.,

SjN ·

Ek het kalwers van n boer so 15 km van my af terug gekry, my drade was geknip aangesien hul deur my grond aangejaag was, ek self het spore gevolg en op swarte se grond in die drukgang gekry, tags reeds verwyder en net daar op grond gelos, die speurder laat kom en reken my die eienaar het mos dit terug gekry, hoekom wil hy n saak open, die saak is deur hom verder opgeneem, nog niks gebeur en die lid is intussen bevorder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.