Veeskool bring wêreldkennis na SA boere

By die Aldam Veeskool word hoogs-gespesialiseerde inligting oor veeteelt deur voorste kenners in die wêreld oorgedra. (Foto: Verskaf)

Die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF) se Veeskool vier vanjaar sy 13de bestaansjaar en gaan soos vorige jare by die Aldam-vakansieoord in die Vrystaat aangebied word.

Tydens hierdie elite-geleentheid, met vanjaar se tema “Belangrike suksesfaktore vir ’n inklusiewe en winsgewende lewendehawe-waardeketting”, word vooraanstaande internasionale en plaaslike kenners genooi om die jongste praktyke, nuus en navorsing oor die veebedryf met boere te deel.

Soos in die verlede fokus die LRF-Veeskool op produksiekwessies om boere meer mededingend te maak. “Om ’n [volhoubare] inkomste uit lewende hawe te verdien, is dit belangrik om enige moontlike bedreigings en geleenthede wat internasionale markte bied, te verstaan. Daarom is vername sprekers weereens genader om hul kennis by die Veeskool te deel,” sê dr. Michael Bradfield, hoof‑ uitvoerende beampte van die LRF.

Van die internasionale kenners wat gaan deelneem, is:

Dr. Dong Wang van China Marketing Solutions. Hy het meer as 15 jaar se internasionale ervaring in die landbousektor. Sy onderneming is in 2016 gestig en het gegroei tot een van die grootste en sterkste verti­kaal-geïntegreerde vleisuitvoerders ter wêreld, met ’n fokus op markte in China en Viëtnam.

Mnr. Jason Strong, hoof van Meat and Livestock Austra­lia, het tydens sy vorige deelname aan die Veeskool ’n blywende indruk gelaat met sy kennis oor kritieke suksesfaktore vir groei binne die lewendehawe-bedryf. Vanjaar praat hy oor Australië se strategie om interna­sionale beesvleismarkte te teiken.

Prof. Helmke von Bach, landbou-ekonoom aan die Universiteit van Namibië, en mnr. Paul Strydom, hoof­bestuurder van die Namibiese Vleisraad, sal onderskei­delik praat oor dié land se strategie om internasionale markte te teiken, en die suksesverhaal van die FAN Meat-naspeurbaarheidstelsel.

Aanbiedings deur Suid-Afrikaanse sprekers sal gelewer word deur onder meer dr. Vlok Ferreira, nasionale tegniese bestuurder van herkouers by Molatek. Hy gaan praat oor die uitgroei van speenkalwers en lammers vir bykomende wins.

Dr. Fanie Steyn, direkteur van Ramsem/Absolute Genetics, sal die bespoediging van die genetiese proses deur nuwe voortplantingstegnologie bespreek en dr. Mike Peel, van die LNR se Diereproduksieinstituut, sal praat oor wat hy geleer het uit dekades se navorsing in weidingsbestuur.

Vanjaar sal die Veeskool ’n hibriede geleentheid wees wat virtueel of in persoon bygewoon kan word.

Diegene wat die Veeskool in persoon bywoon, sal ook die kans kry om ’n toonaangewende skaap- of beesonderneming te besoek, waar van die nuutste tegnologieë in die bedryf vertoon sal word. Dié demonstrasies sluit in die outomatiese skeiding van skape en die werking van die GrowSafe-voertoetsstasie.

Besoek gerus dié webwerf vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.