Veeteeltkursus dek jongste tegnologie

Veeboere moet so nou en dan hulle kennis opskerp en vertroud raak met die jongste tendense. Daar is ook min dinge so gerieflik soos ʼn tweedagkursus vir aspirant-veeboere om die grondbeginsels van veeteelt onder die knie te kry.

Die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) het onlangs in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat (UV) hulle jaarlikse geakkrediteerde diploma in veeteelt aangebied.

Die tweedagkursus het onder meer die grondbeginsels van diereteelt gedek, van kontemporêre groepe tot genomika en die nuwe DNS-pyplyne wat by die rasgenootskappe ingestel is.

Die kursus is fisiek deur 12 mense by die Paradys-proefplaas naby Bloemfontein bygewoon, maar ook aanlyn aangebied, tot so ver as in Zimbabwe.

“Ons het besluit om vanjaar se kursus vir aanlyn bywoning oop te stel en het ’n bykomende 30 mense gehad wat die kursus via Zoom bygewoon het,” sê Izaan du Plooy, tegniese beampte by LRF. “Ons is by die Zimbabwe Herd Book geaffilieer en hulle het die geleentheid vir deelnemers gebied om ook die kursus by te woon. ’n Aantal van hulle het die kursus saam by ’n lokaal in Harare bygewoon.

Die kursusgangers by die Paradys-proefplaas buite Bloemfontein.

“Ons bied die kursus elke jaar in November aan, maar moes dit aanskuif weens die Covid-19-inperkingsregulasies. Ons het vanjaar baie meer kursusgangers gehad en ons dink daaraan om dit vervolgens weer hierdie tyd van die jaar te hou,” sê Du Plooy.

Die kursusgangers in Harare.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.