Verhandel graan goedkoop en maklik op TonnUp

Foto ter illustrasie (Foto: Maroela Media)

ʼn Groot haakplek in hedendaagse graanverhandeling is vertraagde uitlaaitempo’s by sommige silo’s, asook uitbetalings wat nie altyd plaasvind wanneer dit moet nie. Die boete wat die JSE onlangs vir ʼn silo in Bloemhof opgelê het vir sertifikate wat uitgereik is vir graan wat nie bestaan nie, het ook gewys dat die tyd ryp is vir ʼn alternatief.

ʼn Aanlyn handelsplatform, TonnUp, is onlangs bekendgestel wat daarop gemik is om die plaaslike kommoditeitsmark op te skerp deur boere in staat te stel om hul landbouprodukte binne ’n gestruktureerde en deursigtige omgewing te bemark en te verkoop.

“Dié platform sal boere toelaat om beter beheer oor die prysstrategie, bemarking en verspreiding van hul produkte uit te oefen en boonop teen ’n geringe deel van die koste van bestaande meganismes. Dit sal kopers en verkopers byeenbring op ’n manier wat boere in staat stel om maksimum waarde vir hul produkte te kry, kopers te bemagtig om meer ingeligte koopbesluite te neem, en die mark deursigtiger en doeltreffender te maak,” sê Stephen Krüger, direkteur van TonnUp, wat self ’n mielieboer by Viljoenskroon is.

Die minimum hoeveelheid graan wat op hierdie platform verhandel kan word, is 100 ton en daarna in inkremente van 10 ton. “Tans bied TonnUp net toekomskontrakte, waarin die koper en verkoper oor ʼn prys en toekomstige afleweringsdatum kan onderhandel, maar ons is besig om ook lokomarkte (spot markets) te ontwikkel, sodat die handelaars fisieke sertifikate kan verhandel,” sê Dylon Woest, TonnUp se hoof van stelsels en bedryf.

“Die JSE dek tans slegs 27% van die verhandelings op die markte en ons is daar om die gaping te vul. Ons werk dus nie teen die JSE nie, ons werk inderwaarheid saam met hulle,” sê hy.

TonnUp wil soos ’n wafferse Airbnb of Uber ook van boere se private silo’s gebruik maak om die platform meer omvattend te maak. “Ons is nou in die proses om boere te nader vir hulle eie stoorfasiliteite, maar dit beteken nie hulle kan net opspring en hulle silo’s beskikbaar stel nie. Dié silo’s moet eers geïnspekteer en geakkrediteer word voor dit op die stelsel geregistreer kan word. Tans gebruik ons al die silo’s wat deur die JSE goedgekeur is,” sê Woest.

“Boere is die beginpunt van die voedselwaardeketting, maar het die minste vermoë om pryse vir hul produkte te beding. Hulle neem al die risiko’s en skep die waarde. Ons dink daar is ’n werklike geleentheid om die sluier op die kommoditeitsmark te lig en die boere te help om die beste pryse vir hul produkte te kry,” sê Krüger.

Die TonnUp-platform sal boere ook toelaat om met hul makelaars of silo-eienaars te konsulteer om hul produkte aan te bied teen ʼn gewenste pryspunt. Kopers – soos meulenaars en verwerkers – sal op alle geregistreerde afleweringspunte op hierdie besendings kan bie, of daar reeds voorraad aangebied word al dan nie. ’n Verdere pluspunt vir die koper is dat hulle ook kan bie vir ’n voorkeurafleweringsplek vanwaar hulle hul produk kan ontvang, indien hul bod suksesvol is.

Een van die grootste haakplekke in huidige lokomarkte is die vertraging van betalings. TonnUp beoog om dit te verwyder deur ’n “handel plus 2” (T+2)-werksdagskikkingsiklus. Terwyl silo-eienaars steeds die gehalte en hoeveelheid van die fisieke voorraad op die opbergingsertifikate sal waarborg, vergemaklik TonnUp die kontantvloeiproses sodat verkopers hul betalings, en kopers hul voorraad, vinnig en doeltreffend ontvang.

Terwyl TonnUp se aanvanklike fokus op graan is, beplan hy om vinnig uit te brei na ander kommoditeite, waaronder soja, sorghum, oliekoek en selfs kunsmis. Terwyl soortgelyke platforms goed gevaar het in oorsese markte, is die TonnUp-platform ’n eerste vir die Suid-Afrikaanse landboubedryf.

“Uiteindelik gebruik ons landbou-tegnologie om boere in staat te stel om hul eie produkte teen ’n fraksie van die huidige koste te bestuur, en van enige plek af op enige tydstip,” sluit Krüger af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.