Verkeerde metodiek wys werksgeleenthede in landbou krimp

finansies-sakrekenaar

Foto ter illustrasie. (Foto: Stevepb, Pixabay.com)

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het ʼn ontledingsverslag uitgereik wat daarop dui dat die landbousektor een van die min bedrywe is wat verlede jaar meer geleenthede vir werknemers geskep het. Tussen 2020 en 2021 het dit ʼn netto groei van 2% getoon.

Dié verslag is in reaksie op Statistieke SA se onlangse laatverslag vrygestel, wat ʼn regstelling op hul kwartaallikse werksmagopname (QLFS) was, nadat nuwe inligting van Statistieke SA se landboupeiling bekom is.

Voorheen het Statistieke SA verkeerdelik aangedui dat daar 70 000 werksgeleenthede verloor is toe 2019 en 2020 se derde en vierde kwartaal met mekaar vergelyk is.

Louw Pienaar, ʼn senior analis by BFAP, het aan Maroela Media verduidelik hoe dié fout ingesluip het en wat die werklike syfer is.

“Die verkeerde syfers kan toegeskryf word aan die verandering in die metodologie waarmee opnames tydens die Covid-19‑inperkings gedoen is. “In plaas daarvan dat die veldwerkers na die plase uitgegaan het om opnames te doen, het hulle die plase gebel, wat nie ʼn doeltreffende manier was nie,” sê hy.

“Ek het besef dat dit nie strook met die sterk ekonomiese groei in die landbousektor op daardie tydstip nie.”

Inderwaarheid het die werkers in landbou vanaf 2020 tot 2021 met 2% toegeneem, waartydens 38 000 nuwe werksgeleenthede geskep is. Oor die 12 maande van 2021 het die aantal werkers met 3,8% toegeneem.

Wanneer bosbou en vissery ingesluit word, was daar ʼn 7%‑groei as 2020 en 2021 se vierde kwartale met mekaar vergelyk word.

Die ander bedrywe wat ook meer werk geskep het, was vervoer, die finansiële sektor en private huishoudings wat meer huishulpe aangestel het.

“BFAP wil dit benadruk dat die landbou-indiensnemingstatistieke van die QLFS herbereken moet word, veral vir die tydperk nadat die pandemie begin het. Hier is bewyse dat indiensneming toegeneem het weens landbou se sterk groei oor die afgelope twee jaar. Dit beklemtoon weereens die belangrike bydrae wat die landbouwaardeketting tot werkskepping maak, veral wanneer werkloosheid in die meeste ander sektore toeneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Geen opname wat deur SSA gedoen word is geloofwaardig nie en dit sluit vanjaar se sensus in. Ek het nog nie 1 enkele sensus werker in ons woongebied opgemerk nie. Net so is die inflasie syfer ook heeltemal onakuraat. Die landbou sektor sal sekere tye van die jaar wel toon dat daar meer werk geskep is bv tydens plant, snoei en oestyd wanneer daar van seisoenwerkers gebruikgemaak word, dus hang dit af van wanneer die opname gedoen is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.